EKSODUS 10:24-29
EKSODUS 10:24-29 Bybel vir almal (ABA)
Die farao het vir Moses geroep en gesê: “Julle mag die Here gaan dien. Julle vroue en kinders mag saam met julle gaan. Maar julle skape en bokke en julle beeste moet hier bly.” Moses het gesê: “Jy moet self vir ons offers en brand-offers gee om vir ons God die Here te offer. En ons diere moet ook saam met ons gaan. Daar mag nie een dier hier bly nie. Ons weet nog nie watter diere ons vir die Here moet offer nie. Ons sal dit weet nadat ons daar aangekom het.” Die Here het die farao hardkoppig gemaak. Hy wou nie die Israeliete laat gaan nie. Die farao het vir Moses gesê: “Gaan weg van my. Ek wil jou nooit weer sien nie, want as ek jou weer sien, dan sal ek jou doodmaak.” Moses het gesê: “Dit is reg wat jy gesê het, jy sal my nooit weer sien nie.”
EKSODUS 10:24-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe het Farao Moses laat roep en gesê: Gaan heen, dien die HERE; net julle kleinvee en julle beeste moet agtergehou word. Selfs julle kinders kan met julle saamgaan. Maar Moses antwoord: U moet self ook slagoffers en brandoffers met ons saam gee, dat ons dit aan die HERE onse God kan aanbied. En ons vee moet ook met ons saamgaan: daar mag geen klou agterbly nie! Want daarvan moet ons neem om die HERE onse God te dien. En ons weet nie waarmee ons die HERE onse God sal dien voordat ons daar kom nie. Maar die HERE het Farao se hart verhard, en hy wou hulle nie laat trek nie. Maar Farao sê vir hom: Gaan weg van my af! Pas op dat jy my aangesig nie weer sien nie; want die dag as jy my aangesig sien, sal jy sterwe. En Moses antwoord: U het reg gepraat. Ek sal u aangesig nie weer sien nie.
EKSODUS 10:24-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe laat die farao vir Moses roep en sê: “Gaan dien die Here! Julle vrouens en kinders kan saamgaan, maar julle kleinvee en julle grootvee moet hier agterbly.” Maar Moses sê: “U sal tog nie vir ons brandoffers en ander diereoffers gee om aan ons God, die Here, te bring nie! Daarom gaan ons vee beslis met ons saam. Daar bly nie 'n kloutjie agter nie. Ons moet van die vee gebruik om ons God, die Here, te dien en voordat ons daar aankom, weet ons nog nie met watter offer ons Hom sal dien nie.” Maar die Here het die farao weer koppig gemaak, sodat hy hulle nie wou laat gaan nie. Toe het die farao vir Moses gesê: “Maak dat jy hier wegkom! Sorg dat ek jou nie weer sien nie, want die oomblik dat ek jou weer sien, sterf jy!” Moses het geantwoord: “Soos u sê: u sal my nie weer sien nie.”
EKSODUS 10:24-29 Die Boodskap (DB)
Die farao het toe vir Moses laat kom en vir hom gesê: “Loop tog en gaan bid tot die Here. Julle moet net julle kleinvee en beeste hier los. Selfs julle kinders kan saam met julle gaan.” Moses was vererg en het hom geantwoord: “Dan sal u maar self die diere moet verskaf vir die slagoffers en brandoffers wat ons vir die Here ons God moet bring. Ons diere moet saam met ons gaan. Daar mag niks agterbly nie. Ons moet uit ons eie diere vir die Here ons God offer. Boonop weet ons glad nie wat ons vir die Here sal moet offer voor ons eers daar aangekom het nie.” Die Here het die farao maar weer laat vassteek. Hy was glad nie bereid om hulle te laat gaan nie. Hy het vir Moses geskreeu: “Gee pad voor my! Ek wil jou nooit weer sien nie! As ek jou ooit weer sien, gaan ek jou doodmaak!” Moses sê toe vir hom: “Jy is hierdie keer reg. Jy sal my nooit weer sien nie.”
EKSODUS 10:24-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die farao het Moses laat kom. “Loop en gaan aanbid die HERE,” het hy gesê. “Net julle beeste en skape moet hier bly. Julle vroue en kinders kan maar saam met julle gaan.” “U sal tog nie van u eie diere gee om vir die HERE ons God te offer nie,” het Moses geantwoord. “Al ons diere moet saam met ons gaan. Daar kan nie een agterbly nie. Uit hulle moet ons vir die HERE offers bring. Ons kan ook nie voor die tyd weet watter offers ons daar gaan nodig kry nie.” Die HERE het die farao maar weer hardkoppig gemaak. Hy het steeds nie ingestem om hulle te laat gaan nie. “Loop hier weg!” het die farao vir Moses geskreeu. “Sorg dat ek jou nooit weer sien nie. As ek jou ooit weer sien, maak ek jou dood!” “Nou goed dan!” het Moses geantwoord. “Dit is net soos u sê. Ek sal u nooit weer sien nie.”