1 SAMUEL 19:1-17

1 SAMUEL 19:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Saul het vir sy seun Jonatan en vir al sy amptenare gesê hulle moet vir Dawid doodmaak. Maar Saul se seun Jonatan het baie van Dawid gehou. Jonatan het vir Dawid gewaarsku. Hy het vir Dawid gesê: “My pa Saul wil jou doodmaak. Jy moet nou baie versigtig wees. Jy moet môre gaan wegkruip, niemand moet weet waar jy is nie. Ek sal kom en saam met my pa in die veld gaan staan naby die plek waar jy is en ek sal met my pa praat oor jou, sodat ek kan weet wat hy wil doen. Dan sal ek dit vir jou sê.” Jonatan het by die koning gesoebat oor Dawid. Hy het gesê: “Koning, jy moet asseblief nie iets verkeerd doen aan Dawid nie, want hy het nie iets verkeerd gedoen teen jou nie. Alles wat Dawid gedoen het, was baie goed vir jou. Hy het geweet dit is baie gevaarlik om teen die Filistyn te veg, maar hy het dit gedoen en hy het die Filistyn oorwin. Die Here het toe vir al die manne van Israel ver laat wen. Koning, jy het dit gesien en jy was bly. Hoekom wil jy nou verkeerd doen en vir Dawid doodmaak? Hy is onskuldig, hy het niks gedoen waaroor jy hom moet doodmaak nie.” Saul het geluister na wat Jonatan gesê het en hy het belowe: “So seker soos die Here lewe, niemand sal vir Dawid doodmaak nie.” Jonatan het toe vir Dawid geroep en hy het alles vir hom vertel, en hy het vir Dawid teruggebring na Saul toe. Alles was toe weer soos dit voorheen was. Daar was weer oorlog, en Dawid het teen die Filistyne gaan veg. Hulle het hard geveg en Dawid het die Filistyne oorwin. Die Filistyne het gevlug. 'n Bose gees wat van die Here gekom het, het in Saul gekom. Saul het in sy huis gesit, en sy spies was in sy hand. Dawid het musiek gemaak. Saul het probeer om vir Dawid teen die muur vas te gooi met sy spies, maar Dawid het weggespring, en Saul het die spies teen die muur vasgegooi. Dawid het gevlug en hy het daardie nag weggekom. Saul het manne na Dawid se huis gestuur om by sy huis wag te staan en om Dawid in die oggend dood te maak, maar Dawid se vrou Mikal het vir Dawid gewaarsku. Sy het vir hom gesê: “Jy moet vannag vlug om jou lewe te red, anders sal hulle jou môre doodmaak.” Mikal het vir Dawid deur die venster laat afsak, en hy het weggegaan en gevlug en weggekom. Mikal het 'n beeld geneem en sy het dit op die bed gesit. Sy het 'n stuk bokvel om die beeld se kop gedraai en sy het die beeld toegemaak met klere. Saul het manne gestuur om vir Dawid te vang, en Mikal het vir hulle gesê: “Hy is siek.” Daarna het Saul sy manne gestuur om na Dawid te gaan kyk en hy het vir hulle gesê: “Bring hom hier na my toe saam met sy bed sodat ek hom kan doodmaak.” Toe die manne by die bed kom, sien hulle dat daar 'n beeld lê met 'n stuk bokvel om die kop. Saul het vir Mikal gesê: “Hoekom het jy my so bedrieg? Jy het my vyand laat gaan sodat hy kon wegkom.” Mikal het vir Saul gesê: “Hy het vir my gesê ek moet hom laat gaan, anders sal hy my doodmaak.”

1 SAMUEL 19:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAARNA het Saul met sy seun Jónatan en met al sy dienaars gespreek om Dawid dood te maak; maar Jónatan, die seun van Saul, het baie van Dawid gehou; en Jónatan het dit aan Dawid meegedeel en gesê: My vader Saul soek geleentheid om jou dood te maak: pas dan nou môre vroeg op en hou jou verborge en steek jou weg. Dan sal ek uitgaan en langs my vader gaan staan in die veld waar jy is, en ek sal met my vader oor jou spreek; en as ek iets sien, sal ek jou dit meedeel. Jónatan het toe goed van Dawid gespreek by sy vader Saul en vir hom gesê: Laat die koning hom tog nie besondig aan sy dienaar Dawid nie, omdat hy nie teen u gesondig het nie, en omdat sy handelwyse u geheel ten goede kom: hy het sy lewe gewaag en die Filistyn verslaan, en die HERE het aan die hele Israel 'n groot oorwinning besorg. U het dit gesien en u was bly; waarom sal u dan aan onskuldige bloed u besondig deur Dawid sonder oorsaak dood te maak? En Saul het na Jónatan geluister, en Saul het gesweer: So waar as die HERE leef, hy sal nie gedood word nie! Daarop het Jónatan Dawid geroep, en Jónatan het al hierdie woorde aan hom meegedeel. En Jónatan het Dawid na Saul gebring, en hy was voor hom soos gister en eergister. En toe daar weer oorlog kom, het Dawid uitgetrek en teen die Filistyne geveg en 'n groot slag onder hulle geslaan, sodat hulle voor hom uit gevlug het. MAAR 'n bose gees van die HERE het oor Saul gekom terwyl hy in sy huis sit met sy spies in sy hand en Dawid met die hand op die snare speel. Toe probeer Saul om Dawid met die spies teen die muur vas te steek, maar hy het vir Saul gekoes, sodat hy die spies teen die muur vasgooi. En Dawid het gevlug en daardie nag vrygekom. Maar Saul het boodskappers na Dawid se huis gestuur om hom te bewaak en hom die môre vroeg dood te maak. Maar sy vrou Migal het dit aan Dawid meegedeel en gesê: As jy nie vannag jou lewe red nie, word jy môre gedood. Migal het Dawid toe deur die venster laat afsak; en hy het weggegaan en gevlug en vrygekom. Daarop neem Migal die huisgod en lê dit op die bed neer, en sy sit die net van bokhaar aan sy koppenent en bedek dit met 'n kombers. Toe Saul dan boodskappers stuur om Dawid te gaan haal, sê sy: Hy is siek. Daarop stuur Saul die boodskappers om Dawid te besoek met die opdrag: Bring hom met bed en al na my toe, dat ek hom kan ombring. Toe die boodskappers inkom, lê die huisgod daar op die bed en die net van bokhaar aan sy koppenent! En Saul sê vir Migal: Waarom het jy my so bedrieg en my vyand laat gaan, sodat hy vrygekom het? Maar Migal het Saul geantwoord: Hy het vir my gesê: Laat my gaan, of ek maak jou dood.

1 SAMUEL 19:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Saul het naderhand selfs met sy seun Jonatan en met al sy offisiere gepraat om Dawid dood te maak. Maar Saul se seun Jonatan het baie van Dawid gehou. Toe het Jonatan vir Dawid vertel: “My pa wil jou doodmaak. Jy moet tog môreoggend versigtig wees. Gaan sit op 'n beskutte plek en kruip weg. Dan sal ek in die veld waar jy is, langs my pa gaan staan en met hom oor jou praat. As ek agterkom hoe dit gesteld is, sal ek jou dit vertel.” Jonatan het toe vir Dawid voorspraak gedoen by Saul en vir hom gesê: “Die koning moet hom tog nie aan sy onderdaan Dawid besondig nie, want hy het u geen kwaad aangedoen nie, sy dade was baie voordelig vir u. Hy het sy lewe gewaag en die Filistyn verslaan dié keer toe die Here die groot uitkoms vir die hele Israel bewerk het. U het dit gesien en u was self bly. Waarom sal u sonde doen oor 'n onskuldige man en vir Dawid sonder rede doodmaak?” Saul het na Jonatan geluister en 'n eed afgelê: “So seker as die Here leef, hy sal nie doodgemaak word nie.” Hierná het Jonatan vir Dawid gaan roep, en Jonatan het hom die hele gesprek meegedeel. Jonatan het vir Dawid na Saul toe gebring, en Dawid het vir Saul gedien soos voorheen. Daar het weer 'n keer oorlog gekom, en Dawid het opgetrek om teen die Filistyne te veg. Hy het hulle in 'n bloedige veldslag verslaan, en hulle het voor hom gevlug. Saul het in sy huis gesit met sy spies in sy hand, en Dawid het op die lier gespeel. Toe 'n boosaardige gees wat deur die Here gestuur is, oor Saul kom, het hy geprobeer om Dawid teen die muur vas te pen met die spies. Maar Dawid het weggekoes, en Saul het die spies teen die muur vasgegooi. Dawid het gevlug en daardie nag ontsnap. Toe stuur Saul mense na Dawid se huis toe om hom dop te hou en hom in die môre dood te maak. Maar sy vrou Mikal het hom gewaarsku: “As jy nie vannag vlug nie, word jy môre doodgemaak.” Mikal het Dawid toe deur die venster laat afsak. Hy het weggegaan, gevlug en ontsnap. Maar Mikal het die afgodsbeeld gevat en op die bed neergesit. Sy het 'n bokhaarnet om die beeld se kop gedraai en dit met 'n kombers toegemaak. Toe Saul se mense daar kom om vir Dawid te vang, sê sy: “Hy is siek.” Daarna het Saul sy manne gestuur om na Dawid te gaan kyk en beveel: “Bring hom na my toe met bed en al dat ek hom kan laat doodmaak.” Die manne het ingekom, en toe lê die afgodsbeeld op die bed, met die bokhaarnet aan die koppenent. Saul sê toe vir Mikal: “Waarom het jy my so bedrieg en my vyand vrygelaat om te ontsnap?” Maar Mikal het vir Saul geantwoord: “Hy het vir my gesê: Laat my gaan, anders maak ek jou dood.”

1 SAMUEL 19:1-17 Die Boodskap (DB)

Saul het vir sy seun Jonatan en al sy offisiere gesê om Dawid dood te maak. Omdat Jonatan baie erg was oor Dawid, het hy dit vir hom gaan vertel: “My pa wil jou laat doodmaak,” het hy gesê. “Jy moet môreoggend lig loop. Kry vir jou ’n veilige plek en gaan kruip weg. Ek sal self môre saam met my pa uitgaan en in die veld waar jy wegkruip, met hom oor jou praat. As ek iets agterkom, sal ek jou laat weet.” Jonatan het by Saul vir Dawid gepleit en vir hom gesê: “Pa is koning; moet tog nie ’n verkeerde ding aan Dawid doen nie. Hy is Pa se onderdaan en hy het niks verkeerds aan Pa gedoen nie. Inteendeel, wat hy gedoen het, was net tot Pa se voordeel. Hy het sy lewe gewaag om die Filistyn dood te maak, en die Here het ’n groot oorwinning vir die hele Israel gegee. Pa het dit self gesien en Pa was bly daaroor. Hoekom sou Pa dan nou sonde doen deur ’n onskuldige man soos Dawid dood te maak?” Saul het na Jonatan geluister en by die Here gesweer dat hy Dawid nie sou doodmaak nie. Jonatan het toe vir Dawid geroep en hom alles vertel. Hy het Dawid na Saul toe gevat en Dawid het weer soos voorheen vir Saul gewerk. Daar was weer oorlog met die Filistyne en Dawid het teen hulle gaan veg. Dié keer het Dawid hulle so erg aangeval dat hulle vir hom gevlug het. ’n Slegte gees het Saul toe weer beetgepak. Hy het in die paleis gesit met ’n spies in sy hand terwyl Dawid vir hom op die lier speel. Saul wou vir Dawid met die spies teen die muur vasgooi, maar Dawid het gekoes sodat die spies in die muur vasgesteek het. Dawid het weggehardloop en daardie nag van die paleis af padgegee. Saul het mense na Dawid se huis gestuur om die huis dop te hou en Dawid die volgende môre dood te maak. Maar Mikal, sy vrou, het hom gewaarsku: “Sorg dat jy vannag wegkom, anders is jy môre dood.” Sy het Dawid deur ’n venster laat afsak. Hy het gevlug en weggekom. Mikal het die beeld van die huisgod gevat en dit op die bed gesit. Sy het ’n deken oor die beeld gegooi en ’n bokhaarkombersie om die beeld se kop gedraai. Saul het mense gestuur om Dawid te vang, maar Mikal sê toe Dawid is siek. Saul het die manne teruggestuur om seker te maak dat Dawid daar is. Hy het vir hulle gesê: “Bring hom met bed en al. Ek wil hom doodmaak.” Toe hulle in sy kamer kom, kry hulle sowaar net die huisgod op die bed met die bokhaarkombersie om die ding se kop! Saul het vir Mikal gesê: “Hoekom het jy my in die steek gelaat en my vyand gehelp om weg te kom?” Waarop Mikal toe antwoord: “Dis sy skuld. Hy het gesê ek moet hom help om weg te kom, anders maak hy my dood.”

1 SAMUEL 19:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Saul het sy seun Jonatan en sy amptenare aangemoedig om Dawid te vermoor. Maar omdat Jonatan en Dawid boesemvriende was, sê hy vir Dawid: “My pa wil jou doodmaak. Wees baie versigtig. Môre-oggend moet jy in die veld gaan wegkruip. Ek sal daar by my pa gaan staan en hom oor jou uitvra. Dan sal ek jou laat weet.” Jonatan het toe ’n goeie woord vir Dawid by Saul gedoen en gesê: “Die koning moenie sondig teen u onderdaan Dawid nie. Hy het niks wat sleg is teen u gedoen nie, maar net goeie dinge. Trouens, hy het sy lewe op die spel geplaas en die Filistyn doodgemaak. Daarmee het die HERE ’n groot verlossing vir die hele Israel bewerk. U het dit gesien en was saam bly. Hoekom sal u sondig en onskuldige bloed vergiet deur Dawid sonder rede dood te maak?” Saul het na Jonatan geluister. Hy het ’n eed afgelê: “So waar as die HERE leef, hy sal nie doodgemaak word nie.” Daarna roep Jonatan vir Dawid en vertel hom alles. Hy het Dawid na Saul toe gebring en Dawid was in Saul se diens soos voorheen. Daar het weer oorlog uitgebreek. Dawid en sy manskappe het teen die Filistyne gaan veg. Die slagting was groot en die Filistyne het van hom af weggevlug. Maar die bose gees wat die HERE gestuur het, het weer oor Saul gekom. Hy het in sy huis gesit en sy spies was in sy hand terwyl Dawid op die lier gespeel het. Saul het Dawid met die spies teen die muur probeer vaspen, maar Dawid het gekoes sodat die spies in die muur vasgesteek het. Daardie nag het Dawid gevlug. Saul stuur toe soldate om wag te hou oor Dawid se huis en hom in die oggend dood te maak. Maar Dawid se vrou Mikal waarsku hom: “As jy nie vannag nog vlug nie, sal jy môre sekerlik doodgemaak word.” Mikal het Dawid deur ’n venster laat afsak sodat hy kon wegkom en vlug. Daarna neem sy ’n huisgod, laat lê dit op die bed met bokhaar by die kop en gooi dit toe met ’n kombers. Toe die soldate kom om Dawid te vang, sê sy: “Hy is siek.” “Bring hom dan met bed en al sodat hy doodgemaak kan word,” sê Saul. Die soldate het ingekom, en daar kry hulle ’n huisgod op die bed met bokhaar by die koppenent! Saul sê vir Mikal: “Hoekom het jy my bedrieg deur my vyand te laat ontsnap?” Mikal antwoord: “Ek moes, want hy het gedreig om my dood te maak as ek hom nie help nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid