HANDELINGE 9:19-25
HANDELINGE 9:19-25 Bybel vir almal (ABA)
Saulus het toe geëet en hy het beter gevoel. Saulus het 'n paar dae by die gelowiges in die stad Damaskus gebly, en hy het dadelik in die sinagoges begin preek oor Jesus. Hy het gesê: “Hierdie Jesus is die Seun van God.” Al die mense wat vir Saulus gehoor praat het, was baie verbaas en hulle het gesê: “Is Saulus die man wat in Jerusalem probeer het om die mense dood te maak wat vir Jesus aanbid? Is hý die man wat hiernatoe gekom het om vir die mense wat vir Jesus aanbid, te vang en na die priesterleiers toe te neem?” Maar Saulus het beter en beter gepreek vir die Jode wat in die stad Damaskus woon en hy het só goed verduidelik dat Jesus die Christus is, dat hulle nie vir hom kon antwoord nie. Ná 'n lang tyd het die Jode planne gemaak om vir Saulus dood te maak, maar hy het gehoor van hulle planne. Hulle het elke dag en elke nag die stad se poorte dopgehou om vir Saulus te vang en dood te maak. Maar mense wat ook gelowiges was, soos Saulus, het in die nag vir Saulus geneem en hulle het hom in 'n groot mandjie laat afsak deur 'n venster in die stad se muur.
HANDELINGE 9:19-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En nadat hy voedsel gebruik het, het hy weer sterk geword. En Saulus was 'n paar dae saam met die dissipels in Damaskus. EN hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is. En almal wat hom gehoor het, was verbaas en het gesê: Is hý nie die man wat in Jerusalem uitgeroei het die wat hierdie Naam aanroep, en hier gekom het met die doel om hulle geboeid na die owerpriesters te bring nie? Maar Saulus het al meer krag ontvang en die Jode wat in Damaskus woon, in die war gebring deur te bewys dat Hy, Jesus, die Christus is. En ná geruime tyd het die Jode beraadslaag om hom om te bring. En hulle plan het aan Saulus bekend geword. En hulle het die poorte dag en nag bewaak, dat hulle hom kon ombring; maar die dissipels het hom geneem en in die nag deur die muur neergelaat deur hom in 'n mandjie te laat afsak.
HANDELINGE 9:19-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
en hy het geëet en sy kragte herwin. Saulus het 'n paar dae daar by die gelowiges in Damaskus gebly en dadelik in die sinagoges begin verkondig dat Jesus die Seun van God is. Almal wat dit gehoor het, was verbaas en het gesê: “Is dit nie die man wat in Jerusalem die mense wat hierdie Naam aanroep, wou uitroei nie? En het hy nie ook hierheen gekom om hulle gevange te neem en voor die priesterhoofde te bring nie?” Maar Saulus het al hoe kragtiger gepreek en die Jode wat in Damaskus woon, in die war gebring deur te bewys dat Jesus die Christus is. Na verloop van tyd het die Jode saamgesweer om Saulus te vermoor, maar hy het van hulle plan te hore gekom. Dag en nag was hulle by die stad se poorte op die uitkyk om hom dood te maak. Maar sy medegelowiges het hom een nag geneem en in 'n mandjie laat afsak deur 'n opening in die stadsmuur.
HANDELINGE 9:19-25 Die Boodskap (DB)
Toe het hy weer begin eet. Sy liggaamskragte het gou teruggekeer. Daarna het Saulus nog ’n ruk by die gelowiges in Damaskus gebly. Saulus het by die Joodse aanbiddingsplek daar in Damaskus ingestap en vir die mense vertel dat Jesus die Seun van God is. Almal wat hom hoor praat het, was baie verbaas. “Wat gaan nou aan? Is hy nie die man wat in Jerusalem verwoesting gesaai het onder almal wat in daardie Jesus glo nie? Hy het dan juis hierheen gekom om hulle te vang sodat hulle voor die hoëpriester aangekla kan word,” het hulle vir mekaar gesê. Hierdie opmerkings het Saulus nie van stryk gebring nie. Die Here was by hom met sy groot krag. Saulus het die Jode later skoon deurmekaargepraat. Hy het vir hulle gewys dat Jesus regtig die Messias is, die Een vir wie God gestuur het om ons sondes weg te vat. Die Jode het later besluit om Saulus dood te maak, maar gelukkig het hy daarvan te hore gekom. Om seker te maak dat Saulus nie ontsnap nie, het hulle toe die stad se hekke dag en nag laat oppas. Die gelowiges het ’n slim plan gemaak. Een nag het hulle Saulus in ’n groot mandjie gesit en hom oor die stadsmuur laat afsak.
HANDELINGE 9:19-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy het toe kos geëet en sy kragte begin herwin. Saulus het ’n paar dae by die gelowiges in Damaskus gebly. Hy het Jesus dadelik in die sinagoges begin verkondig – dat Hy die Seun van God is. Almal wat hom gehoor het, was verbaas en het gesê: “Is dit nie dié man wat Jesus se volgelinge in Jerusalem vervolg het nie? Dis mos presies waarvoor hy hierheen gekom het: om hulle geboei voor die priesterhoofde te bring!” Saulus se prediking het al hoe kragtiger geword en het die Damaskus-Jode in die war gebring deur te bewys dat Jesus die Christus is. Na etlike dae het dié Jode saamgesweer om Saulus te vermoor. Hulle komplot het egter aan Saulus uitgelek. Dag en nag het hulle die stad se poorte dopgehou om hom te vermoor. Maar sy volgelinge het hom in ’n mandjie deur ’n opening in die stadsmuur laat afsak.