1 KONINGS 21:27-29
1 KONINGS 21:27-29 Bybel vir almal (ABA)
Toe Agab hoor wat Elia alles gesê het, het hy sy klere geskeur en rouklere om sy lyf gebind en hy het gevas. Hy het geslaap met die rouklere. Hy het rondgeloop en hy het niks gepraat nie. Die Here sê toe vir Elia van Tisbe: “Het jy gesien dat Agab hom voor My verneder het? Omdat hy dit gedoen het, sal Ek dit nie met hom sleg laat gaan terwyl hy nog lewe nie, maar wanneer sy seun koning is, dan sal Ek dit sleg laat gaan met sy koningshuis.”
1 KONINGS 21:27-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe Agab hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur en 'n roukleed om sy lyf gebind en gevas; hy het ook met die roukleed geslaap en stadig rondgeloop. Toe kom die woord van die HERE tot Elía, die Tisbiet, en sê: Het jy gesien dat Agab hom voor my aangesig verneder het? Omdat hy hom voor my aangesig verneder het, sal Ek die onheil in sy dae nie bring nie; in die dae van sy seun sal Ek die onheil oor sy huis bring.
1 KONINGS 21:27-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Agab al hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur en rouklere om sy lyf gehang en gevas. Hy het selfs met rouklere gaan slaap, en heeltyd bedruk rondgeloop. Daarom het die woord van die Here tot Elia die Tisbiet gekom en gesê: “Het jy gesien Agab het hom voor My verootmoedig? Omdat hy hom voor My verootmoedig het, sal Ek die ramp nie tydens sý lewe laat plaasvind nie. Tydens die bewind van sy seun sal Ek die ramp oor sy familie bring.”
1 KONINGS 21:27-29 Die Boodskap (DB)
Toe Elia klaar gepraat het, het Agab sy klere geskeur, ’n roukleed van sak aangetrek en begin vas. Hy het selfs met die roukleed aan geslaap. Hy het stadig geloop. Agab was verpletter. Toe het die Here vir Elia gesê: “Het jy gesien hoe Agab hom voor My verneder het? Omdat hy berou het, sal Ek nie die rampe in sy tyd laat gebeur nie, maar eers in sy seun se tyd.”
1 KONINGS 21:27-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Agab hierdie boodskap hoor, het hy sy klere geskeur, rouklere aangetrek en gevas. Hy het selfs in ’n roukleed geslaap en neerslagtig rondgeloop. Die HERE het weer ’n boodskap vir Elia die Tisbiet gegee: “Het jy opgelet dat Agab homself voor My verootmoedig het? Omdat hy dit gedoen het, sal Ek die ramp nie gedurende sy lewe laat gebeur nie. Ek sal eers tydens die regering van sy seun die ramp oor sy familie bring.”