EKSODUS 17:8-16
EKSODUS 17:8-16 Bybel vir almal (ABA)
Die Amalekiete het na Refidim gekom om oorlog te maak teen die Israeliete. Moses het vir Josua gesê: “Kies vir ons manne en gaan maak môre oorlog teen die Amalekiete. Ek sal bo-op die heuwel gaan staan, en Ek sal die kierie van God in my hand hou.” Josua het gedoen wat Moses vir hom gesê het. Hy het oorlog gaan maak teen die Amalekiete. Moses en Aäron en Hur het opgegaan tot bo-op die heuwel. Wanneer Moses sy hand opgehou het, dan het die Israeliete gewen, en wanneer hy sy hand laat sak het, dan het die Amalekiete gewen. Toe Moses se hande moeg word, het Aäron en Hur 'n klip geneem en hulle het dit onder hom gesit. Moses het daarop gaan sit en Aäron en Hur het sy hande vasgehou. Aäron het langs Moses gestaan, en Hur het langs Moses se ander kant gestaan. Hulle het sy hande opgehou totdat die son ondergegaan het. So het Josua die Amalekiete oorwin. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet hierdie woorde in 'n boek skryf, sodat almal dit sal onthou en jy moet dit vir Josua lees: ‘Die Here wil die Amalekiete heeltemal wegvee van die aarde af.’ ” Moses het 'n altaar gebou en hy het dit genoem “Die Here lei my.” Hy het gesê: “Die Here regeer. Hy het belowe dat Hy altyd oorlog sal maak teen die Amalekiete.”
EKSODUS 17:8-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAAROP het Ámalek gekom om teen Israel by Ráfidim te veg. En Moses het aan Josua gesê: Kies vir ons manne en trek uit, veg teen Ámalek. Môre sal ek op die top van die heuwel staan met die staf van God in my hand. En Josua het gedoen soos Moses aan hom gesê het, om te veg teen Ámalek. Maar Moses, Aäron en Hur het op die top van die heuwel geklim. En telkens as Moses sy hand ophou, was Israel die sterkste; maar as hy sy hand laat sak, was Ámalek die sterkste. Maar die hande van Moses het swaar geword; daarom het hulle 'n klip geneem en dit onder hom neergelê, dat hy daarop kon sit. En Aäron en Hur het sy hande ondersteun, die een duskant en die ander anderkant. So het sy hande dan vas gebly tot sononder. En Josua het Ámalek en sy volk met die skerpte van die swaard 'n neerlaag toegebring. Toe sê die HERE vir Moses: Skrywe dit as 'n aandenking in 'n boek en prent dit Josua in, dat Ek die gedagtenis van Ámalek onder die hemel heeltemal sal uitdelg. En Moses het 'n altaar gebou en dit genoem: Die HERE is my banier. En hy het gesê: Waarlik, die hand op die troon van die HERE! Oorlog het die HERE teen Ámalek van geslag tot geslag.
EKSODUS 17:8-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe die Amalekiete by Refidim teen Israel kom veg het, het Moses vir Josua gesê: “Kies vir ons manskappe en gaan veg môre teen die Amalekiete. Dan sal ek op die top van die heuwel gaan staan met die kierie wat God my gegee het, in my hand.” Josua het toe gedoen wat Moses vir hom gesê het en hy het teen die Amalekiete gaan veg. Moses, Aäron en Hur het tot op die top van die heuwel uitgeklim. Solank Moses sy hand opgehou het, was Israel die sterkste, en wanneer sy hand gesak het, die Amalekiete. Maar Moses se arms het begin moeg word. Hulle het toe 'n klip gevat en dit agter hom neergesit sodat hy daarop kon gaan sit. Aäron en Hur het sy arms van weerskante af ondersteun sodat sy arms regop gebly het tot sononder. Josua het die Amalekiete heeltemal verslaan. Daarna het die Here vir Moses gesê: “Skryf hierdie woorde op in 'n boek as 'n blywende herinnering en lees dit vir Josua voor: Ek wil die Amalekiete heeltemal van die aarde af verdelg.” Moses het 'n altaar gebou en dit genoem: “Die Here gee my die oorwinning.” Verder het Moses gesê
EKSODUS 17:8-16 Die Boodskap (DB)
Die Amalekiete het by Rafidim teen die Israeliete kom oorlog maak. Moses het vir Josua gesê: “Kies vir jou die manne uit met wie jy teen die Amalekiete kan gaan veg. Ek sal môre bo-op die koppie gaan staan. Ek sal die kierie wat God vir my gegee het in my hand hou.” Josua het die manne gevat en die geveg met die Amalekiete gaan begin. Moses, Aäron en Hur het teen die koppie uitgeklim en bo-op gaan staan. Solank as wat Moses sy hand in die lug gehou het, het Israel die oorhand gehad. Die oomblik as hy sy hand laat sak het om te rus, swaai die geveg om en begin Amalek wen. Moses se hand het naderhand moeg geword. Hulle het hom toe op ’n klip laat sit. Aäron en Hur het weerskante van hom gaan staan en sy hande in die lug gehou. So kon sy hande in die lug bly totdat die son die dag ondergegaan het. Josua het die Amalekiete daardie dag heeltemal verslaan. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet al hierdie dinge wat gebeur het, in ’n boek neerskryf. Jy moet dit ook vir Josua op die hart druk dat Ek gemaak het dat niemand op aarde ooit weer aan die Amalekiete sal dink nie.” Moses het by daardie plek ’n hoop klippe laat pak as ’n gedenkteken vir hierdie gebeure. Hy het dit genoem: “Die Here is my vlag.” Hy het gesê: “Die Here se vlag moet hoog in die wind waai. Die Here veg elke keer teen die Amalekiete.”
EKSODUS 17:8-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Terwyl die Israeliete nog by Refidim was, het die soldate van Amalek hulle aangeval. Moses sê toe vir Josua: “Kies vir ons manskappe dat ons teen Amalek kan gaan veg. Ek sal môre bo-op die koppie gaan staan met die stok wat God vir my gegee het in my hand.” Josua het gemaak soos Moses vir hom gesê het. Hy het teen Amalek gaan veg. Intussen het Moses, Aäron en Hur teen die koppie uitgeklim. Solank Moses sy hand in die lug opgehou het, was Israel aan die wenkant. Sodra hy sy hand laat sak het, het die Amalekiete die oorhand begin kry. Moses se arms het naderhand begin moeg word. Aäron en Hur het hom op ’n klip gaan laat sit. Hulle het weerskante van hom gaan staan en sy hande in die lug gehou totdat die son ondergegaan het. Josua kon toe Amalek en sy volk verpletterend verslaan. Die HERE het toe vir Moses gesê: “Skryf op wat vandag gebeur het sodat julle dit altyd kan onthou. Bevestig aan Josua dat Ek Amalek se naam totaal sal uitwis.” Moses het toe daar ’n altaar gebou wat hy genoem het “Die HERE is my vaandel”. Hy het gesê: “’n Vuis is gelig teen God se troon. Die HERE sal nooit ophou om teen Amalek te veg nie.”