2 KRONIEKE 36:22-23
2 KRONIEKE 36:22-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die eerste regeringsjaar van Kores, die koning van Persië, het die HERE die gees van Kores, koning van Persië, aangevuur. Dit het Hy gedoen om sy woord, aangekondig by monde van Jeremia, te vervul. Hy het 'n boodskap dwarsdeur sy hele koninkryk gestuur en dit selfs op skrif gestel: “So sê Kores, koning van Persië, ‘Al die koninkryke op aarde het die HERE, die God van die hemel, aan my gegee. Hy is die Een wat dit aan my opgedra het om vir Hom 'n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is. Enigiemand onder julle uit enige deel van sy volk – die HERE sy God is met hom – laat hy optrek!’ ”
2 KRONIEKE 36:22-23 Bybel vir almal (ABA)
Dit was in die eerste jaar nadat Kores die koning van Persië geword het. Die Here het voorheen vir Jeremia gestuur en gesê wat sal gebeur. Dit het nou gebeur. Die Here het vir Kores laat besluit om 'n boodskap te stuur na al die mense wie se koning hy was. Die boodskap was ook in briewe wat hy gestuur het. Hy het gesê: “Koning Kores van Persië sê: Die Here, die God van die hemel, het vir my al die lande op die aarde gegee en Hy het vir my gesê ek moet 'n tempel laat bou in die stad Jerusalem in die land Juda. Enige iemand van julle wat aan die volk van die Here behoort, mag teruggaan na Jerusalem. Ek bid dat sy God die Here by hom sal wees.”
2 KRONIEKE 36:22-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in die eerste jaar van Kores, die koning van Persië, het die HERE — sodat die woord van die HERE deur die mond van Jeremia in vervulling sou gaan — die gees van Kores, die koning van Persië, opgewek, dat hy 'n oproep deur sy hele koninkryk laat gaan het, selfs ook skriftelik, om te sê: So sê Kores, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het die HERE, die God van die hemel, aan my gegee, en Hý het my opgedra om vir Hom 'n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is. Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort — mag die HERE sy God met hom wees, en laat hom optrek!
2 KRONIEKE 36:22-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die eerste regeringsjaar van koning Kores van Persië is die belofte vervul wat die Here by monde van Jeremia gegee het: die Here het dit bewerk dat koning Kores van Persië besluit het om dwarsoor sy ryk 'n proklamasie te laat afkondig. Die proklamasie, wat ook skriftelik was, het soos volg gelui: “Koning Kores van Persië maak bekend: Die Here, die God van die hemel, het al die koninkryke van die aarde aan my gegee. Hy het my beveel om vir Hom 'n tempel in Jerusalem in Juda te bou. Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort, kan teruggaan, en mag die Here sy God by hom wees.”
2 KRONIEKE 36:22-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in die eerste jaar van Kores, die koning van Persië, sodat die woord van die HERE wat deur die mond van Jeremia gespreek is, vervul sou word, het die HERE die gees van Kores, die koning van Persië, opgewek, dat hy 'n uitroep in sy hele koninkryk gemaak het, en stel dit ook op skrif en sê: So sê Kores, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het die HERE, die God van die hemel, aan my gegee; en hy het my bevel gegee om vir hom 'n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is. Wie is daar onder julle van al sy volk? Die HERE sy God wees met hom, en laat hom optrek.
2 KRONIEKE 36:22-23 Die Boodskap (DB)
In koning Kores van Persië se eerste regeringsjaar het die Here nog ’n voorspelling van Jeremia waar laat word. Die Here het Kores beweeg om ’n koninklike boodskap deur die hele land te stuur. “’n Boodskap van koning Kores van Persië: Die Here, die God van die hemel, het alle koninkryke op aarde in my hande gegee. Hy het vir my die werk gegee om vir Hom ’n tempel in Jerusalem wat in Juda is, te bou. Enigiemand wat deel is van sy volk, mag teruggaan vir dié werk. Mag die Here julle God by julle wees!”
2 KRONIEKE 36:22-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In die eerste jaar van koning Kores van Persië het die HERE die profesie van Jeremia vervul. Hy het koning Kores van Persië aangespoor om ’n proklamasie uit te vaardig, dit skriftelik te doen en deur sy hele koninkryk te stuur. Dit het soos volg gelui: Dit is wat koning Kores van Persië sê: Die HERE, die God van die hemel, het al die koninkryke op die aarde aan my gegee. Hy het my aangestel om vir Hom ’n tempel in Jerusalem in Juda te bou. Elkeen van julle wat deel is van sy volk, mag teruggaan. Mag die HERE met hom wees.