EKSODUS 20:18-21
EKSODUS 20:18-21 Bybel vir almal (ABA)
Al die mense het die donderweer en die ramshoring gehoor. Hulle het ook die weerlig gesien en die berg wat vol rook is. Toe die mense dit sien, het hulle gebewe en hulle het ver weg bly staan. Hulle het vir Moses gesê: “As jý met ons praat, dan sal ons luister, maar God moenie met ons praat nie, want dan sal ons sterf.” Moses het vir die mense gesê: “Julle moenie bang wees nie, want God het gekom om julle te toets. God wil hê julle moet Hom eer en julle moenie sonde doen nie.” Die mense het toe ver weg bly staan, maar Moses het nader gegaan na die donker wolk waar God was.
EKSODUS 20:18-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe die hele volk die donderslae en die blitse en die geluid van die basuin en die rokende berg bemerk, het die volk dit gesien en gebewe en op 'n afstand bly staan. En hulle het vir Moses gesê: Spreek u met ons, dat ons kan luister; maar laat God nie met ons spreek nie, anders sterwe ons. Toe antwoord Moses die volk: Wees nie bevrees nie, want God het gekom om julle te beproef en dat sy vrees voor julle oë mag wees, sodat julle nie sondig nie. So het die volk dan op 'n afstand bly staan. Maar Moses het nader gegaan na die wolkedonkerheid waar God was.
EKSODUS 20:18-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe die volk die donderslae en die klank van die ramshoring hoor, en die weerligte en die rook op die berg sien, het hulle van angs gebewe en op 'n afstand bly staan. Hulle sê toe vir Moses: “Praat jý liewer met ons, en ons sal luister. Moet tog nie dat God met ons praat nie, want dan sal ons sterf.” Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie, want God het gekom om julle te toets. Hy wil hê julle moet ontsag hê vir Hom en nie sondig nie.” Die volk het op 'n afstand bly staan, maar Moses het nader gegaan na die donker wolk waarin God was.
EKSODUS 20:18-21 Die Boodskap (DB)
Die volk het baie bang geword toe hulle die donderweer hoor en die blitse sien. Hulle het gebewe toe hulle sien hoe vol rook die berg is en hoor hoe hard die trompet blaas. Hulle het gebewe, so bang was hulle. Hulle het gesorg dat hulle op ’n afstand bly staan. Hulle het Moses gesoebat: “Praat jy liewer met ons dat ons na jou kan luister. God moenie met ons praat nie. As Hy praat, sal ons doodgaan.” “Julle moenie bang wees nie,” sê Moses toe vir hulle, “God het kom kyk of julle versigtig genoeg vir Hom is sodat julle nie teen Hom sal sonde doen nie.” Terwyl die volk op ’n afstand bly staan, het Moses na die donker wolk toe gegaan waarin God was.
EKSODUS 20:18-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die volk het baie bang geword toe hulle hoor hoe die donderweer rammel, die trompet geblaas word en sien hoe die rook uit die berg borrel. Hulle het op ’n afstand gaan staan. Hulle sê toe vir Moses: “Jý moet maar liewer met ons praat. Ons sal na jou luister. Moenie dat God self met ons praat nie. Ons sal dan sterf.” “Julle moenie bang wees nie,” het Moses vir hulle gesê. “God het so na julle toe gekom sodat julle ontsag vir Hom kan hê. Sorg dat julle nie teen Hom oortree nie.” Terwyl die volk op ’n afstand bly staan het, het Moses ingegaan in die donker wolk waarin God was.