ESTER 6:4-10
ESTER 6:4-10 Bybel vir almal (ABA)
Die koning vra toe: “Is daar iemand op die oop stuk grond?” Haman het daardie tyd op die oop stuk grond van die paleis gekom. Hy wou vir die koning vra om vir Mordegai op te hang aan die paal wat hy laat plant het. Die koning se jongmanne sê toe vir die koning: “Haman staan daar op die oop stuk grond.” En die koning sê: “Sê vir hom hy moet inkom.” Toe Haman inkom, vra die koning vir hom: “Haman, wat dink jy moet ons doen vir iemand wanneer die koning vir hom wil wys dat hy belangrik is?” Haman het gedink: Vir wie wil die koning wys dat hy belangrik is? Ek is seker dit is ek. Hy sê toe vir die koning: “Wanneer die koning vir iemand wil wys dat hy belangrik is, dan moet hulle koningsklere bring wat die koning self gedra het. Hulle moet ook 'n perd bring waarop die koning gery het, 'n perd wat 'n kroon op sy kop het. Hulle moet die klere en die perd gee vir een van die belangrikste amptenare van die koning. Hy moet dan die klere vir daardie persoon aantrek, die persoon vir wie die koning wil wys dat hy belangrik is. Die amptenaar moet daardie belangrike persoon op die perd laat ry oor die oop stuk grond in die stad en hy moet skree: ‘Dit is wat ons doen met iemand wanneer die koning wil wys dat hy belangrik is.’ ” Die koning sê toe vir Haman: “Maak gou! Neem die klere en die perd en doen soos jy gesê het met die Judeër Mordegai wat voor die paleis sit. Jy moet alles doen wat jy gesê het.”
ESTER 6:4-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe sê die koning: Wie is in die voorhof? — juis toe Haman in die buitenste voorhof van die koninklike paleis kom om aan die koning te sê dat hulle Mórdegai moes ophang aan die galg wat hy vir hom laat oprig het. En die jongmanne van die koning antwoord hom: Daar staan Haman in die voorhof. Toe sê die koning: Laat hy inkom. Nadat Haman ingekom het, vra die koning hom: Wat moet met die man gedoen word aan wie die koning eer wil bewys? Haman dink toe by homself: Aan wie sou die koning eer wil bewys meer as aan my? Daarom het Haman vir die koning gesê: Die man aan wie die koning eer wil bewys — laat hulle 'n koninklike kleed bring waarmee die koning bekleed was, en 'n perd waar die koning op gery het en op die kop waarvan 'n koninklike kroon gesit is; en laat hulle die kleed en die perd afgee aan een van die vorste van die koning, van die vername manne, dat hulle dit die man aantrek aan wie die koning eer wil bewys; en hulle moet hom laat ry op die perd oor die stadsplein en voor hom uitroep: So word gedoen aan die man aan wie die koning eer wil bewys. Toe sê die koning vir Haman: Neem gou die kleed en die perd soos jy gespreek het, en doen so aan Mórdegai, die Jood, wat in die poort van die koning sit; jy moet nie een woord onvervuld laat bly van alles wat jy gespreek het nie.
ESTER 6:4-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe vra die koning: “Wie is in die voorhof?” Net toe kom Haman aan in die buitenste voorhof van die paleis om by die koning aan te beveel dat Mordegai opgehang moet word aan die galg wat Haman vir hom opgerig het. Die dienaars van die koning sê toe vir hom: “Haman staan in die voorhof.” Toe sê die koning: “Laat hy inkom!” Haman het binnegekom en die koning het hom gevra: “Wat moet gedoen word met iemand aan wie die koning baie graag eer wil bewys?” Haman het gedink: aan wie anders as aan my sou die koning eer wou bewys? Toe antwoord hy die koning: “Met die man aan wie die koning graag eer wil bewys, moet soos volg gehandel word: daar moet 'n koninklike kleed gebring word wat die koning self aangehad het en 'n perd waarop die koning self gery het, 'n perd met die koninklike embleem op sy kop. Die kleed en die perd moet oorhandig word aan een van die hoogste amptenare van die koning, en dié moet die kleed aantrek vir die man aan wie die koning graag eer wil bewys. Die amptenare moet die man dan op die perd oor die stadsplein laat ry en voor hom uitroep: So word gemaak met iemand aan wie die koning graag eer wil bewys!” Toe sê die koning vir Haman: “Vat dadelik die kleed en die perd en maak soos jy voorgestel het met die Jood Mordegai wat in die poort van die paleis sit. Jy moet niks nalaat van wat jy voorgestel het nie.”
ESTER 6:4-10 Die Boodskap (DB)
“Wie is daar in die voorportaal?” wou die koning weet. Want op daardie oomblik het Haman in die voorportaal van die paleis aangekom om vir die koning te kom vra om Mordegai aan die galg, wat hy klaar gebou het, te laat ophang. “Dis Haman wat daar staan,” sê die paleisamptenare toe. “Nou laat hom inkom” sê die koning. Nadat Haman ingekom het, vra die koning vir hom: “Daar is iemand wat ek wil vereer. Wat moet ek vir hierdie man doen?” Haman dink toe so by homself: “Aan wie anders as aan my sou die koning eer wou bewys?” Daarom sê hy toe: “Laat hulle vir hom ’n koninklike kleed bring soos dié wat die koning dra en ’n perd waarop die koning self al gery het met die koninklike embleem op sy kop. Kry dan een van u hoogste amptenare om die kleed vir hom om te hang en hom op die perd oor die stadsplein te lei. So ver hulle gaan, moet hy dan uitroep: So lyk dit as die koning aan iemand eer bewys!” Toe sê die koning vir Haman: “Vat dadelik die kleed en die perd en gaan gee dit vir Mordegai, die Jood wat daar by die hek van die paleis sit. Jy moet alles doen wat jy voorgestel het.”
ESTER 6:4-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Wie is daar in die voorhof?” wou die koning weet. Haman was juis besig om van die buitenste voorhof van die paleis af in te kom. Hy wou by die koning toestemming kry dat Mordegai aan die galg wat Haman vir hom laat oprig het, opgehang moes word. Die amptenare van die koning sê vir hom: “Dit is Haman wat in die voorhof staan.” “Laat hy inkom!” sê die koning. Toe Haman inkom, vra die koning vir hom: “Wat dink jy moet gedoen word vir iemand wat die koning graag wil vereer?” Haman het by homself gedink: “Vir wie anders sou die koning eerder wil vereer as vir my?” Hy antwoord toe die koning: “As die koning iemand graag wil vereer, moet hulle van die koning se klere bring wat hy self gedra het en die perd waarop die koning self gery het met die koning se embleem op sy voorkop. Die klere en die perd moet vir een van die hoogste amptenare van die koning gegee word, en hy moet die klere aantrek vir die man vir wie die koning graag wil vereer. Die amptenaar moet dan die man op die perd laat ry en hom oor die stadsplein lei terwyl hy uitroep: ‘Dit is wat gedoen word met die persoon wat die koning graag wil vereer!’” “Uitstekend,” sê die koning vir Haman. “Vat dadelik van my klere en my perd. Gaan doen dan soos jy voorgestel het met die Jood Mordegai wat in die poort van die paleis bly. Moet niks nalaat van alles wat jy gesê het nie.”