EFESIËRS 4:8-11
EFESIËRS 4:8-11 Bybel vir almal (ABA)
Daarom lees ons in die Ou Testament: Hy het opgegaan na die hemel en Hy het gevangenes saamgeneem, Hy het vir die mense presente gegee. Ons lees: Hy het opgegaan. Dit beteken Christus het eers afgekom ondertoe, na die aarde. Ja, Christus het afgekom na die aarde en toe het Hy weer teruggegaan na die hoogste hemel. Hy het dit gedoen sodat Hy oral en altyd kan regeer. En Christus het vir ons presente, genadegawes, gegee. Die genadegawes is die apostels, die profete, en die leiers wat die goeie boodskap bring of vir die gelowiges sorg of vir hulle leer.
EFESIËRS 4:8-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee. Maar dít: Hy het opgevaar — wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde? Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring. En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars
EFESIËRS 4:8-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarom sê die Skrif: “Toe Hy na die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee.” Hierdie uitdrukking: “Hy het opgevaar”, veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe. Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul. En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars.
EFESIËRS 4:8-11 Die Boodskap (DB)
Daarom sê die Skrif van Jesus: “Toe Hy terug is hemel toe, het Hy teruggegaan soos ’n koning wat die oorlog gewen het. Almal kon aan sy vyande sien dat Hy gewen het en Hy het geskenke aan die mense uitgedeel.” (Wat presies beteken hierdie “teruggaan hemel toe”? Dit beteken mos dat Hy voorheen in die hemel was en toe na die aarde toe afgekom het. Juis Hy is terug hemel toe. Nou is daar nie ’n hoekie of kantjie van hierdie heelal waar Jesus nie teenwoordig is nie.) Hierdie Christus het vir ons spesiale dinge gegee om in die gemeente te doen. Nie elkeen van ons het dieselfde gekry om te doen nie. Party van ons het Hy gestuur om sy boodskap op ander plekke te gaan verkondig, terwyl ander weer die gawe gekry het om spesiale boodskappe aan die gemeente self oor te dra. Dan is daar ook party wat die boodskap oor Jesus mooi vir mense kan verduidelik, ander wat mense kan help en lei as hulle hulp nodig het en ander wat soos goeie onderwysers mense stap vir stap kan leer wat die boodskap van God alles behels.
EFESIËRS 4:8-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarom sê die Skrif: “Toe Hy in die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes meegevoer en geskenke aan die mense gegee.” Wat beteken “Hy het opgevaar” anders as dat Hy eers vooraf moes neergedaal het na dit wat laer is, naamlik na die aarde toe? Dieselfde Persoon wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het tot ver bo die wolke- en sterrehemel sodat Hy die heelal met sy teenwoordigheid kan vul. Hý het sommige as apostels gegee, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars