2 KRONIEKE 11:1-4
2 KRONIEKE 11:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Rehabeam het na Jerusalem gekom en hy het al die manne van die Juda-stam en die Benjamin-stam bymekaargeroep. Hulle was 180 000 soldate wat hy spesiaal gekies het. Rehabeam wou oorlog maak teen die mense van Israel, hy wou probeer om die land vir homself terug te kry. Maar die Here het vir Semaja, 'n man van God, gesê: “Jy moet praat met Rehabeam seun van Salomo, koning van Juda, en met al die Israeliete in die land Juda en die land Benjamin. Jy moet vir hulle sê: Die Here sê: Julle moenie oorlog gaan maak teen julle broers nie. Julle moet teruggaan, elkeen na sy huis, want dit is Ek wat alles laat gebeur het.” Hulle het geluister na die boodskap van die Here en hulle het teruggegaan, hulle het nie vir Jerobeam gaan aanval nie.
2 KRONIEKE 11:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe Rehábeam in Jerusalem kom, het hy die huis van Juda en Benjamin, honderd-en-tagtigduisend krygshaftige jongmanne, byeen laat kom om teen Israel oorlog te voer, om die koningskap vir Rehábeam terug te win. Maar die woord van die HERE het tot Semája, die man van God, gekom en gesê: Spreek met Rehábeam, die seun van Salomo, die koning van Juda, en met die hele Israel in Juda en in Benjamin, en sê: So spreek die HERE: Julle mag nie optrek en teen julle broers oorlog voer nie; julle moet omdraai, elkeen na sy huis, want van My het hierdie saak gekom. Hulle het toe geluister na die woorde van die HERE en omgedraai sonder om teen Jeróbeam op te trek.
2 KRONIEKE 11:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dadelik nadat Rehabeam in Jerusalem terug was, het hy honderd en tagtig duisend uitgesoekte manne uit die stamme Juda en Benjamin opgeroep om teen Israel te veg en die koningskap vir hom terug te wen. Maar die woord van die Here het tot Semaja, die man van God, gekom en gesê: “Sê vir Rehabeam seun van Salomo, koning van Juda, en vir al die Israeliete in Juda en Benjamin: So sê die Here: Moenie optrek en teen julle broers veg nie. Gaan terug, elkeen na sy huis toe, want wat gebeur het, kom van My af.” Hulle het geluister na die woorde van die Here en die veldtog teen Jerobeam laat vaar.
2 KRONIEKE 11:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Rehabeam in Jerusalem aankom, roep hy die hele huis van Juda en Benjamin byeen – honderd-en-tagtigduisend uitgesoektes wat kan oorlog maak – om teen Israel te veg en die koningskap vir Rehabeam terug te kry. Maar die woord van die HERE het tot Semaja, die man van God, gekom: “Sê vir Rehabeam, seun van Salomo, die koning van Juda, en vir die hele Israel in Juda en Benjamin, ‘So sê die HERE: “Julle mag nie optrek nie, en julle mag nie teen julle broers veg nie. Keer terug, elkeen na sy huis, want wat gebeur het, is deur my toedoen. ” ’ ” Hulle het die woorde van die HERE gehoorsaam en teruggekeer van die veldtog teen Jerobeam.
2 KRONIEKE 11:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Rehábeam in Jerusalem aangekom het, het hy uit die huis van Juda en Benjamin honderd en tagtig duisend uitverkore manne versamel, krygsmanne, om teen Israel te veg, om die koningskap na Rehábeam terug te bring. Maar die woord van die HERE het tot Semája, die man van God, gekom en gesê: Spreek met Rehabeam, die seun van Salomo, die koning van Juda, en met die hele Israel in Juda en Benjamin, en sê: So sê die HERE: Julle mag nie optrek en teen julle broers nie veg nie; keer terug, elkeen na sy huis, want hierdie ding is aan My gedoen. En hulle het na die woorde van die HERE geluister en teruggekeer van die trek teen Jeróbeam.
2 KRONIEKE 11:1-4 Die Boodskap (DB)
Toe Rehabeam in Jerusalem aankom, het hy 180 000 uitgesoekte soldate uit die stamme van Juda en Benjamin opgeroep. Hy wou teen Israel gaan oorlog maak om sy koningskap oor hulle te herstel. Die Here het met Semaja, die man van God, gepraat: “Gaan sê vir Rehabeam, Salomo se seun en koning van Juda, asook vir al die Israeliete in Juda en Benjamin: ‘Hier is die Here se boodskap vir julle: Moenie teen julle familie gaan veg nie. Gaan huis toe, want wat gebeur het, het Ek laat gebeur.’” Hulle het na die Here se opdrag geluister en nie teen Jerobeam gaan oorlog maak nie.
2 KRONIEKE 11:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Rehabeam in Jerusalem aankom, het hy 180 000 uitgesoekte soldate uit Juda en Benjamin opgeroep om teen Israel op te trek en die koningskap vir hom terug te wen. Maar die HERE het vir Semaja, die man van God, gesê: “Sê vir Rehabeam seun van Salomo en koning van Juda, en vir al die Israeliete in Juda en Benjamin: ‘Dit is wat die HERE sê: Moenie teen julle bloedverwante optrek en veg nie. Gaan terug huis toe, want wat gebeur het, kom van My af.’” Hulle het die boodskap van die HERE gehoorsaam en nie teen Jerobeam opgetrek nie.