EKSODUS 5:1-21

EKSODUS 5:1-21 Bybel vir almal (ABA)

Moses en Aäron het na die farao toe gegaan en hulle het vir hom gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Jy moet my volk laat gaan sodat hulle vir My 'n fees kan vier in die woestyn.’ ” Maar die farao het gesê: “Wie is die Here en hoekom moet ek na Hom luister? Hoekom moet ek die Israeliete laat gaan? Ek ken nie die Here nie en ek sal ook nie die Israeliete laat gaan nie.” Moses en Aäron sê toe: “Die God van die Hebreërs het aan ons verskyn. Laat ons asseblief in die woestyn ingaan, so ver soos 'n mens in drie dae kan loop. Ons moet vir ons God die Here offers gaan bring, anders sal Hy ons straf, Hy sal siektes en oorlog stuur.” Maar die koning van Egipte het vir Moses en Aäron gesê: “Hoekom neem julle die mense weg van hulle werk? Hulle moet gaan werk. Hier is baie Israeliete in die land. Julle moet hulle nie laat ophou werk nie!” Die farao het daardie dag vir die mense wat die slawe oppas, en vir die voormanne gesê: “Julle moenie vir die volk strooi gee om bakstene te maak soos voorheen nie. Hulle moet self strooi gaan optel, en julle moet vir hulle sê hulle moet soveel stene maak soos voorheen. Hulle mag nie minder stene maak nie. Hulle is lui, dit is hoekom hulle aanhou sê hulle wil vir hulle God offers gaan bring. Julle moet die werk swaar maak vir die manne, sodat hulle kan werk en nie tyd het om te luister na leuens nie.” Die slawe-oppassers en die voormanne het toe vir die Israeliete gaan sê: “Die farao het gesê hy sal nie meer vir julle strooi gee nie. Julle moet self strooi gaan soek, maar julle werk word nie minder nie.” Die Israeliete het oral in Egipte strooi gaan soek. Die slawe-oppassers het gesê hulle moet vinnig werk. Hulle het gesê: “Julle moet elke dag soveel stene maak soos toe ons vir julle die strooi gegee het.” Die slawe-oppassers het die voormanne van die Israeliete geslaan en gesê: “Hoekom het julle nie vandag soveel stene gemaak soos voorheen nie?” Die voormanne van die Israeliete het toe by die farao gaan kla en gesê: “Hoekom doen jy dit met jou werkers? Jy gee nie vir ons strooi nie, maar die slawe-oppassers sê vir ons: ‘Maak stene!’ Hulle slaan ons, maar dit is jóú mense wat verkeerd is.” Maar die farao het gesê: “Julle is lui. Julle wil nie werk nie. Dit is hoekom julle aanhou sê julle wil vir die Here offers gaan bring. Nou sê ek: Gaan werk! Hulle sal nie vir julle strooi gee nie, maar julle moet soveel stene maak soos toe ek vir julle strooi gegee het.” Die voormanne van die Israeliete het gesien hulle het 'n groot probleem, want hulle kon nie soveel stene maak soos voorheen nie. Toe die voormanne van die Israeliete weggaan van die farao, kry hulle vir Moses en Aäron wat vir hulle gewag het. Die voormanne het vir hulle gesê: “Ons bid dat die Here julle moet straf, want julle het ons naam sleg gemaak by die farao en by sy amptenare. Julle het hulle kwaad gemaak, en nou wil hulle ons doodmaak.”

EKSODUS 5:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN daarna gaan Moses en Aäron en sê vir Farao: So spreek die HERE, die God van Israel: Laat my volk trek, dat hulle vir My 'n fees kan hou in die woestyn. Maar Farao antwoord: Wie is die HERE na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken die HERE nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie. Toe sê hulle: Die God van die Hebreërs het ons ontmoet; laat ons tog drie dagreise ver die woestyn intrek en aan die HERE onse God offer, sodat Hy ons nie tref met die pes of die swaard nie. Maar die koning van Egipte antwoord hulle: Moses en Aäron, waarom hou julle die volk van hulle werk af? Loop na julle werk toe. Verder het Farao gesê: Kyk, die volk van die land is alreeds baie; en julle wil hulle laat ophou met hulle werk? Daarom het Farao dieselfde dag aan die drywers onder die volk en die opsigters bevel gegee en gesê: Julle moet die volk geen strooi meer gee om bakstene te maak soos gister en eergister nie. Laat hulle self gaan en vir hulle strooi versamel. Maar die hoeveelheid bakstene wat hulle gister en eergister gemaak het, moet julle hulle oplê en niks daarvan verminder nie; want hulle is lui. Daarom roep hulle en sê: Laat ons gaan, laat ons offer aan onse God! Laat die werk swaar druk op die manne, dat hulle daarmee besig kan wees en nie op leuenagtige woorde let nie. Toe het die drywers van die volk en die opsigters uitgegaan en tot die volk gespreek en gesê: So spreek Farao: Ek gee julle geen strooi nie. Loop haal self vir julle strooi waar julle dit kan kry; maar van julle werk word niks verminder nie. Toe het die volk in die hele Egipteland rondgegaan om stoppels te versamel vir strooi. En die drywers het aangedryf en gesê: Voltooi julle werk volgens die eis van elke dag net soos toe daar strooi was. En die opsigters van die kinders van Israel wat Farao se drywers oor hulle aangestel het, het slae gekry, met die woorde: Waarom het julle gister en vandag nie soos tevore julle bepaalde werk, om stene te maak, volbring nie? Daarom het die opsigters van die kinders van Israel gegaan, en hulle het geweeklaag by Farao en gesê: Waarom maak u so met u dienaars? Aan u dienaars word geen strooi gegee nie, en hulle sê vir ons: Maak bakstene! En kyk, u dienaars word geslaan, maar die skuld lê by u volk. Maar hy het geantwoord: Lui is julle, lui! Daarom sê julle: Laat ons gaan, laat ons aan die HERE offer. Nou dan, loop werk! Maar strooi sal julle nie gegee word nie. Ewenwel moet julle die hoeveelheid bakstene aflewer. Toe sien die opsigters van die kinders van Israel dat dit sleg met hulle staan, omdat daar gesê is: Julle mag jul bakstene, volgens die eis van elke dag, nie verminder nie. En hulle het Moses en Aäron teëgekom, wat daar gestaan het om hulle te ontmoet as hulle van Farao af weggaan, en het vir hulle gesê: Mag die HERE op julle let en oordeel, omdat julle ons gehaat gemaak het in die oë van Farao en in die oë van sy dienaars, sodat julle 'n swaard in hulle hand gegee het om ons om te bring.

EKSODUS 5:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarna het Moses en Aäron na die farao toe gegaan en gesê: “So sê die Here die God van Israel: Laat my volk gaan om tot my eer 'n fees in die woestyn te vier.” Maar die farao het geantwoord: “En wie is die Here nogal dat ek na Hom sal luister om Israel te laat gaan? Ek ken die Here nie, en ek sal Israel nie laat gaan nie!” Hulle sê toe: “Die God van die Hebreërs het Hom aan ons geopenbaar. Laat ons asseblief drie dagreise die woestyn in trek om 'n offer vir ons God, die Here, te bring, anders tref Hy ons dalk met die pes of die swaard.” Maar die koning van Egipte het vir hulle gesê: “Moses en Aäron, waarom hou julle die volk van hulle werk af weg? Gaan terug na julle werk toe! Julle mense is alreeds te veel en nou wil julle hulle ook nog laat ophou werk!” Dieselfde dag nog het die farao die slawedrywers van die volk en hulle opsigters beveel: “Julle mag nie meer soos vroeër vir die volk strooi gee om bakstene mee te maak nie. Laat hulle self gaan strooi bymekaarmaak, en julle moet van hulle dieselfde hoeveelheid stene as tevore bly eis. Julle mag niks verminder nie! Hulle is net lui, daarom hou hulle aan met neul: ‘Ons wil vir ons God gaan offer.’ Die werk moet vir die manne so swaar wees en hulle so besig hou dat hulle nie hulle ore uitleen vir allerhande leuens nie.” Toe het die slawedrywers en die opsigters van die volk vir hulle gaan sê: “So sê die farao: Julle kry nie meer strooi nie. Loop haal dit self waar julle dit ook al kan kry, maar aan die hoeveelheid werk word niks verminder nie.” Die volk het toe dwarsoor Egipte stoppels bymekaargemaak, en die slawedrywers het hulle aangejaag en gesê: “Julle moet nog elke dag net soveel lewer soos toe daar nog strooi verskaf is.” Boonop het die farao se slawedrywers die Israelitiese opsigters geslaan en vir hulle gesê: “Waarom het julle nie vandag net soos vroeër dieselfde hoeveelheid stene gemaak nie?” Die Israelitiese opsigters kom kla toe by die farao: “Waarom maak u so met u werksmense? Daar word nie meer strooi aan ons verskaf nie, en tog bly die drywers vir ons sê: ‘Maak bakstene!’ Ons word mishandel, maar eintlik lê die fout by ú mense.” Toe sê die farao: “Julle is lui! Lui! Dit is dié dat julle bly sê: ‘Ons wil vir die Here gaan offer.’ Loop! Gaan werk! Hulle sal nie meer vir julle strooi gee nie, maar julle kwota bakstene sal julle lewer.” Toe die farao vir die Israelitiese opsigters sê dat die daaglikse kwota bakstene nie verminder gaan word nie, het hulle besef watter ramp hulle getref het. Moses en Aäron het hulle buite ingewag, en toe die opsigters van die farao af by hulle kom, sê hulle vir Moses en Aäron: “Mag die Here julle straf omdat julle ons naam sleg gemaak het by die farao en sy amptenare en vir hulle 'n swaard in die hand gegee het om ons mee dood te maak.”

EKSODUS 5:1-21 Die Boodskap (DB)

Moses en Aäron het toe na die farao toe gegaan. Hulle het vir hom gesê: “Die Here is die God van Israel. Die Here sê vir jou: ‘Jy moet my volk toelaat om na die woestyn toe te gaan om daar vir My ’n fees te gaan hou.’” Die farao antwoord toe: “En wie is hierdie ‘Here’ altemit dat ek na Hom moet luister om Israel te laat gaan? Ek ken Hom van geen kant nie. Ek gaan Israel nie toelaat om weg te gaan nie.” Hulle sê toe weer: “Die God van die Hebreërs het met ons gepraat. Gee tog vir ons kans om drie dae lank weg te gaan. Ons wil in die woestyn vir die Here ons God gaan offer. As ons dit nie doen nie, sal Hy ons met siektes en met die dood straf.” Die koning van Egipte het hulle geantwoord: “Moses en Aäron, vir wat hou julle die mense van hulle werk af? Loop, gaan aan met julle werk! Kyk hoe baie mense is julle volk al in die land. Verbeel jou, nou moet hulle nog hulle werk laat staan om te gaan feesvier!” Nog daardie selfde dag het die farao vir die mense gesê wat hy oor die volk aangestel het om hulle die harde werk te laat doen: “Julle moenie langer strooi vir die volk gee om bakstene mee te maak nie. Van nou af moet hulle self strooi gaan soek. Maar hulle moet nog steeds elke dag net soveel stene maak soos tevore. Julle mag nie toelaat dat hulle minder maak nie. Hulle het lui geword. Dis hoekom hulle met hierdie storie kom dat hulle hul God wil gaan aanbid. Maak die werk vir die mense nog moeiliker. Hulle moet te besig wees om nog sulke slimstories uit te dink.” Die manne wat oor hulle aangestel was, het toe vir die volk gaan sê wat die farao besluit het. “Ons gaan nie langer vir julle strooi gee om stene te maak nie. Van nou af sal julle dit self moet loop soek. Dis julle saak waar julle dit in die hande gaan kry. Maar julle moet elke dag nog net soveel stene maak soos julle altyd gemaak het.” Van toe af moes die volk oor die hele Egipte gaan soek waar hulle grasstoppels in die hande kon kry. Hulle moes dit in die plek van strooi gebruik om die stene te maak. Die manne wat oor hulle aangestel was, het dit vir hulle baie moeilik gemaak. Hulle het die volk gedwing om net soveel stene te maak soos voorheen toe hulle die strooi by die Egiptenaars gekry het. Die farao het selfs die manne wat oor hulle aangestel is, laat slaan en hulle beskuldig dat hulle nie sorg dat daar net soveel stene soos altyd gemaak word nie. Hierdie manne het toe by die farao gaan kla: “Hoekom maak u nou so met u werkers? Ons en die mense wat die stene maak, kry nie meer strooi vir die werk nie. Maar u verwag dat ons nog net soveel stene moet maak soos voorheen. Die mense wat oor die werk toesig hou, word selfs geslaan. Intussen lê die skuld by u eie mense.” Hy het vir hulle gesê: “Julle is net lui. Julle wil nie werk nie, en daarom kom julle met hierdie storie van ‘ons wil vir die Here gaan offer’. Gaan loop doen julle werk. Julle sal nie strooi kry nie. Sorg dat julle net soveel stene maak soos altyd.” Die manne wat oor die volk aangestel was, het toe besef dat hulle in ’n groot gemors beland het. Daar was nie ’n manier om daaruit te kom nie. Hulle sou maar moes sorg dat daar elke dag net soveel stene gemaak word soos vantevore. Toe hulle van die farao af weggaan, kry hulle vir Moses en Aäron wat vir hulle gestaan en wag het. Hulle sê toe vir Moses en Aäron: “Die Here sien wat julle aangevang het. Mag Hy julle straf omdat julle ons name so deur die modder gesleep het by die farao en sy mense. Julle het ons nou in hulle hande uitgelewer. Hulle kan met ons maak net wat hulle wil.”

EKSODUS 5:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Nadat hulle met die leiers gepraat het, het Moses en Aäron na die farao gegaan. Hulle sê toe vir hom: “Hoor wat sê die HERE, die God van Israel: ‘Jy moet my volk toelaat om in die woestyn vir My ’n fees te gaan hou.’” Maar die farao spot toe en vra: “Wie is hierdie ‘HERE’ nogal dat ek na hom moet luister om Israel te laat gaan? Ek ken nie ’n ‘HERE’ nie. Ek sal Israel ook nie toelaat om te gaan nie.” Aäron en Moses het egter volgehou: “Ons het die God van die Hebreërs ontmoet. Laat ons toe om drie dae ver in die woestyn in te trek sodat ons offers vir die HERE ons God kan bring. As ons dit nie doen nie, sal Hy beslis siekte of oorlog teen ons laat uitbreek.” “Moses en Aäron,” het die koning van Egipte vir hulle gesê, “waarom probeer julle die volk uit die werk uit hou? Loop terug en gaan doen julle werk!” Die farao het ook gesê: “Julle is alreeds meer as die inwoners van die land en nou probeer julle hulle van die werk af weghou!” Daardie selfde dag nog het die farao vir die Egiptiese slawemeesters en die mense wat hy oor Israel aangestel het, laat weet: “Julle moenie meer soos vantevore vir hulle strooi verskaf om stene te maak nie. Voortaan moet hulle dit self gaan kry. Hulle moet egter net soveel stene maak soos altyd. Julle mag nie die hoeveelhede verminder nie. Hulle het lui geword. Dis hoekom hulle kom kerm om vir hulle God te gaan offer. Maak die werk nog swaarder vir die mans. Laat hulle sweet sodat hulle nie sulke slimstories kan uitdink nie.” Die slawemeesters en hulle opsigters het die mense ingelig: “Die farao het ons opdrag gegee om op te hou om vir julle strooi te voorsien. Julle moet van nou af self strooi gaan bymekaarmaak waar julle dit ook al kry. Julle moet egter net soveel stene maak soos altyd.” Hulle het toe oral in Egipte stoppels begin versamel vir die stene. Die slawemeesters was hardhandig met hulle en het hulle beveel: “Julle moet net soveel stene lewer as vroeër toe die strooi vir julle voorsien is!” Hulle het die Israelitiese opsigters geslaan en vir hulle gevra: “Hoekom het julle nie gister en vandag julle volle kwota stene gelewer nie?” Die Israelitiese opsigters het toe met die farao gaan praat en hom gesoebat: “Moenie ons so behandel nie. Ons kry nie meer strooi nie, maar ons moet nog steeds net soveel stene maak! Ons word geslaan terwyl die fout by u mense lê.” Die farao het hulle geantwoord: “Julle het lui en laks geword. Dis hoekom julle kom vra om vir die HERE te gaan offer. Loop! Gaan terug na julle werk toe! Julle sal nie strooi kry nie. Sorg dat julle die volle kwota stene lewer.” Omdat hulle steeds elke dag dieselfde hoeveelheid stene soos vantevore moes maak, het die Israelitiese opsigters gesien dat daar groot moeilikheid kom. Toe hulle van die farao af weer buite kom, het Moses en Aäron daar vir hulle gestaan en wag. Die opsigters sê vir hulle: “Die HERE sien wat julle aangevang het. Hy sal julle straf vir die gemors waarin julle ons by die farao en sy mense laat beland het. Julle het hulle rede gegee om ons dood te maak.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid