2 KONINGS 6:24-33

2 KONINGS 6:24-33 Bybel vir almal (ABA)

Later het koning Ben-Hadad van Aram al sy manne laat bymekaarkom en hulle het hulle tente rondom die stad Samaria opgeslaan. Hulle het daar gebly, en die kos in Samaria het baie min geword. Die kos het later baie duur geword, 'n donkie se kop het 80 sikkels gekos en 'n klein bietjie duiwemis het vyf sikkels gekos. Toe die koning van Israel eendag op die muur van die stad verbyloop, het 'n vrou vir hom geskree: “Meneer die koning, jy moet my help!” Die koning het geantwoord: “Die Here sal jou moet help. Ek het niks wat ek vir jou kan gee nie, nie koring of wyn of olyf-olie nie.” Die koning vra toe vir die vrou: “Maar wat is jou probleem?” En sy het gesê: “Hierdie vrou het vir my gesê ek moet my seun gee sodat ons hom vandag kan eet, dan eet ons môre haar seun. Ons het toe my seun gekook en ons het hom geëet, en toe ek die volgende dag vir haar sê sy moet haar seun bring sodat ons hom kan eet, het sy haar seun weggesteek.” Toe die koning hoor wat die vrou sê, het hy sy klere geskeur en rouklere aangetrek. Hy het op die muur geloop, en die mense kon sien dat hy rouklere aangehad het onder sy ander klere. Die koning het gesê: “Vandag sal ek die kop van Elisa seun van Safat laat afkap. God moet my straf as ek dit nie doen nie.” Die koning het iemand gestuur om Elisa se kop af te kap. Elisa was in sy huis, en die leiers het by hom gesit. Maar voordat die man wat die koning gestuur het, daar gekom het, het Elisa vir die leiers gesê: “Weet julle dat hierdie moordenaar, die koning van Israel, iemand gestuur het om my kop af te kap? Julle moet kyk, en wanneer die persoon kom, dan moet julle die deur sluit en hom buite hou. Ek hoor sy koning kom saam met hom.” Terwyl Elisa besig was om te praat, het die koning self daar aangekom. En toe sê hy vir Elisa: “Dit is die Here wat dit so sleg laat gaan met ons. Ek weet Hy wil ons nie help nie.”

2 KONINGS 6:24-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN daarna het Bénhadad, die koning van Aram, sy hele leër versamel en opgetrek en Samaría beleër. En daar was 'n groot hongersnood in Samaría, want hulle het dit beleër totdat 'n eselskop tagtig sikkels silwer en 'n kwart-kab duiwemis vyf sikkels silwer werd was. En terwyl die koning op die muur verbygaan, roep 'n vrou na hom en sê: Help, heer koning! Maar hy antwoord: As die HERE jou nie help nie, waarvandaan moet ek jou dan help? Van die dorsvloer of van die parskuip? Verder sê die koning vir haar: Wat is dit met jou? En sy antwoord: Hierdie vrou het vir my gesê: Gee jou seun, dat ons hom vandag eet; dan kan ons môre my seun eet. So het ons dan my seun gekook en hom geëet; maar toe ek die volgende dag vir haar sê: Gee jou seun, dat ons hom eet — het sy haar seun weggesteek. En toe die koning die woorde van die vrou hoor, skeur hy sy klere, terwyl hy op die muur verder loop — die mense het gesien hoe daar 'n roukleed onder op sy liggaam was — en hy sê: Mag God so aan my doen en so daaraan toedoen, as die hoof van Elísa, die seun van Safat, vandag op hom sal bly staan. En terwyl Elísa in sy huis sit en die oudstes by hom sit, het die koning 'n man voor hom uit gestuur; maar voordat die boodskapper by hom kom, sê hy aan die oudstes: Het julle gesien dat hierdie moordenaarskind stuur om my hoof af te slaan? Let op! Sodra die boodskapper kom, sluit dan die deur toe en druk hom met die deur weg. Is die geruis van sy heer se voetstappe nie agter hom nie? Terwyl hy nog met hulle spreek, kom die boodskapper juis af na hom toe. En die koning sê: Kyk, hierdie onheil kom van die HERE; wat sou ek langer op die HERE wag?

2 KONINGS 6:24-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

Later het koning Ben-Hadad van Aram sy hele leër opgeroep, na Samaria toe opgeruk en dit beleër. Daar het 'n groot hongersnood in Samaria ontstaan, en die beleg het voortgeduur totdat die kop van 'n donkie naderhand byna 'n kilogram silwer gekos het en 'n klein skeppie duiwemis sewe en vyftig gram. Toe die koning van Israel 'n keer op die stadsmuur langs verbyloop, het 'n vrou uitgeroep: “Help my asseblief, U Majesteit!” Hy het geantwoord: “As die Here jou nie help nie, hoe sal ek jou kan help? Uit die dorsvloer of uit die parskuip?” Toe die koning haar vra wat haar moeilikheid is, antwoord sy: “Hierdie vrou het aan my voorgestel: ‘Gee jou kind dat ons hom vandag eet, dan kan ons môre my kind eet.’ Ons het toe my kind gekook en geëet, maar toe ek vir haar die volgende dag sê: Gee nou jou kind dat ons hom eet, het sy haar kind weggesteek!” Toe die koning die vrou se verhaal hoor, het hy sy klere geskeur. Soos hy op die muur langs verbygeloop het, kon die bevolking sien dat hy 'n roukleed onder sy ander klere aanhet. Hy het uitgeroep: “Mag die Here my om die lewe bring as ek vandag Elisa seun van Safat se kop op sy lyf laat bly.” Elisa het in sy huis gesit saam met die leiers. Die koning het iemand met 'n opdrag gestuur, maar voordat die boodskapper nog by Elisa aangekom het, het hy al vir die leiers gesê: “Weet julle, hierdie moordenaarskind het iemand gestuur om my kop af te kap. Hou dop wanneer die boodskapper kom. Sluit dan die deur en hou hom buite. Sy koning kom agter hom aan.” Terwyl Elisa nog so met hulle sit en praat, het die koning self na hom toe gekom en gesê: “Kyk watter ellende het die Here oor ons gebring. Hoe kan ek nog op die Here hoop!”

2 KONINGS 6:24-33 Die Boodskap (DB)

’n Ruk later het Ben-Hadad, die koning van Aram, sy hele leër opgeroep. Hulle het na Samaria toe opgetrek en die hele stad lamgelê. ’n Verskriklike hongersnood het geleidelik as gevolg van die beleg ontstaan. Dit was só erg dat ’n donkiekop later byna ’n kilogram silwer en ’n skeppie duiwemis meer as 50 gram silwer gekos het. Eendag het die koning van Israel op die stadsmuur gaan stap om te sien wat in die stad aangaan. ’n Vrou het hom gesien en uitgeroep: “U Majesteit, help my, asseblief!” “As die Here jou nie help nie, hoe kan ek help? Ek het nie meel of wyn nie, daar is niks nie!” het hy geantwoord. Maar toe vra hy haar: “Waarmee kan ek help?” “In my saak teen dié vrou, o koning,” het sy geantwoord. “Sy het gesê: ‘Kom ons eet jou seun vandag, dan kan ons môre myne gaarmaak.’ Ons het my seun toe eerste geëet, maar toe ek die volgende dag vir haar sê: ‘Maak nou jou seun dood, dat ons kan eet,’ het sy haar kind weggesteek.” Die koning was verskriklik ontsteld toe hy haar storie hoor. Hy het sy klere stukkend geskeur as teken van sy ontsteltenis. Toe hy verder loop, kon die stad se mense sien dat hy ’n growwe roukleed onder sy klere aangehad het. “God kan my maar doodmaak as ek nie vandag nog vir Elisa doodmaak nie,” het hy ontsteld verklaar. Elisa het op daardie tydstip saam met ’n groep leiers in sy huis gesit. Die koning het ’n boodskapper na hom gestuur om hom te laat roep. Nog voordat die boodskapper egter by die huis aangekom het, het Elisa vir die mense by hom gesê: “Pas op! Ons koning, die seun van ’n moordenaar, het iemand gestuur om my dood te maak. Sorg dat die deur toe is as hy hier kom sodat hy nie kan inkom nie. Die koning is self te voet hierheen op pad. Ek sal met hom praat.” Hy was nog besig om te praat toe dit gebeur. Die koning het Elisa toegesnou: “Dit is die Here self wat hierdie ellende oor ons laat kom het! Hoe kan ek nog langer hoop dat Hy ons moet red?”

2 KONINGS 6:24-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

’n Tyd later het koning Ben-Hadad van Aram egter sy hele leër opgeroep en Samaria beleër. Daar het toe ’n ernstige hongersnood in die stad ontstaan. Na ’n tyd is ’n donkiekop verkoop vir een kilogram silwer, en ’n handjie vol duiwemis vir omtrent 50 gram silwer. Op ’n dag, terwyl die koning op die stadsmuur verbyloop, roep ’n vrou na hom: “Help my tog, my heer die koning!” “As die HERE jou nie help nie, wat kan ek dan doen?” antwoord hy. “Ek het geen kos van die dorsvloer of wyn uit die parskuip om vir jou te gee nie. Maar wat is jou probleem?” vra die koning. Sy antwoord: “Hierdie vrou het voorgestel: ‘Gee jou seun dat ons hom vandag kan eet, dan eet ons my seun môre.’ Toe het ons my seun gekook en opgeëet. Die volgende dag sê ek: ‘Maak jou seun dood sodat ons hom kan eet,’ maar sy wou nie en het haar seun weggesteek.” Toe die koning dit hoor, skeur hy sy klere van radeloosheid. Soos die koning al met die muur loop, merk die mense dat hy ’n roukleed onder sy klere dra. “Mag God my tref as ek vandag Elisa seun van Safat se kop aan sy lyf laat bly,” sê die koning. Elisa het in sy huis gesit en praat met die leiers van Israel. Die koning het ’n boodskapper vooruit gestuur, maar voordat hy daar aankom, sê Elisa vir die leiers: “Kyk, die moordenaarskind het iemand gestuur om my kop af te kap. Wanneer hy hier aankom, moet julle die deur sluit en hom buite hou. Sy koning is kort agter hom.” Terwyl Elisa besig was om dit te sê, kom die boodskapper daar aan met die boodskap: “Die koning sê: Die HERE het al hierdie ellende oor ons gebring! Hoekom moet ek nog langer vir die HERE wag?”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid