2 KRONIEKE 20:1-30

2 KRONIEKE 20:1-30 Bybel vir almal (ABA)

Later het die Moabiete en Ammoniete gekom om oorlog te maak teen koning Josafat, en saam met hulle het nog ander Ammoniete ook gekom. Party mense het vir Josafat kom sê: “Daar het 'n groot klomp manne gekom om jou land aan te val. Hulle het gekom van anderkant die Dooie See uit die land Edom. Hulle is al klaar in die stad Gaseson-Tamar, dit is En-Gedi.” Josafat het bang geword, en hy het besluit om vir die Here te vra wat Hy sê. Josafat het gesê al die mense in Juda moet vas. Die mense van Juda het bymekaargekom om vir die Here te vra wat hulle moet doen. Hulle het uit al die stede van Juda gekom om vir die Here te vra om hulle te help. Josafat het gaan staan by die tempel voor die nuwe oop stuk grond. Hy het in die volksvergadering van Juda en Jerusalem gaan staan en hy het gesê: “Here, God van ons voorvaders, U is God in die hemel, U regeer oor al die lande van die volke. U is sterk, niemand kan teen U bly staan nie. Ons God, U het die mense van hierdie land weggejaag om vir u volk Israel plek te maak en U het die land vir altyd vir die nageslag van u vriend Abraham gegee. Hulle het hier kom woon en hulle het hier 'n tempel gebou vir U. Hulle het gesê: ‘Wanneer dit sleg gaan met ons, wanneer U ons straf met oorlog of pes of honger, dan sal ons voor hierdie tempel en voor U kom staan, want hierdie tempel behoort aan U. Ons sal bid en vra dat U ons moet help, en U sal hoor, U sal ons red.’ Nou het die Ammoniete en Moabiete en die mense van Seïr-berg gekom om ons aan te val. Toe die Israeliete uit Egipte gekom het, het U die Israeliete nie in hierdie volke se lande laat kom nie. U het gesê die Israeliete moet wegdraai van hierdie volke. Die Israeliete het nie hierdie volke doodgemaak nie. Maar nou het hierdie volke gekom om ons aan te val. Hulle wil ons wegjaag uit hierdie land wat U vir ons gegee het. Ons God, U moet hulle straf, want ons is te swak om oorlog te maak teen hierdie groot klomp mense. Ons weet nie wat om te doen nie. Daarom vra ons dat U ons moet help.” Al die mans van Juda het daar voor die Here gestaan, die mans en hulle oumense en hulle vroue en hulle kinders. Jagasiël was ook daar. Hy was die seun van Sagaria seun van Benaja seun van Jeïel seun van Mattanja. Jagasiël was 'n Leviet van die Asaf-familie. Die Gees van die Here het daar in die vergadering op Jagasiël gekom, en hy het gesê: “Luister, al julle mense van Juda, en julle wat in Jerusalem woon, en koning Josafat. Die Here sê vir julle: Julle moenie bekommerd wees nie, julle moenie bang wees vir hierdie klomp vyande nie, want dit is nie julle oorlog nie, dit is God se oorlog. Julle moet môre afgaan na hulle toe. Hulle kom nou op in die Bloeisel-pas. Julle sal hulle kry by die punt van die vallei langs die kant van die Jeruel-woestyn. Julle sal nie self oorlog maak nie, julle kan net staan en kyk hoe die Here julle red. Mense van Juda en Jerusalem, julle moenie bekommerd wees nie, julle moenie bang wees nie. Gaan môre na hulle toe. Die Here sal by julle wees.” Toe het Josafat gekniel met sy gesig na die grond, en al die mense van Juda en Jerusalem het voor die Here op hulle knieë gestaan en hulle het voor Hom gebuig met hulle gesigte teen die grond. Toe het die Leviete van die Kehat-familie en die Korag-familie opgestaan om die Here, die God van Israel, te prys. Hulle het baie hard gesing. Die mense het vroeg die oggend opgestaan en na die Tekoa-woestyn gegaan. Toe hulle begin loop, het Josafat daar gaan staan en gesê: “Mense van Juda en Jerusalem, julle moet glo in julle God die Here, dan sal julle aanhou lewe. Julle moet glo wat sy profete sê, dan sal julle oorwin.” Nadat Josafat vir die mense gevra het wat hulle dink, het hy mense gekies en aangestel wat moes sing. Hulle moes voor die soldate loop en hulle moes die Here, die Koning, prys. Hulle moes sing “Prys die Here, want Hy doen altyd wat Hy belowe het.” Die mense van die Seïr-berge wou vir Juda kom aanval. En presies dieselfde tyd toe Josafat se mense begin het om te sing en om die Here te prys, het die Here die Ammoniete en die Moabiete en die mense van die Seïr-berge laat dink dat daar vyande voor hulle en agter hulle is, hulle het gedink hulle sal die oorlog verloor. Die Ammoniete en die Moabiete het toe die mense van die Seïr-berge aangeval en hulle het almal doodgemaak. Daarna het hulle mekaar begin doodmaak. Die Judeërs het by 'n plek in die woestyn gekom waar hulle kon staan en ver kon sien wat gebeur. Hulle het gekyk waar die vyande is, en hulle het die lyke daar op die grond gesien lê. Niemand het vry weggekom nie. Josafat en sy manne het gekom om die vyande se goed te vat. Hulle het baie goed daar gekry, klere en kosbare goed wat hulle kon vat, hulle kon dit nie alles dra nie. Hulle het drie dae lank die goed weggedra, want dit was so baie. Die volgende dag het hulle bymekaargekom in die Prys-vallei, want hulle het die Here daar geprys. Dit is hoekom mense die plek vandag nog “Prys-vallei” noem. Al die manne van Juda en Jerusalem het toe omgedraai. Josafat het voor hulle geloop, en hulle het teruggegaan na Jerusalem. Hulle was baie bly, want die Here het hulle bly gemaak oor hulle vyande. Hulle het in Jerusalem na die tempel gegaan en hulle het harpe en liere en trompette saamgeneem. Die volke in al die lande het baie bang geword toe hulle hoor dat die Here oorlog gemaak het teen die vyande van Israel. God het die volke bang laat word. Maar in die land van Josafat was alles stil en rustig. Die Here het vir hom vrede gegee, daar was nie vyande rondom hom nie.

2 KRONIEKE 20:1-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN daarna het die kinders van Moab en die kinders van Ammon, en saam met hulle 'n deel van die Meüniete teen Jósafat gekom om te veg. Toe hulle kom en aan Jósafat berig bring en sê: Daar kom 'n groot menigte teen u van anderkant die see, van Edom af, en kyk, hulle is al in Háseson-Tamar — dit is Éngedi — het Jósafat bevrees geword en sy aangesig daarop gerig om die HERE te soek, en hy het oor die hele Juda 'n vasdag uitgeroep. En Juda het byeengekom om van die HERE hulp te soek; selfs uit al die stede van Juda het hulle gekom om die HERE te soek. Toe gaan Jósafat in die vergadering van Juda en Jerusalem staan, in die huis van die HERE, voor die nuwe voorhof; en hy sê: HERE, God van ons vaders, is Ú nie God in die hemel nie, en is Ú nie Heerser oor al die koninkryke van die nasies nie? Ja, in u hand is krag en sterkte, sodat niemand teen U kan standhou nie. Het Ú, onse God, nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdrywe en dit vir altyd aan die nageslag van Abraham, u vriend, gegee nie? En hulle het daarin gaan woon en daarin vir U 'n heiligdom tot eer van u Naam gebou, met die gedagte: As daar oor ons onheil kom — swaard, straf of pes of hongersnood — sal ons voor hierdie huis en voor u aangesig gaan staan; want u Naam is in hierdie huis; en ons sal U aanroep uit ons benoudheid, dat U kan hoor en verlos. En hier is nou die kinders van Ammon en Moab en die mense van die gebergte Seïr, onder wie U Israel nie toegestaan het om te trek by hulle koms uit Egipteland nie; want hulle het van hulle weggedraai en hulle nie verdelg nie. Ja, kyk, hulle vergeld ons dit deur te kom om ons uit u besitting te verdrywe wat U aan ons as 'n eiendom gegee het. Onse God, sal U nie teen hulle strafgerig oefen nie? Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U. En die hele Juda het voor die HERE gestaan, ook hulle kinders, hulle vroue en hulle seuns. Toe kom die Gees van die HERE in die midde van die vergadering op Jahásiël, die seun van Sagaría, die seun van Benája, die seun van Jeï-el, die seun van Mattánja, die Leviet uit die kinders van Asaf; en hy het gesê: Luister, almal wat uit Juda is en inwoners van Jerusalem en u, koning Jósafat! So sê die HERE aan julle: Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God. Trek môre af teen hulle: kyk, hulle kom op met die hoogte Hassis, en julle sal hulle aantref aan die kant van die dal voor die woestyn Jerúel. Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die HERE by julle, Juda en Jerusalem! Vrees nie en wees nie verskrik nie; trek môre teen hulle uit, en die HERE sal met julle wees. Toe buig Jósafat hom met die aangesig na die aarde toe, en die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het voor die aangesig van die HERE neergeval om die HERE te aanbid. En die Leviete uit die kinders van die Kehatiete en uit die kinders van die Koragiete het opgestaan om die HERE, die God van Israel, met 'n baie groot stem te prys. Daarop maak hulle die môre vroeg klaar en trek na die woestyn van Tekóa uit; en terwyl hulle uittrek, het Jósafat gaan staan en gesê: Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Glo in die HERE julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees. En hy het met die volk beraadslaag en tot eer van die HERE sangers opgestel wat, in heilige sieraad, moes lofsing en by die uittrek op die voorpunt van die gewapendes moes sê: Loof die HERE, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! En op die oomblik toe hulle die gejubel en die lofsang aanhef, het die HERE 'n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en die mense van die gebergte Seïr wat teen Juda gekom het, sodat hulle verslaan is. Die kinders van Ammon en Moab het naamlik opgetree teen die inwoners van die gebergte Seïr om uit te roei en te verdelg; en toe hulle met die inwoners van Seïr klaar was, het hulle mekaar in die verderf gehelp. En toe Juda op die wagkop by die woestyn kom en hulle na die menigte kyk, lê hulle daar dood op die grond; en niemand het vrygeraak nie. Daarop het Jósafat en sy manskappe gekom om die buit in te samel en hulle het by hulle 'n menigte goed en klere en kosbare voorwerpe gekry, en het soveel vir hulle gebuit dat hulle dit nie kon wegdra nie; en hulle was drie dae lank besig om die buit in te samel, want dit was groot. En op die vierde dag het hulle in die Lofdal byeengekom, want daar het hulle die HERE geloof; daarom het hulle dié plek Lofdal genoem tot vandag toe. Toe draai al die manne van Juda en Jerusalem om, met Jósafat aan hulle hoof, om met vreugde na Jerusalem terug te gaan; want die HERE het aan hulle vreugde verskaf oor hul vyande. En hulle het Jerusalem ingetrek met harpe en siters en trompette, na die huis van die HERE. En die skrik vir God was op al die koninkryke van die lande toe hulle hoor dat die HERE teen die vyande van Israel gestry het. Verder het die koninkryk van Jósafat gerus, en sy God het hom rondom rus verskaf.

2 KRONIEKE 20:1-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

Later het die Moabiete en die Ammoniete, en saam met hulle 'n groep Meüniete , 'n veldtog teen Josafat begin. Josafat het berig gekry: “'n Groot menigte van oorkant die Dooie See, van Edom af, het teen u opgetrek. Hulle is al by Gaseson-Tamar, dit is En-Gedi.” Josafat was bang en het by die Here hulp gesoek. Hy het 'n vasdag in die hele Juda uitgeroep, en die Judeërs het bymekaargekom om die hulp van die Here te vra. Uit al die stede van Juda het hulle gekom om die Here se hulp te vra. Josafat het opgestaan in die gemeente van Juda en Jerusalem, in die tempel reg voor die nuwe voorhof, en gebid: “Here, God van ons voorvaders, U is God. U heers uit die hemel oor al die koninkryke van die nasies. Uit u hand kom die mag en die krag. Niemand kan teen U stand hou nie. Dit is U, ons God, wat die vroeëre inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdryf het en die land aan die nageslag van u vriend Abraham as 'n blywende besitting gegee het. Hulle het hulle hier gevestig en hier vir u Naam 'n heiligdom gebou en gesê: ‘As U 'n ramp oor ons bring, of 'n oorlog om ons te straf, of pes, of hongersnood, sal ons voor hierdie tempel kom staan, voor U, want u Naam is in hierdie tempel, en ons sal na U om hulp roep uit ons nood. Hoor dan en help ons!’ “Nou het die mense van Ammon en Moab en die Seïrberge gekom. U het Israel met sy trek uit Egipte nie toegelaat om in hulle gebied te kom nie. Die Israeliete het daardie mense vermy en hulle nie uitgeroei nie. Maar nou vergoed hulle ons deur te kom en ons uit u besitting te wil verdryf wat U aan ons gegee het. Ons God, sal U hulle nie straf nie, want ons het nie die krag om hierdie groot menigte wat teen ons optrek, te weerstaan nie. Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig.” Die hele Juda en hulle afhanklikes, vrouens en kinders, het daar voor die Here gestaan. Toe kom die Gees van die Here daar in die gemeente oor die Leviet Jagasiël seun van Sagaria, seun van Benaja, seun van Jeïel, seun van Mattanja, uit die nageslag van Asaf, en sê: “Luister, mense van Juda, inwoners van Jerusalem en koning Josafat! So sê die Here vir julle: Moenie vrees nie, moenie bang wees vir hierdie groot menigte nie, want hierdie oorlog is nie 'n saak vir julle nie, maar vir God. Trek hulle môre tegemoet wanneer hulle in die Bloeiselpas opkom. Julle sal hulle aantref by die punt van die vallei wat in die Jeruelwoestyn uitloop. Julle hoef nie te veg nie, neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle. Moenie vrees nie, Juda en Jerusalem, moenie bang wees nie. Trek hulle môre tegemoet. Die Here sal by julle wees.” Toe kniel Josafat, en al die mense van Juda en Jerusalem het voor die Here gebuig en Hom eer betoon. Daarna het die Leviete van die Kehat- en die Koraggroepe opgestaan en die Here die God van Israel uit volle bors geprys. Josafat-hulle is die volgende môre vroeg uit na die Tekoawoestyn toe. Terwyl die manne vertrek, het Josafat daar gestaan en hulle toegespreek: “Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Stel julle vertroue in die Here julle God, en julle sal vas staan. Stel julle vertroue in sy profete, en dit sal goed gaan met julle.” Josafat het met die volk oorleg gepleeg en toe sangers laat plek neem voor die gewapende manne. Hulle het vooruit geloop in hulle gewyde klere en die Here geloof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Juis toe, toe die sangers met die lofprysing en gebed begin, het die Here onverwagte aanvalle bewerk op die Ammoniete, die Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle het die een neerlaag na die ander gely. Toe val die Ammoniete en die Moabiete die inwoners van die Seïrberge aan en spaar niemand nie en roei hulle uit. En toe hulle klaar was met die inwoners van Seïr, het hulle mekaar begin uitdelg. Toe die Judeërs by die uitkykpos teenaan die woestyn kom en na die magtige vyand soek, lê daar net lyke op die grond. Daar was nie een oorlewende nie. Josafat en sy manskappe het die buit bymekaar kom maak en 'n groot hoeveelheid gekry: persoonlike besittings aan die lyke en allerlei kosbare goed. Hulle het soveel gekry dat hulle dit nie kon dra nie. Drie dae lank was hulle besig om die buit bymekaar te maak, soveel was dit. Op die vierde dag het hulle 'n samekoms gehou in die Lofdal. Hulle het die Here daar geloof, daarom noem hulle dié plek tot vandag toe die Lofdal. Al die manne van Juda en Jerusalem, met Josafat aan die hoof, is toe met groot blydskap terug Jerusalem toe. Die Here het hulle bly gemaak oor hulle vyande. Hulle is terug na Jerusalem, na die huis van die Here toe, met harpe, liere en trompette. Al die koninkryke was van skrik bevange vir God toe hulle hoor dat die Here oorlog gevoer het teen die vyande van Israel. Die heerskappy van Josafat het rustig voortgegaan, en sy God het hom na alle kante toe rus gegee.

2 KRONIEKE 20:1-30 Die Boodskap (DB)

Na ’n ruk het ’n klomp Moabiete, Ammoniete en Meüniete teen Josafat oorlog kom maak. Die volgende boodskap het Josafat bereik: “Daar kom ’n groot leër aan om teen u te veg. Hulle kom van Edom se kant af, anderkant die Dooie See, en het reeds by Gaseson-Tamar (oftewel En-Gedi) aangekom.” Toe hy dit hoor, het Josafat geskrik en besluit om die Here te raadpleeg. Hy het beveel dat al die mense van Juda vir ’n dag lank niks mag eet nie. Hulle het toe uit al die stede en dorpe van Juda bymekaargekom om die Here te vra om hulle te help. Josafat het tussen al die mense van Juda en Jerusalem voor die tempel se nuwe voorhof gaan staan. Hy het gebid: “Here, God van ons voorouers, U is die enigste God in die hemel en die Heerser oor alle koninkryke op aarde. U is sterk en magtig. Niemand kan U wen nie! God, het U nie die volke wat in die land gewoon het, weggejaag toe u volk hier aangekom het nie? Het U nie toe die land vir Abraham se nageslag gegee om vir altyd hier te woon nie? U volk het hier kom bly en hierdie tempel vir U gebou. Hulle het gesê: ‘As daar eendag iets vreesliks met ons gebeur, soos ’n oorlog, ’n vloed, siekte of hongersnood, sal ons hier by die tempel bymekaarkom. Dit is waar U woon. Ons sal hier kom pleit dat U ons moet help en U sal ons hoor en ons red!’ Nou het die mense van Ammon, Moab en die Seïrberge saamgetrek om ons aan te val. Destyds, op pad van Egipte af, het U die Israeliete verbied om hulle aan te val. Trouens, die Israeliete het om hulle getrek en hulle nie aangeval en uitgeroei nie. Kyk hoe beloon hulle ons nou daarvoor! Hulle is nou hier om ons uit die land te gooi wat U vir ons as ’n geskenk gegee het. God, sal U hulle stop, asseblief? Ons kan niks teen so ’n oormag doen nie. Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons glo dat U ons sal help.” Die hele Juda, mans, vroue en kinders, het almal saam voor die Here gestaan en pleit om hulp. Die Here se Gees het toe deur een van die mans in die vergadering gepraat. Sy naam was Jagasiël, ’n Leviet. Sy voorouers was Sagaria, Benaja, Jeïel en Mattanja. Hulle was lede van die familiegroep van Asaf. Jagasiël het vir die vergadering gesê: “Luister na my, al julle Judeërs en inwoners van Jerusalem! U ook, koning Josafat, luister wat ek te sê het, want die boodskap kom van die Here af. Hy sê: ‘Moenie bang wees of vir die groot leër terugdeins nie. Hierdie geveg is nie júlle probleem nie. Dit is ’n saak wat God self sal uitstryk. Maak reg en trek môre teen hulle uit. Hulle sal met die opdraande van Sis se kant af kom en julle sal hulle kry net daar waar die kloof oopmaak na die Jeruëlwoestyn se kant toe. Julle sal nie eens hoef te veg nie! Neem net julle posisies in, dan sal julle kan sien hoe die Here die geveg vir julle wen. Inwoners van Juda en Jerusalem, die Here is aan julle kant. Moenie bang of skrikkerig wees nie. Gaan môre uit en gaan kyk self hoe die Here julle help.’” Koning Josafat het met sy gesig na die grond toe neergekniel. Al die mense van Juda en Jerusalem het sy voorbeeld gevolg en die Here begin aanbid. Die Leviete uit die Kehat- en die Koraggroep het toe opgestaan en die Here, Israel se God, baie hard begin prys. Die volgende oggend het hulle alles reggekry en na die woestyn in die omgewing van Tekoa vertrek. Terwyl hulle op pad was, het Josafat hulle gestop en gesê: “Luister na my, mense van Juda en Jerusalem. As julle in die Here julle God glo, sal julle sterk kan staan. As julle in sy boodskappers glo, sal julle sukses behaal!” Daarna het hy met die leiers gesels en hulle het besluit om sangers voor die leër te laat uitloop. Die sangers moes die Here loof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie!” Net toe hulle so begin juig en sing, het die Here gesorg dat die leërs van Ammon, Moab en die mense van die Seïrberge af, wat eintlik teen Juda wou kom oorlog maak, teen mekaar begin veg. Eers het die leërs van Ammon en Moab saam teen die mense van die Seïrberge geveg en hulle almal doodgemaak. Toe hulle daarmee klaar was, het hulle teen mekaar begin veg. Toe die Judeërs by hulle uitkykpunt kom, het hulle in die vallei afgekyk en net ’n klomp lyke daar sien lê. Nie een van die vyand het weggekom nie. Daarna het Josafat en sy leër die lyke geplunder en ’n geweldige klomp goed bymekaargemaak. Daar was klere en waardevolle voorwerpe, soveel dat hulle drie dae lank gewerk het om alles bymekaar te kry. Op die vierde dag het hulle in die Lofdal bymekaargekom. Hulle het die plek só genoem omdat dit die plek is waar hulle die Here geloof het en vir Hom dankie gesê het vir wat Hy vir hulle gedoen het. Die plek word nog altyd Lofdal genoem. Daarna het die hele leër van Josafat teruggegaan Jerusalem toe. Hulle was baie bly omdat die Here vir hulle ’n oorwinning oor hulle vyande gegee het. Hulle het in Jerusalem ingekom en na die tempel toe gegaan, terwyl die harpe en liere gespeel het en die trompette geblaas is. Toe Israel se buurvolke hoor dat die Here self vir Israel teen hulle vyande geveg het, het hulle baie bang geword vir God. As gevolg daarvan het Josafat se koninkryk vrede beleef. God het vir hom vrede gegee met al sy buurlande.

2 KRONIEKE 20:1-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hierna het die Moabiete, Ammoniete en sommige van die Meüniete oorlog teen Josafat verklaar. Boodskappers het gekom en vir Josafat vertel: “’n Groot leër van Edom trek op teen u van anderkant die Dooie See. Hulle is alreeds by Gaseson-Tamar, dit is En-Gedi.” Josafat was baie ontsteld oor hierdie nuus en het vir die HERE raad gevra. Hy het ook beveel dat elkeen in Juda moet vas. Die mense het van al die dorpe in Juda na Jerusalem toe gekom om die HERE se hulp te soek. Josafat het opgestaan in die vergadering van die mense van Juda en Jerusalem voor die nuwe voorhof in die tempel van die HERE. Hy het gebid: “HERE, God van ons voorouers, is U nie die God wat in die hemel is nie? U is die heerser oor al die koninkryke op die aarde. U is kragtig en magtig. Niemand kan teen U staande bly nie. Ons God, het U nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uitgedryf nie? Het U nie die land vir altyd aan die nageslag van u vriend Abraham gegee nie? U volk het hier kom woon en hierdie tempel vir U gebou. Hulle het gesê: ‘As ons bedreig word met rampspoed soos oorlog, siekte of hongersnood, sal ons kom staan in u teenwoordigheid voor hierdie tempel waar u Naam vereer word. Ons sal tot U roep uit ons ellende, en U sal ons hoor en ons verlos.’ “Kyk nou wat hierdie leërs van Ammon, Moab en die Seïrberge doen. Toe Israel uit Egipte getrek het, het U ons voorouers nie toegelaat om hierdie volke aan te val en hulle te verwoes nie. Kyk hoe beloon hulle ons nou! Hulle kom om ons uit u land wat U vir ons gegee het, te verdryf. Ons God, sal U nie oor hulle oordeel nie? Ons is magteloos teen hierdie groot leër wat op die punt is om ons aan te val. Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons kyk op na U vir hulp.” Terwyl die manne van Juda met hulle vroue, kinders en suigelinge voor die HERE gestaan het, het die Gees van die HERE in die vergadering oor een van die manne gekom. Sy naam was Jagasiël seun van Sagaria, seun van Benaja, seun van Jeïel, seun van Mattanja, ’n Leviet uit die nageslag van Asaf. Hy het gesê: “Luister, alle inwoners van Juda en Jerusalem! Luister, koning Josafat! Dit is wat die HERE vir julle sê: Moenie bang wees nie! Moenie moedeloos wees oor hierdie magtige leër nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n. Môre moet julle teen hulle uittrek. Julle sal hulle teëkom wanneer hulle opkom teen die pas van Sis, by die einde van die vallei wat uitmond op die Jeruelwoestyn. Dit sal nie vir julle nodig wees om te veg nie. Neem julle posisies in, en staan dan en kyk na die oorwinning van die HERE. Hy is met julle, inwoners van Juda en Jerusalem. Moenie bang of moedeloos wees nie. Gaan môre soontoe, want die HERE is met julle!” Koning Josafat het toe met sy gesig na die grond toe gekniel. Al die inwoners van Juda en Jerusalem het ook so gemaak en die HERE aanbid. Die Leviete van Kehat en die Koragiete het opgestaan om die HERE die God van Israel met oorgawe te prys. Vroeg die volgende môre het die leër van Juda uitgetrek na die woestyn van Tekoa. Op pad sê Josafat: “Luister na my, almal van Juda en Jerusalem! Glo in die HERE julle God, en julle sal vas staan. Glo in sy profete, en julle sal suksesvol wees.” Nadat hy die leiers van die volk geraadpleeg het, het die koning sangers aangestel om voor die leër uit te stap. Hulle het tot eer van die HERE gesing en Hom geprys vir sy heerlike heiligheid: “Loof die HERE, want sy troue liefde duur vir altyd.” Die oomblik toe hulle begin sing en die HERE prys, het Hy veroorsaak dat die leërs van Ammon, Moab en die Seïrberge onder mekaar begin veg. Die leërs van Moab en Ammon het teen hulle bondgenote uit die Seïrberge gedraai en elkeen van hulle doodgemaak. Nadat hulle die leër van Seïr vernietig het, het hulle mekaar vernietig. Teen die tyd dat die leër van Juda by die uitkykpunt oor die woestyn kom, was daar so ver hulle kon sien net lyke op die grond. Nie een van die vyand het ontsnap nie. Koning Josafat en sy manne het gegaan en die buit bymekaargemaak. Hulle het baie toerusting, klere en ander kosbare voorwerpe gekry, meer as wat hulle kon dra. Daar was so baie buit dat dit drie dae geneem het om dit te versamel. Op die vierde dag het hulle in die Vallei van Seëninge die HERE geseën en geprys. Dit is waarom die plek tot vandag toe Vallei van Seëninge genoem word. Daarna het al die mense van Juda en Jerusalem teruggegaan na Jerusalem toe. Josafat het hulle gelei en hulle was vol vreugde omdat die HERE die oorwinning oor hulle vyande gegee het. Hulle is terug na Jerusalem toe en na die tempel van die HERE met die klank van harpe, liere en trompette. Toe die omringende koninkryke hoor dat die HERE self teen die vyande van Israel geveg het, het die vrees vir God oor hulle gekom. Daar was vrede in Josafat se koninkryk omdat God vir hulle rus aan alle kante gegee het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid