AMOS 8:4-6
AMOS 8:4-6 Bybel vir almal (ABA)
“Luister na wat Ek sê. Julle doen slegte dinge aan die arm mense, julle wil die mense wat niks het nie, doodmaak. Julle sê: ‘Wanneer is die Nuwemaan-fees verby? Dan kan ons weer koring verkoop. Wanneer is die Sabbatdag verby? Dan kan ons weer ons koringwinkels oopmaak en skelm wees. Wanneer ons die koring weeg, dan sal ons die mense te veel laat betaal.’ Julle verkoop ook die koring se kaf en julle verkoop arm mense omdat hulle geld skuld vir 'n paar sandale. Dan word die mense slawe.”
AMOS 8:4-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hoor dit, julle wat die behoeftige vertrap en daarop uit is om die ootmoediges van die land uit te roei, deur te sê: Wanneer is die nuwemaan verby, sodat ons koring kan verkoop, en die sabbat, sodat ons die graanskuur kan oopsluit — om die efa te verklein en die sikkel te vergroot en bedrieglik te handel met 'n valse weegskaal; om die armes vir geld te koop en die behoeftige vir 'n paar skoene; ook die afval van die koring sal ons verkoop.
AMOS 8:4-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Luister hierna, julle wat arm mense vertrap, julle wat die mense in nood in die land wil uitroei. Julle sê: “Wanneer is Nuwemaan verby dat ons koring kan verkoop, of Sabbat, dat ons ons graanwinkels weer kan oopmaak en minder graan vir meer geld kan verkoop? Ons laat die skaal mos kul soos ons wil!” Julle verkoop arm mense vir geld, behoeftiges oor 'n paar sandale, julle verkoop selfs die koringkaf.
AMOS 8:4-6 Die Boodskap (DB)
Luister ’n bietjie wat die Here vir Homself beloof het, julle wat op die arm mense trap. Julle wat van die behoeftiges in julle land probeer ontslae raak. Julle kan nie wag dat die fees van die nuwemaan verby is sodat julle weer julle deure kan oopmaak en kan aangaan om graan te verkoop nie. Julle wens die Here se rusdag om sodat julle weer julle winkels waar julle koring verkoop, kan oopmaak vir besigheid. Julle is daarop uit om met weegskale waaraan daar gepeuter is, al minder goed vir al meer geld te verkoop. Julle verkoop koring wat met nuttelose kaf gemeng is. Julle verkoop arm mense wat nie hulle skuld kan betaal nie. Julle is bereid om hulle vir so min te verkoop as die geld wat ’n mens kry vir ’n paar sandale.
AMOS 8:4-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle wat die armes besteel en die behoeftiges vertrap, luister hierna! Julle kan nie wag dat die Nuwemaanfees of die Sabbat verby is sodat julle graan kan verkoop nie. Julle meet graan met ’n vals maatbak en bedrieg deur skaalgewigte swaarder te maak. Die koring wat julle verkoop, meng julle met kaf! Julle koop armes vir geld en behoeftiges vir ’n paar sandale.