EKSODUS 17:1-7
EKSODUS 17:1-7 Bybel vir almal (ABA)
Nadat al die Israeliete weggegaan het uit die Sin-woestyn, het hulle van een plek na 'n ander plek gegaan soos die Here vir hulle gesê het. Hulle het later by Refidim hulle tente opgeslaan. Daar was nie water vir die mense om te drink nie. Die Israeliete was toe kwaad en hulle het by Moses gekla. Hulle het gesê: “Gee vir ons water sodat ons kan drink.” Moses het vir hulle gesê: “Hoekom beskuldig julle my? Hoekom dink julle die Here kan ons nie help nie?” Maar die mense was dors. Hulle het vir Moses beskuldig en hulle het vir hom gesê: “Hoekom het jy ons uit Egipte gebring om ons en ons kinders en ons diere te laat sterf omdat ons nie water het nie?” Moses het tot die Here gebid en hy het vir die Here gevra om hom te help. Hy het gesê: “Wat moet ek met hierdie mense doen? Hulle sal my doodgooi met klippe!” Die Here het vir Moses gesê: “Loop voor die mense en neem 'n paar leiers van die Israeliete saam met jou. Neem jou kierie waarmee jy op die Nyl-rivier geslaan het. Ek sal daar voor jou staan op die rots by Sinai. Jy moet teen die rots slaan, en dan sal daar water uitkom sodat die mense kan drink.” Moses het dit toe gedoen terwyl die leiers van die Israeliete gekyk het. Hy het die plek “ Massa en Meriba” genoem omdat die Israeliete vir Moses beskuldig het en omdat hulle die Here kwaad gemaak het. Hulle het gevra: “Is die Here by ons of is Hy nie by ons nie?”
EKSODUS 17:1-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAAROP het die hele vergadering van die kinders van Israel, volgens die bevel van die HERE, van plek tot plek uit die woestyn Sin getrek en laer opgeslaan in Ráfidim. En daar was geen water vir die volk om te drink nie. Toe twis die volk met Moses en sê: Gee julle vir ons water om te drink. Maar Moses antwoord hulle: Wat twis julle met my? Waarom versoek julle die HERE? Maar die volk het daar gesmag na water, en die volk het teen Moses gemurmureer en gesê: Waarom het u ons dan uit Egipte laat optrek om my en my kinders en my vee van dors te laat omkom? Toe het Moses die HERE aangeroep en gesê: Wat moet ek met hierdie volk doen? Dit skeel maar min of hulle stenig my. En die HERE het Moses geantwoord: Trek voor die volk uit, en neem van die oudstes van Israel met jou saam; en neem jou staf waarmee jy die Nyl geslaan het, in jou hand en gaan weg. Kyk, Ek sal daar voor jou by die rots op Horeb staan; dan moet jy die rots slaan, en daar sal water uit kom, dat die volk kan drink. En Moses het so gedoen voor die oë van die oudstes van Israel en die plek Massa en Mériba genoem vanweë die twis van die kinders van Israel en omdat hulle die HERE versoek het deur te sê: Is die HERE in ons midde of nie?
EKSODUS 17:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nadat die hele volk Israel uit die Sinwoestyn vertrek het, het hulle op bevel van die Here van plek tot plek gegaan totdat hulle by Refidim kamp opgeslaan het. Maar daar was geen water vir die volk om te drink nie. Toe het die volk met Moses rusie gemaak en gesê: “Gee jý vir ons water om te drink!” En Moses antwoord hulle: “Waarom maak julle rusie met my? Waarom stel julle die geduld van die Here op die proef?” Maar die volk was dors en hulle het vir Moses verwyt: “Waarom het jy ons uit Egipte laat optrek om ons en ons kinders en ons vee van dors te laat omkom?” Daarna het Moses tot die Here geroep: “Wat moet ek met hierdie volk aanvang? Netnou gooi hulle my met klippe dood.” Toe sê die Here vir Moses: “Loop voor die volk verby en neem van die leiers van Israel saam. Vat ook die kierie waarmee jy op die Nyl se water geslaan het, en stap vooruit. Ek sal daar reg voor jou op die rots by Horeb staan. Dan moet jy teen die rots slaan, en daar sal water uitloop vir die volk om te drink.” Moses het dit toe gedoen voor die oë van die leiers van Israel. Hy het die plek Massa en Meriba genoem omdat die Israeliete daar met Moses rusie gemaak het en ook omdat hulle die geduld van die Here op die proef gestel het toe hulle gesê het: “Is die Here by ons of nie?”
EKSODUS 17:1-7 Die Boodskap (DB)
Die Israeliete het uit die Sinwoestyn weggetrek. Die Here het elke keer vir hulle gewys waarheen hulle moes gaan. So het hulle by Rafidim uitgekom en daar kamp opgeslaan. Daar was egter nie vir hulle water om te drink nie. Die volk het met Moses aan die stry geraak. Hulle wou hê hy moes sorg dat daar genoeg water is vir hulle om te drink. Moses het vir hulle gesê: “Waarom kom staan julle nou met my en rusie maak? Hoekom tart julle die Here so uit?” Die volk het so dors geword dat hulle Moses begin verwyt het: “Jy het ons en ons kinders en ons vee uit Egipte laat wegtrek sodat ons hier in die woestyn van dors kan doodgaan.” Moses het by die Here hulp gaan vra: “Here, wat kan ek met hierdie volk doen? Hulle gaan my met klippe doodgooi.” Die Here sê toe vir hom: “Vat dieselfde kierie waarmee jy op die Nyl geslaan het. Vat ook ’n paar van die leiers van Israel saam met jou. Loop saam met hulle voor die volk uit na die rots waar Ek vir jou staan en wag by Horeb. Slaan met jou kierie op die rots. Daar sal water uit die rots kom vir die volk om te drink.” Terwyl die leiers staan en kyk, het Moses op die rots geslaan. Daar het water uitgekom. Hy het die plek Massá (dit beteken “uittart”) en Meriba (dit beteken “rusie”) gedoop. Die Israeliete het daar met hom rusie gemaak. Hulle het die Here se geduld beproef toe hulle gevra het: “Is die Here nog by ons of het Hy al lankal weggeraak?”
EKSODUS 17:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Israeliete is van die Sinwoestyn af weg en die HERE het hulle gelei totdat hulle by Refidim uitgekom het. Daar was egter nie genoeg water vir die volk om te drink nie. Die volk het met Moses gestry. Hulle het van hom geëis: “Ons wil water hê om te drink!” Maar Moses het vir hulle gesê: “Waarom stry julle met my? Waarom tart julle die HERE?” Hulle was egter baie dors en het weer na Moses toe gegaan en teen hom uitgevaar: “Waarom het jy ons en ons kinders en ons vee uit Egipte laat trek om hier van dors dood te gaan?” Moses het toe by die HERE gaan soebat: “Wat moet ek met hierdie volk maak? Hulle gaan my sonder die minste aanmoediging met klippe doodgooi.” Die HERE het toe vir Moses gesê: “Vat die stok waarmee jy op die Nylrivier geslaan het, gaan na die volk toe en vat ’n klomp van die oudste manne saam met jou. Slaan met jou stok op die rots by Horeb. Ek staan daar en wag vir jou. Daar sal water uit die rots kom dat die volk kan drink.” Moses het toe presies net so gemaak terwyl die oudste manne staan en kyk. Moses het daardie plek toe “Massa en Meriba” genoem, want die Israeliete het daar met Moses rusie gemaak. Hulle het die HERE uitgetart toe hulle gevra het: “Gaan die HERE ons ooit help?”