HANDELINGE 17:10-12
HANDELINGE 17:10-12 Bybel vir almal (ABA)
Toe dit donker geword het, het die gelowiges dadelik vir Paulus en Silas na Berea gestuur. Toe hulle daar aankom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. Hierdie Jode was anders as die Jode in Tessalonika, hulle wou graag leer en hulle het baie graag geluister na wat Paulus en sy vriende vertel het. Hulle het elke dag die Ou Testament baie goed gelees om te kyk of die dinge waar is wat Paulus en sy vriende vertel het. Baie van die Jode en van die belangrike Griekse vroue en mans het in die Here Jesus begin glo.
HANDELINGE 17:10-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was. Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke 'n groot aantal, vroue en manne.
HANDELINGE 17:10-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Sodra dit donker was, het die gelowiges vir Paulus en Silas na Berea toe gestuur. Daar aangekom, het hulle na die Joodse sinagoge toe gegaan. Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika. Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê. Baie van die Jode het gelowig geword en ook heelparty van die Grieke, mans sowel as vooraanstaande vroue.
HANDELINGE 17:10-12 Die Boodskap (DB)
Daardie nag nog het die gelowiges vir Paulus en Silas by die stad uitgesmokkel. Hulle volgende bestemming was Berea. Daar het hulle na die Joodse sinagoge gegaan en begin preek. Die mense daar was darem ’n bietjie vriendeliker as in Tessalonika. Hulle het opgewonde geluister na alles wat Paulus-hulle vir hulle gesê het. Elke dag het hulle almal lang gesprekke oor die Bybel gevoer. Hulle wou vasstel of alles wat Paulus gesê het wel daarin opgeteken staan. Uiteindelik het baie Jode tot geloof in Jesus gekom; so ook ’n groep van die belangrike mans en vroue in die stad.
HANDELINGE 17:10-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe dit donker was, het die gelowiges vir Paulus en Silas na Berea toe gestuur. Daar aangekom, het hulle na die Jode se sinagoge gegaan. Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika, en hulle het met groot belangstelling na Paulus se boodskap geluister. Hulle het elke dag die Skrifte ondersoek om te sien of dit is soos Paulus en Silas sê. Baie van hulle het gevolglik gelowig geword en ook heelparty van die Grieke, sowel vooraanstaande vroue as mans.