2 KONINGS 10:18-28

2 KONINGS 10:18-28 Bybel vir almal (ABA)

Jehu het daarna al die mense laat bymekaarkom en hy het vir hulle gesê: “Agab het vir Baäl net 'n bietjie gedien, maar ek, Jehu, gaan vir Baäl baie dien. Daarom, roep al die profete van Baäl en almal wat hom dien en al sy priesters. Julle moenie een laat wegbly nie, want ek wil vir Baäl 'n groot offer bring. Ek sal almal laat doodmaak wat nie kom nie.” Jehu het dit gesê omdat hy almal wou doodmaak wat vir Baäl gedien het. Hy het gesê hulle moet vir almal sê daar sal 'n feesdag vir Baäl wees. Hulle het dit gedoen, en Jehu het dit vir al die mense van Israel laat weet. Almal wat vir Baäl gedien het, het gekom. Niemand het by die huis gebly nie. Hulle het na die tempel van Baäl gekom, en die tempel was heeltemal vol, van die een kant tot by die ander kant. Toe sê Jehu vir die amptenaar wat die klerekamer moes oppas: “Jy moet klere bring vir almal wat vir Baäl dien.” Die amptenaar se mense het die klere uitgebring, en Jehu en Jonadab seun van Rekab het in die tempel van Baäl ingegaan en hulle het vir die mense wat vir Baäl gedien het, gesê: “Julle moet kyk, hier moenie dienaars van die Here tussen julle wees nie. Hier moet net mense wees wat vir Baäl dien.” Hulle het toe ingegaan om die brand-offers en ander offers te bring. Jehu het 80 manne buite laat staan en hy het vir hulle gesê: “Julle moet hierdie mense doodmaak. As een van julle iemand hier vry laat wegkom, dan sal hy sterf.” Dadelik nadat Jehu klaar die brand-offer ge-offer het, het hy vir die wagte en die offisiere gesê: “Gaan in en maak hulle almal dood, niemand moet uitkom nie.” Hulle het toe die mense wat vir Baäl gedien het, doodgesteek met swaarde. Die wagte en die offisiere het die dooie liggame uitgegooi. Toe het hulle in die agterste kamer van die tempel ingegaan en hulle het die klip-pale uit die tempel van Baäl gebring en in die vuur gegooi. Hulle het Baäl se klip-paal stukkend geslaan en hulle het die tempel van Baäl afgebreek. Hulle het 'n toilet daarvan gemaak. Dit is vandag nog so. Party mense in Israel het voorheen vir Baäl gedien. Jehu het dit nou gestop.

2 KONINGS 10:18-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En Jehu het die hele volk bymekaar laat kom en vir hulle gesê: Agab het Baäl 'n bietjie gedien; Jehu sal hom baie dien. Roep dan nou al die profete van Baäl, al sy dienaars en al sy priesters na my toe; niemand moet gemis word nie, want ek het 'n groot offer aan Baäl. Elkeen wat gemis word, sal nie leef nie. Maar Jehu het dit met lis gedoen om die dienaars van Baäl te kan vernietig. Verder sê Jehu: Heilig 'n feestyd vir Baäl; en hulle het dit uitgeroep. Jehu het ook deur die hele Israel gestuur; en al die dienaars van Baäl het gekom — sodat daar niemand oor was wat nie gekom het nie — en in die tempel van Baäl ingegaan, sodat die tempel van Baäl vol was van end tot end. En hy sê aan die een wat oor die klerekamer was: Bring klere uit vir al die dienaars van Baäl. En hy het vir hulle klere uitgebring. Daarop gaan Jehu saam met Jónadab, die seun van Regab, in die tempel van Baäl in en sê aan die dienaars van Baäl: Ondersoek en kyk of nie miskien van die dienaars van die HERE hier by julle is nie, net die dienaars van Baäl alleen. En hulle het ingegaan om slagoffers en brandoffers toe te berei; maar Jehu het vir hom buitekant tagtig man opgestel en gesê: Hy wat een van die manne wat ek in julle hande lewer, laat vryraak, sy lewe sal in die plek van dié se lewe wees. En toe hy gereed was met die aanbieding van die brandoffer, sê Jehu aan die hardlopers en die adjudante: Kom in, slaan hulle dood, laat niemand uitkom nie! En hulle het hul met die skerpte van die swaard doodgeslaan, en die hardlopers en die adjudante het hulle uitgegooi en na die stadsdeel van die Baälstempel gegaan. En hulle het die pilare van die Baälstempel uitgebring en dit verbrand en die klippilaar van Baäl afgebreek en Baäl se tempel afgebreek en daar gemakhuisies van gemaak, tot vandag toe. So het Jehu dan Baäl uit Israel uit verdelg.

2 KONINGS 10:18-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jehu het die hele volk bymekaar laat kom en vir hulle gesê: “Agab het vir Baäl maar net 'n bietjie gedien, maar ek wat Jehu is, gaan hom baie meer dien. Roep nou al die profete van Baäl na my toe, al sy vereerders en al sy priesters. Nie een mag wegbly nie, want ek wil 'n groot offer aan Baäl bring. Nie een wat wegbly, sal bly leef nie.” Jehu het dit met lis beplan om die vereerders van Baäl te kan vernietig. Jehu het beveel: “Sonder vir Baäl 'n feesdag af.” So 'n feesdag is uitgeroep, en Jehu het oral in Israel boodskappers gestuur, sodat al die vereerders van Baäl gekom het; daar was nie 'n enkele wat nie gekom het nie. Hulle het in die tempel van Baäl ingegaan, sodat die tempel naderhand van hoek tot kant vol was. Aan die persoon wat oor die klerekamer toesig gehou het, het hy gesê: “Bring klere vir al die vereerders van Baäl.” Hy het vir hulle die klere gebring. Jehu en Jonadab seun van Rekab het saam in die tempel van Baäl ingegaan, en Jehu het vir die vereerders van Baäl gesê: “Sorg dat hier nie vereerders van die Here saam met julle is nie; net die vereerders van Baäl moet hier wees.” Toe hulle ingaan om die brandoffers en ander diereoffers te bring, was daar buite tagtig man wat deur Jehu opgestel is met die bevel: “Die persoon wat een van die manne wat ek in julle mag gee, laat wegkom, sal met sy eie lewe daarvoor boet.” Net toe Jehu klaar die brandoffer gebring het, het hy vir die hardlopers en die adjudante gesê: “Gaan in en maak hulle dood. Niemand mag daar uitkom nie.” Hulle het hulle doodgesteek en die liggame uitgegooi. Hulle het in die binneste heiligdom van die Baälstempel ingedring, die klippilaar uit die Baälstempel uitgebring en dit in die vuur gegooi. Hulle het die klippilaar stukkend geslaan en die tempel van Baäl afgebreek en daarvan kleinhuisies gebou, wat dit vandag nog is. So het Jehu die Baäldiens uit Israel verdelg.

2 KONINGS 10:18-28 Die Boodskap (DB)

Jehu het ’n baie groot vergadering belê en vir die mense gesê: “As julle dink dat Agab baie lief was vir Baäl, moet julle sien wat ék alles gaan doen om Baäl te vereer! Roep al die profete van Baäl bymekaar, ook al die mense wat lief is vir hom en die priesters wat in sy tempel werk. Almal moet daar wees, want ek wil ’n baie groot fees ter ere van Baäl hou. Wie nie kom nie, sal ek laat doodmaak.” Jehu se plan was egter om al die Baälaanbidders dood te maak. Jehu het beveel: “Roep ’n feesdag vir Baäl uit!” Hulle het dit gedoen en Jehu het boodskappers reg deur die land gestuur om almal bymekaar te maak. Baäl se mense het in groot getalle opgedaag en die Baältempel van hoek tot kant volgemaak. Jehu het vir die toesighouer oor die klerekamer gesê: “Jy moet sorg dat elke feesganger feesklere dra.” Die klere is toe aan hulle uitgedeel. Jehu en Jonadab het saam met die Baälvereerders in die tempel ingegaan en vir hulle gesê: “Maak seker dat hier nie mense onder ons is wat eintlik die Here dien nie. Hulle is glad nie deel van hierdie fees nie.” Almal was in die tempel saam om vir Baäl diere te slag en hom met offers te vereer. Jehu het egter gereël dat daar buite die tempel 80 soldate gereed staan. Hy het hulle met hulle lewe gedreig en gesê: “Die een van julle wat ’n enkele een van hierdie feesgangers lewendig laat wegkom, sal met sy lewe boet!” Toe Jehu klaar was met die offer, het hy vir die wagte en offisiere gesê: “Gaan in en maak almal dood. Niemand mag oorbly nie!” Die soldate is toe die tempel in en het die mense met swaarde doodgesteek en die lyke uitgegooi. Hulle het tot in die binneste heiligdom van die tempel ingegaan en het die pilaar wat daar binne was, uitgebring en in die vuur gegooi. Daarna het hulle die gedenksteen ter ere van Baäl stukkend gebreek en die hele gebou afgebreek. Hulle het openbare toilette daarvan gemaak, en dit is waarvoor die plek nog steeds gebruik word. So het Jehu alle tekens van Baälverering in Israel uitgeroei.

2 KONINGS 10:18-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daarna het Jehu al die inwoners van die stad bymekaargeroep en gesê: “Agab se verering van Baäl is niks in vergelyking met wat ek sal doen nie! Roep nou al die profete en aanbidders van Baäl, asook al die priesters na my toe. Niemand mag wegbly nie, want ek gaan ’n groot offer aan Baäl bring. Enigeen wat nie opdaag nie, sal doodgemaak word.” Maar eintlik was Jehu van plan om al die Baälaanbidders uit te roei. Toe beveel Jehu: “Heilig ’n byeenkoms ter ere van Baäl!” Hulle het dit gedoen. Hy het boodskappers deur die hele Israel gestuur om die Baälaanbidders op te roep. Hulle almal het gekom; niemand het weggebly nie. Hulle het ingegaan in die Baältempel sodat dit van hoek tot kant vol was. Jehu het aan die persoon in bevel van die klerekamer gesê: “Maak seker dat elke aanbidder van Baäl een van hierdie kledingstukke aanhet.” Daar is toe aan hulle klere uitgedeel. Daarna het Jehu saam met Jonadab seun van Rekab die tempel binnegegaan. Toe sê Jehu vir die Baälaanbidders: “Kyk goed dat net aanbidders van Baäl hier is. Sorg dat geen aanbidder van die HERE hier inkom nie!” Toe hulle ingaan in die tempel om offers en brandoffers te bring, het Jehu 80 van sy manne buitekant opgestel. Hy het hulle beveel: “As julle enigeen toelaat om te vlug, sal julle met julle eie lewens daarvoor boet.” Net nadat Jehu die brandoffer gebring het, beveel hy die hardlopers en offisiere: “Gaan in en maak hulle almal dood. Nie een van hulle mag uitkom nie!” Hulle het hulle toe met die swaard doodgemaak en die wagte en offisiere het die liggame buitentoe gesleep. Daarna het hulle ingegaan in die binneste heiligdom van die Baältempel, die Asjerapaal uit die Baältempel uitgebring en verbrand. Hulle het die heilige klippilaar van Baäl stukkend geslaan, die tempel van Baäl verwoes en dit omskep in toilette, soos dit vandag nog is. So het Jehu elke teken van Baälaanbidding in Israel uitgeroei.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid