EKSODUS 3:1-6
EKSODUS 3:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moses het sy skoonpa, Jetro, se skape opgepas. Jetro was een van die priesters van Midian. Moses het al dieper in die woestyn inbeweeg en by Horeb uitgekom. Dit is die berg van God. Skielik het die engel van God aan hom verskyn in ’n vlam wat in ’n bos brand. Moses was verwonderd, want die bos het aanhou brand, maar dit het nie uitgebrand nie. “Dit is snaaks,” het Moses vir homself gesê. “Hoekom brand die bos dan nie uit nie? Laat ek gaan kyk wat aangaan.” Toe die HERE sien dat Moses nader kom om ondersoek in te stel, het Hy uit die bos na hom geroep: “Moses, Moses!” “Dit is ek, ja,” het Moses geantwoord. “Moenie nog nader kom nie,” het die HERE vir hom gesê. “Trek uit jou sandale. Die plek waarop jy staan, is heilige grond.” God sê toe vir hom: “Ek is die God van jou voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.” Toe Moses dit hoor, het hy sy hande voor sy gesig gehou. Hy was bang om na God te kyk.
EKSODUS 3:1-6 Bybel vir almal (ABA)
Moses het sy skoonpa Jetro se skape en bokke opgepas. Sy skoonpa was die priester van Midian. Eendag het Moses die skape en bokke diep in die woestyn in geneem. Hy het by Sinai-berg gekom, die berg van God. Daar was 'n vuur in 'n doringbos. Die Engel van die Here was in die vuur en Hy het aan Moses verskyn. Moses het gesien die doringbos brand en dit hou nie op om te brand nie. Moses het gedink: Hier gebeur iets wat ek nog nooit gesien het nie. Ek wil nader gaan en gaan kyk hoekom die bos aanhou brand. Toe die Here sien Moses kom nader om te kyk, het Hy uit die doringbos vir Moses geroep: “Moses! Moses!” En Moses het gesê: “Hier is ek!” Die Here sê toe: “Moenie nader kom nie. Trek jou sandale uit, want die plek waar jy staan, is gewyde grond. Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.” Moses het sy gesig toegemaak, want hy was bang om na God te kyk.
EKSODUS 3:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Moses het die kleinvee opgepas van sy skoonvader Jetro, die priester van Mídian. En toe hy die kleinvee agter die woestyn gedryf het, kom hy by die berg van God, by Horeb. Daarop verskyn die Engel van die HERE aan hom in 'n vuurvlam uit 'n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie! En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie. Toe die HERE sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek. En Hy sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond. Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien.
EKSODUS 3:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, 'n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het. Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in 'n vlam binne-in 'n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. En Moses sê vir homself: “Ek wil tog 'n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?” Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!” En hy antwoord: “Hier is ek.” Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk.
EKSODUS 3:1-6 Die Boodskap (DB)
Moses het sy skoonpa, Jetro, se vee opgepas. Jetro was die man in Midian wat vir die Here gewerk het. Moses het toe met sy skoonpa se vee al dieper die woestyn in getrek. Hy het naderhand by God se berg uitgekom. Dit is die berg Horeb. Daar het hy ’n man gesien wat van God uit die hemel kom. Die man het binne-in ’n vuurvlam gestaan wat lyk of dit in ’n doringbos brand. Alhoewel dit gelyk het of die bos besig was om af te brand, het dit glad nie uitgebrand nie. Moses het vir homself gesê: “Ek wil ’n bietjie gaan kyk wat hier aangaan. Hoekom brand die doringbos dan nie uit nie?” Toe die Here sien dat hy nader kom om te kom kyk wat gebeur, het die Here uit die doringbos met hom gepraat: “Moses! Moses!” Moses het geantwoord: “Dit is ek, ja.” Die Here sê vir hom: “Jy moenie nog nader kom nie. Trek uit jou sandale. Jy staan nou op ’n plek wat aan die Here behoort. Ek is die God van jou voorouers, die God van Abraham en van Isak en van Jakob.” Moses het toe sy hande voor sy oë gehou, want hy was bang hy moet na die Here kyk.