HANDELINGE 4:32-37
HANDELINGE 4:32-37 Bybel vir almal (ABA)
Baie mense het begin glo en hulle het almal dieselfde gedink en gevoel. Niemand het gesê dat sy goed net sy eie goed is nie, nee, hulle het alles gedeel met mekaar. Die apostels het ernstig getuig dat die Here Jesus gesterf het, maar dat Hy weer lewe. En God was baie goed vir hulle almal. Want niemand van hulle het te min gehad nie. Die mense wat grond of huise gehad het, het dit verkoop, en dan het hulle die geld gebring en dit vir die apostels gegee. Die apostels het dit uitgedeel vir elkeen wat iets nodig gehad het. Daar was 'n man, sy naam was Josef. Die apostels het hom Barnabas genoem. Barnabas beteken “Iemand wat ander mense bemoedig.” Hy was 'n Leviet, hy het van die eiland Siprus gekom. Hy het 'n stuk grond gehad en hy het dit verkoop. Toe bring hy die geld en hy gee dit vir die apostels.
HANDELINGE 4:32-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad. En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal. Want niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê. En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het. En Joses wie se bynaam onder die apostels Bárnabas was — wat, as dit vertaal word, beteken seun van vertroosting — 'n Leviet, van geboorte uit Ciprus, het 'n stuk grond gehad en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê.
HANDELINGE 4:32-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Josef 'n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is – dit beteken iemand wat mense moed inpraat – het ook die grond wat hy gehad het, verkoop en die geld gebring en dit vir die apostels gegee.
HANDELINGE 4:32-37 Die Boodskap (DB)
Die gelowiges was ’n hegte eenheid. Hulle het baie vir mekaar omgegee. Niemand van hulle het krampagtig aan hulle besittings vasgeklou nie. Die apostels het ook vir almal vertel dat God Jesus lewendig gemaak het. Hulle was glad nie bang om dit te doen nie. God se goedheid was groot oor al die gelowiges. Niemand van hulle was meer arm nie. Almal wat iewers ’n stukkie grond of ’n huis gehad het, het dit verkoop en die geld vir die apostels gaan gee. Op hulle beurt het die apostels dit uitgedeel aan diegene wat geld nodig gehad het. So het ’n man met die naam Josef, wat deur die apostels Barnabas genoem is (dit beteken: iemand wat ander mense bemoedig) en wat van Siprus af gekom het, ’n stuk grond van hom verkoop en al die geld vir die apostels gaan gee.
HANDELINGE 4:32-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Al die gelowiges was in hart en siel één. Niemand het opgetree asof sy besittings net sy eie was nie, hulle het alles gedeel wat hulle gehad het. Die apostels het kragtige getuienis gegee oor die opstanding van die Here Jesus, en God het sy genade ryklik aan elkeen gegee. Nie een van hulle het ’n tekort gehad nie, want gelowiges wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die opbrengs daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte. So was daar byvoorbeeld Josef wat deur die apostels Barnabas genoem is (dit beteken iemand wat mense moed inpraat). Hy was uit die stam van Levi, en is op Siprus gebore. Hy het sy grond verkoop en die geld vir die apostels gebring om vir dié te gee wat tekort het.