EFESIËRS 5:21-31

EFESIËRS 5:21-31 Die Boodskap (DB)

Omdat julle soveel respek vir Christus het, moet die een nie dink hy is beter of belangriker as die ander nie. Elkeen moet bereid wees om dáár te wees vir die ander een. Laat ek eers met die vroue praat. Jy moet die leiding van jou man aanvaar soos ons die leiding van die Here aanvaar. Die man moet die leiding oor sy vrou neem soos Christus die leiding in sy kerk neem. Hy het mos sy kerk uit die kloue van die sonde gered. Soos die kerk dus die leiding van Christus aanvaar, so moet die vrou ook haar man se leiding in alles aanvaar. Vir die man wil ek die volgende sê: Jy moet jou vrou liefhê; wees lojaal teenoor haar en kom jou verpligtings teenoor haar na soos Christus dit teenoor sy kerk doen. Hy het selfs sy lewe ter wille van die kerk gegee toe dit nodig was. Dit het Hy gedoen sodat die kerk net God s’n kan wees en daar niks in die kerk moet wees wat nie by God pas nie. Dit het gebeur deur die doop en die Woord. So sal die kerk in ongekende heerlikheid by Hom wees. Daar sal niks met die kerk verkeerd wees nie en niemand sal enige fout met die kerk kan vind nie. Die kerk sal net God s’n wees en net vir Hom daar wees. Die man behoort net so lief te wees vir sy vrou as wat hy vir homself is. Buitendien, die man wat sy vrou liefhet, het eintlik homself lief, want hulle is mos een in die huwelik. Ek het nog nie van iemand gehoor wat homself vurig haat nie. Nee, hy kyk liewer na homself en versorg homself mooi. Dit is wat Jesus met die kerk doen, want die kerk is vir Hom sy eie liggaam. Die Skrif sê mos: “’n Man moet sy pa en ma verlaat en met sy vrou gaan saamleef. Die twee sal soos een mens wees.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid