1 TIMOTEUS 4:6-16

1 TIMOTEUS 4:6-16 Bybel vir almal (ABA)

Jy moet aanhou om vir die gelowiges te sê hulle moet die dinge onthou wat ek nou vir jou geskryf het. Dan sal jy 'n goeie dienaar van Christus Jesus wees omdat jy aanhou om te luister na die boodskap oor die geloof wat jy geleer het. Die boodskap is waar, en jy het begin lewe soos jy geleer het. Daar is mense wat niks van God weet nie, mense wat self stories maak en vertel, stories wat niks beteken nie. Jy moenie na hulle stories luister nie. Jy moet oefen om God altyd beter te dien. Wanneer 'n mens jou liggaam oefen, dan help dit 'n bietjie. Maar wanneer 'n mens oefen om vir God beter te dien, dan help dit heeltemal, want God belowe om vir 'n mens die ewige lewe te gee, nou en in die tyd wat later kom. Wat ek nou gesê het, is waar, en jy kan dit glo. Daarom werk ons baie hard. Ons weet dat die God wat lewe, vir ons sal help, en ons weet dat Hy sal doen wat Hy belowe het. Hy wil al die mense red, spesiaal die mense wat in Hom glo. Jy moet aanhou om hierdie dinge vir die mense te sê en om dit vir hulle te leer. Jy is jonk, maar niemand moet dink daarom is jy nie belangrik nie. Nee, jy moet vir die gelowiges wys hoe hulle moet lewe. Jy moet dit vir hulle wys met wat jy sê en met jou mooi lewe. Jy moet wys dat jy lief is vir mense, en jy moet aanhou glo en jy moet heeltemal reg lewe. Jy moet aanhou om vir die gemeente te lees uit die Bybel. Jy moet aanhou om vir hulle te sê hoe hulle moet lewe en jy moet aanhou om vir hulle te leer. Jy moet dit doen totdat ek kom. Jy moet aanhou om die genadegawe te gebruik wat jy gekry het. Die Here het hierdie genadegawe vir jou gegee. Die profete het dit gesê, en die ouderlinge het hulle hande op jou gesit. Jy moet aanhou om hierdie dinge te doen, jy moet so lewe dat almal kan sien dat jy meer en meer glo. Jy moet baie goed dink en versigtig wees oor hoe jy lewe en wat jy vir die mense leer. Jy moet aanhou om reg te lewe en om vir die mense reg te leer, want as jy hierdie dinge doen, dan sal jy jouself red en ook die mense wat luister na jou.

1 TIMOTEUS 4:6-16 Die Boodskap (DB)

Jy sal doen wat Christus Jesus van jou as sy werker vra as jy die mense van hierdie gevare vertel. Die boodskap waarin jy glo, moet jou sterk maak. Jy het mos die Christelike leer aanvaar. Juis daarom moet jy jou nie steur aan al die stories wat mense uitdink en wat eintlik niks met God te doen het nie. Sorg jy liewer dat jy God reg dien. Jy moet oefen om dit te doen soos ’n atleet oefen om fiks te bly. ’n Atleet wat oefen om fiks te bly doen goed, maar dit help nie vir alles nie. Om egter geestelik te oefen om fiks te bly deur God te dien, is regtig die moeite werd. Dit help ’n mens op alle maniere, vir die lewe hier op aarde én die lewe wat vir ons wag in die toekoms. Hierna kan julle maar luister, want dit is die absolute waarheid. Hiervoor probeer ons ons uiterste bes en ons werk hard daarvoor. Ons weet mos dat die lewende God alles wat Hy beloof het, sal doen. Hy is die Een wat almal red, veral dié wat op Christus vertrou. Jy moet vir mense hierdie dinge leer en vir hulle sê om dit te doen. Moenie dat mense op jou neersien omdat jy so jonk is nie. Neem liewer die leiding onder hulle en wys vir hulle hoe ’n Christen moet praat en wat ’n Christen moet doen. Ja, wys vir hulle hoe ’n Christen moet liefhê en op God en Christus moet vertrou, en hoe skoon ’n Christen se lewe moet wees. Hou aan om vir mense uit die Skrif voor te lees en praat met hulle daaroor sodat hulle ook meer van God se boodskap kan verstaan. Moenie ophou of vergeet om die gawe te gebruik wat God jou so onverdiend gegee het nie. Dit is die gawe wat God jou gegee het toe die leiers in die gemeente hulle hande op jou gesit het omdat God mense gelei het om sulke mooi dinge oor jou te voorspel. Probeer jou bes en doen jou deel so goed jy kan sodat almal kan sien hoe jy as Christen ryper word. Maak doodseker dat jy reg lewe en ander so leer. Moenie ’n duim van hierdie pad afwyk nie. As jy op hierdie pad bly, sal nie net jy by God uitkom nie, maar ook almal wat luister na wat jy vir hulle sê.

1 TIMOTEUS 4:6-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

As jy dit aan die broers en susters voorhou, sal jy jou plig doen as ’n waardige dienaar van Christus Jesus, een wat gevoed word deur die boodskap van geloof en die ware leringe wat jy navolg. Moenie tyd verkwis met redenasies oor goddelose idees en ouvroustories nie. Bestee jou tyd en energie daaraan om jouself te oefen tot geestelike fiksheid. Liggaamlike oefening het wel waarde, maar geestelike oefening is baie belangriker, want dit hou die belofte in van beloning, sowel in hierdie lewe as in die volgende. Dit is ’n betroubare boodskap, een wat verdien om ten volle aanvaar te word. Hiervoor swoeg en veg ons, want ons hoop is op die lewende God wat die Verlosser is van alle mense, en veral van dié wat glo. Gee instruksies oor hierdie dinge en onderrig die mense daarvolgens. Moenie dat enigiemand minder van jou dink omdat jy jonk is nie. Wees ’n voorbeeld vir alle gelowiges deur wat jy leer, in die manier waarop jy lewe, in jou liefde, jou geloof en jou integriteit. Totdat ek daar opdaag, konsentreer daarop om die Skrif aan die gemeente voor te lees, die gelowiges te bemoedig en om hulle te onderrig. Moenie die geestelike gawe verwaarloos wat jy ontvang het deur die profesieë wat oor jou uitgespreek is toe die ouderlinge van die gemeente jou die hande opgelê het nie. Gee jou volle aandag aan hierdie sake. Werp jouself in jou werksaamhede sodat almal jou vordering kan sien. Let goed op jouself en jou leer. Bly getrou aan wat reg is, en jy sal jouself red sowel as almal wat na jou luister.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid