EKSODUS 2:11-24

EKSODUS 2:11-24 Bybel vir almal (ABA)

Toe Moses groot was, het hy eendag na sy eie mense toe gegaan en gesien hoe swaar hulle moes werk. Hy het gesien dat 'n Egiptiese man 'n Hebreeuse man slaan, een van sy eie mense. Hy het rondgekyk en gesien daar is niemand wat hom sien nie. Toe slaan hy die Egiptenaar dood en hy steek die lyk weg in die sand. Die volgende dag het Moses weer na sy mense toe gegaan. Hy het gesien dat twee Hebreeuse mans baklei. Hy vra toe vir die man wat begin baklei het: “Hoekom slaan jy die man? Hy is ook 'n Hebreër.” Die man sê toe: “Wie het gesê jy mag oor ons regeer? Wie het gesê jy kan vir ons sê wat ons moet doen? Wil jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het bang geword. Hy het besef dat hulle weet wat hy gedoen het. Toe die farao hoor wat Moses gedoen het, wou hy vir Moses laat doodmaak, maar Moses het gevlug en hy het in Midian gaan woon. Toe hy eendag daar by 'n put sit, kom daar sewe meisies aan. Hulle was die dogters van die priester van Midian. Hulle het water uit die put kom skep om die waterbakke vol te maak sodat hulle pa se skape en bokke kon drink. Maar daar het skaapwagters gekom en hulle het die meisies weggejaag. Moses het toe opgestaan en hy het die meisies gehelp. Hy het vir hulle skape en bokke water gegee. Toe die meisies by hulle pa Reüel kom, vra hy vir hulle: “Hoekom het julle vandag so gou teruggekom?” Hulle het vir hom gesê: “'n Egiptenaar het ons gehelp toe die skaapwagters ons wou wegjaag. Hy het ook water geskep en hy het ons skape en bokke laat drink.” Reüel het vir sy dogters gevra: “Waar is die man? Hoekom het julle hom nie saamgebring nie? Roep hom om by ons te kom eet.” Reüel het vir Moses gevra om by hulle te kom woon, en Moses het dit gedoen. Reüel het sy dogter Sippora vir Moses gegee, en Moses het met haar getrou. Sippora het 'n kind gekry, en Moses het hom Gersom genoem. Hy het gesê: “Ek is 'n vreemdeling in hierdie land.” Later het die koning van Egipte gesterf. Die Israeliete het nog altyd baie swaar gekry en hulle het soos slawe gewerk. Hulle het gebid en vir God gevra om hulle te help. God het gehoor die Israeliete kla en Hy het gedink aan die verbond wat Hy met Abraham, Isak en Jakob gemaak het.

EKSODUS 2:11-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En in dié dae toe Moses al groot was, het hy na sy broers uitgegaan en hulle harde arbeid aangesien. En hy het gesien hoe 'n Egiptiese man 'n Hebreeuse man, een uit sy broers, slaan. En hy het hierheen en daarheen gekyk, en toe hy sien dat daar niemand was nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom in die sand begrawe. Die volgende dag het hy weer uitgegaan, en daar was twee Hebreeuse manne wat met mekaar veg. Hy vra toe vir die een wat ongelyk gehad het: Waarom slaan jy jou naaste? En hy antwoord: Wie het jou as owerste en regter oor ons aangestel? Dink jy om my dood te slaan soos jy die Egiptenaar omgebring het? En Moses het gevrees en gesê: Waarlik, die saak het bekend geword! En toe Farao van dié saak hoor, het hy probeer om Moses dood te maak. Maar Moses het van Farao af weggevlug en in die land Mídian gaan woon. En hy het by 'n put gesit. En die priester van Mídian het sewe dogters gehad: dié het gekom om te put en die drinkbakke vol te maak om hulle vader se kleinvee te laat drink. Maar die veewagters het gekom en hulle weggedrywe. Toe staan Moses op en help hulle en laat hulle vee drink. En toe hulle by hul vader Réhuel kom, sê hy: Waarom kom julle vandag so gou? En hulle antwoord: 'n Egiptiese man het ons uit die hand van die veewagters verlos; en hy het ook volop vir ons geput en die vee laat drink. Daarop sê hy vir sy dogters: En waar is hy? Waarom het julle die man dan daar laat staan? Roep hom, dat hy brood kan eet. En Moses het ingewillig om by die man te bly, en hy het aan Moses sy dogter Sippóra gegee. En toe sy 'n seun baar, het hy hom Gersom genoem. Want hy het gesê: Ek het 'n vreemdeling in 'n vreemde land geword. En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob.

EKSODUS 2:11-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe Moses al 'n volwasse man was, het hy op 'n keer na sy eie mense toe gegaan en gesien dat hulle dwangarbeid verrig. Hy sien toe hoe een van sy eie mense, 'n Hebreër, deur 'n Egiptenaar geslaan word. Nadat Moses rondgekyk het en niemand gewaar het nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom onder sand toegekrap. Die volgende dag gaan hy weer, en tot sy verbasing was daar twee Hebreeuse manne aan die baklei. “Waarom slaan jy aan jou broer?” vra hy vir die een wat die rusie begin het. “Wie het jou aangestel as baas en regter oor ons?” vra die ander. “Wil jy my miskien ook doodslaan, soos jy die Egiptenaar doodgeslaan het?” Toe skrik Moses en hy dink: die ding het bekend geword. Toe dit by die farao uitkom, wou hy vir Moses laat doodmaak, maar Moses het van hom af weggevlug en in Midian gaan woon. Terwyl hy daar by 'n put sit, het die sewe dogters van 'n priester van Midian kom water skep om die drinkbakke vol te maak en hulle pa se kleinvee te laat suip. Toe daar veewagters aankom en die dogters wegjaag, het Moses opgestaan en hulle gehelp en hulle kleinvee laat suip. Met hulle aankoms by hulle pa Reüel het hy gevra: “Hoe het julle dan vandag so gou gekom?” en hulle antwoord: “Daar was 'n Egiptenaar, en hy het ons gehelp teen die veewagters. Boonop het hy vir ons water geskep en die kleinvee laat suip.” Toe vra die priester vir sy dogters: “Waar is hy? Waarom het julle die man daar laat staan? Gaan nooi hom huis toe om by ons te kom eet.” Moses het ingewillig om by Reüel te kom woon, en is later met sy dogter Sippora getroud. Toe sy 'n seuntjie kry, het Moses hom Gersom genoem, “want,” het hy gesê, “ek woon as vreemdeling in 'n vreemde land.” Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink.

EKSODUS 2:11-24 Die Boodskap (DB)

Moses was al ’n groot man toe hy op ’n keer gaan kyk het hoe die ander Israeliete gedwing word om slawewerk te doen. Terwyl hy daar is, sien hy hoe een van die Egiptenaars ’n Hebreër slaan. Hy het hiernatoe en daarnatoe gekyk en toe hy niemand sien nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan. Hy het hom onder die sand begrawe. Toe hy weer ’n keer daar kom, kry hy twee Hebreërs wat besig is om met mekaar te baklei. Hy vra toe vir die een wat verkeerd was: “Hoekom slaan jy aan iemand anders uit jou volk?” Die man kap toe terug: “Wie het jou altemit aangestel om baas te speel en oor ons te besluit? Gaan jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het hom boeglam geskrik en vir homself gesê: “Die ding het op die lappe gekom.” Toe die farao hoor wat gebeur het, het hy inderdaad ook na Moses laat soek om hom dood te maak. Moses het toe uit Egipte gevlug om van die farao af weg te kom. Hy het in ’n plek met die naam Midian aangekom. Hy het by ’n waterput gaan sit. Daar in Midian was ’n man wat vir die Here gewerk het. Hy het sewe dogters gehad. Hulle het daar aangekom om water uit die put op te trek om die bakke waaruit hulle pa se kleinvee drink, vol water te maak sodat hulle kan suip. Toe daar ander mans met hulle vee aankom, wou hulle die meisies wegjaag. Moses het gekeer en hulle gehelp dat hulle kleinvee eers klaar kon drink. Toe die meisies by die huis by hulle pa, Reüel, terugkom, vra hy vir hulle: “Hoe is julle dan vandag so vroeg terug?” Hulle antwoord: “Daar was ’n man uit Egipte by die put. Hy het ons gehelp en gekeer dat die mans ons wegdruk. Hy het selfs ook vir ons water uit die put opgetrek en ons kleinvee laat drink.” Hy vra toe vir sy dogters: “En waar is die man dan nou? Hoe is dit dan dat julle die man net so daar los? Gaan roep hom dat hy saam met ons kan kom eet.” Moses was bereid om by die man te bly. Die man het ook later ingestem dat hy met sy dogter Sippora kon trou. Sippora het later ’n seuntjie gehad. Moses het hom Gersom genoem. Dit beteken “vreemdeling”, want Moses het gesê: “Ek leef as vreemdeling in ’n vreemde land.” Na ’n hele tyd is daardie koning van Egipte dood. Die Israeliete het nog al die tyd bly sug en kreun omdat hulle sulke harde werk moes doen. Hulle het so hard gekla dat die Here dit selfs in die hemel gehoor het. God het onthou dat Hy met Abraham, Isak en Jakob ’n ooreenkoms gehad het.

EKSODUS 2:11-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Op ’n goeie dag toe Moses al ’n groot man was, het hy by sy mense gaan kuier. Hy het gesien hoe hard hulle moes werk. Terwyl hy daar was, sien hy hoe ’n Egiptenaar een van sy volksgenote uit die Hebreeuse slawe aanrand. Moses het goed rondgekyk en toe hy seker was dat daar niemand naby is nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan. Hy het hom in die sand begrawe. Toe hy die volgende dag weer by hulle kom, sien hy twee Hebreërs wat met mekaar baklei. Hy sê toe vir die een wat verkeerd was: “Waarom rand jy jou volksgenoot aan?” “Wie is jy nogal?” het die man teruggeantwoord. “Wie het jou as baas en regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar gister doodgemaak het?” Moses het geskrik. Hy het vir homself gesê: “Almal weet wat gebeur het.” Die farao het ook van die ding te hore gekom. Hy het opdrag gegee dat Moses gesoek en tereggestel moes word. Moses het egter vir die farao gevlug. Moses het in die landstreek van Midian gaan woon. Terwyl hy daar by ’n put sit, het die priester van Midian se sewe dogters daar kom water skep. Hulle het die drinkbakke vol water gemaak sodat hulle pa se diere kon suip. Daar kom toe mans wat vee oppas en verdryf die meisies van die put af. Moses het die meisies te hulp gesnel en hulle gehelp om hulle vee te laat suip. Toe hulle by hulle pa, Reüel, terugkom, vra hy vir sy dogters: “Hoe is julle dan vandag so vroeg terug?” “Daar was ’n man uit Egipte wat ons teen die mans verdedig het,” sê hulle vir hom. “Hy het ons help water skep en die vee laat drink.” “Nou waar is hy dan?” vra hy vir sy dogters. “Het julle die man dan net daar gelos? Gaan nooi hom uit om saam te kom eet.” Moses het die uitnodiging met graagte aanvaar. Hy het by die man gebly. Na ’n tyd het Reüel sy dogter Sippora vir hom as vrou gegee. Sy het later ’n seuntjie gehad. Moses het hom Gersom genoem. Hy het gesê: “Ek is ’n vreemdeling in ’n vreemde land.” Baie jare het verbygegaan. Daardie koning van Egipte is later dood. Die Israeliete het egter nog steeds gebuk gegaan onder slawewerk. Hulle het om hulp geroep. Hulle gesoebat om bevry te word van die harde werk het na God toe opgestyg. God het gehoor hoe hulle roep. Hy het onthou dat Hy ’n verbond met Abraham, Isak en Jakob gesluit het

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid