1 KONINGS 19:1-18

1 KONINGS 19:1-18 Bybel vir almal (ABA)

Agab het vir Isebel alles vertel wat Elia gedoen het, ook dat hy al die profete van Baäl doodgemaak het. Toe stuur Isebel vir Elia 'n boodskap en sê: “Ek bid dat die gode my sal help sodat ek môre hierdie selfde tyd met jou sal gedoen het wat jy met die profete van Baäl gedoen het.” Elia het bang geword. Hy het gereedgemaak en gevlug, sodat Isebel hom nie kan doodmaak nie. Toe hy by die stad Berseba kom, het hy en die jongman by hom daar gerus. Daarna het hy alleen 'n hele dag lank verder in die woestyn in geloop. Hy het daar onder 'n besembos gaan sit en hy het gewens hy sterf. Hy het gesê: “Here, dit is nou genoeg. U moet my laat sterf, want ek is nie beter as my voorvaders nie.” Elia het gaan lê, en hy het onder die besembos aan die slaap geraak. Toe kom daar 'n engel en die engel raak aan hom en sê vir hom: “Jy moet opstaan en eet.” Toe Elia kyk, sien hy by sy kop 'n gaar roosterkoek en 'n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Maar toe raak die engel weer aan hom en hy sê: “Jy moet opstaan en eet. As jy dit nie doen nie, dan sal jy nie die hele pad kan loop nie.” Elia het toe opgestaan en geëet en gedrink. En daardie kos het hom so sterk gemaak dat hy 40 dae en 40 nagte lank geloop het tot by Horeb, die berg van God. Daar het hy by 'n grot gekom en gaan slaap. Toe hoor hy die Here vra vir hom: “Elia, wat doen jy hier?” Elia het gesê: “Ek het baie hard gewerk vir die Here, die God wat oor alles regeer, maar die Israeliete het nie gedoen wat U in u verbond gesê het nie. Hulle het u altare afgebreek en hulle het u profete doodgemaak, ek het alleen oorgebly. En nou wil hulle my ook doodmaak.” Toe sê die Here: “Gaan uit en gaan staan op die berg voor My.” En toe kom die Here daar verby. Daar was 'n sterk wind, dit het die berg geskud en die rotse gebreek voor die Here. Maar die Here was nie in die wind nie. En ná die wind was daar 'n aardbewing. Maar die Here was nie in die aardbewing nie. En ná die aardbewing was daar 'n vuur. Die Here was ook nie in die vuur nie. En ná die vuur het Elia iets gehoor soos wanneer iemand baie sag praat. Toe hy dit hoor, het hy sy gesig toegemaak met sy bo-kleed. Hy het uitgegaan en hy het voor die grot gaan staan. En daar hoor hy toe 'n stem wat vra: “Elia, wat doen jy hier?” Elia het gesê: “Ek het baie hard gewerk vir die Here, die God wat oor alles regeer, maar die Israeliete het nie gedoen wat U in u verbond gesê het nie. Hulle het u altare afgebreek en hulle het u profete doodgemaak, ek het alleen oorgebly. En nou wil hulle my ook doodmaak.” Toe sê die Here vir hom: “Gaan terug op dieselfde pad. Jy moet gaan tot in die woestyn van Damaskus, en wanneer jy daar kom, dan moet jy vir Gasael salf om koning te wees van die Arameërs. En jy moet vir Jehu seun van Nimsi salf om koning te wees van Israel. En jy moet vir Elisa seun van Safat van die stad Abel-Megola salf om profeet te wees in jou plek. Gasael sal begin om mense dood te maak, en Jehu sal die mense doodmaak wat vry weggekom het van Gasael. Elisa sal die mense doodmaak wat vry weggekom het van Jehu. Maar Ek sal in die land Israel 7 000 mense laat oorbly wat nie hulle knieë gebuig het voor Baäl nie. Hulle het hom nie aanbid en gesoen nie.”

1 KONINGS 19:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Agab het aan Isébel meegedeel alles wat Elía gedoen het, ja, alles — hoe hy al die profete met die swaard gedood het. Daarop stuur Isébel 'n boodskapper na Elía om te sê: Mag die gode so doen en so daaraan toedoen — sekerlik sal ek môre sulke tyd jou siel maak soos die siel van een van hulle. Toe hy dit sien, het hy hom klaargemaak en ter wille van sy lewe weggegaan. En toe hy in Berséba in Juda aangekom het, het hy sy dienaar daar laat agterbly; maar self het hy 'n dagreis ver die woestyn ingegaan en daar onder 'n besembos gaan sit en gewens dat hy mag sterwe. En hy sê: Dit is genoeg, neem nou my siel weg, HERE, want ek is nie beter as my vaders nie. Daarop gaan hy lê en raak onder 'n besembos aan die slaap; en kyk, daar raak 'n engel hom aan en sê vir hom: Staan op, eet! Toe hy opkyk, was daar aan sy koppenent 'n broodkoek, op warm klippe gebak, en 'n kruik water. En hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. En die engel van die HERE het weer vir die tweede maal gekom en hom aangeraak en gesê: Staan op, eet; anders is die pad vir jou te veel. Hy het toe opgestaan en geëet en gedrink en deur die krag van die voedsel veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van God, Horeb. En hy het daar in 'n spelonk gegaan en die nag daar oorgebly. En kyk, die woord van die HERE het tot hom gekom en vir hom gesê: Wat maak jy hier, Elía? En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die HERE, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem. En Hy sê: Gaan uit en staan op die berg voor die aangesig van die HERE. En kyk, die HERE het verbygegaan, terwyl 'n groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die HERE uit; in die wind was die HERE nie. En ná die wind 'n aardbewing; in die aardbewing was die HERE nie. En ná die aardbewing 'n vuur; in die vuur was die HERE nie. En ná die vuur die gesuis van 'n sagte koelte. En toe Elía dit hoor, het hy sy gelaat met sy mantel toegedraai en uitgegaan en by die ingang van die spelonk gaan staan. En daar kom 'n stem na hom wat sê: Wat maak jy hier, Elía? En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die HERE, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het; en hulle soek my lewe om dit weg te neem. Maar die HERE sê vir hom: Gaan terug op jou pad na die woestyn van Damaskus, en gaan heen en salf Hásael as koning oor Aram. En Jehu, die seun van Nimsi, moet jy salf as koning oor Israel; en Elísa, die seun van Safat, uit Abel-Mehóla, moet jy salf as profeet in jou plek. En die een wat van die swaard van Hásael vryraak, hom sal Jehu doodmaak; en wat van die swaard van Jehu vryraak, hom sal Elísa doodmaak. Maar Ek sal seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baäl gekniel en elke mond wat hom nie gesoen het nie.

1 KONINGS 19:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Agab het vir Isebel vertel wat Elia alles gedoen het, ook dat hy al die profete om die lewe gebring het. Toe het Isebel 'n boodskapper na Elia toe gestuur om vir hom te sê: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.” Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat. Hy self het egter 'n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder 'n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.” Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud 'n engel aan hom en sê: “Word wakker! Eet!” Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe gebak is, en 'n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Die engel het 'n tweede keer aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.” Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God. Hy het in 'n grot ingegaan en die nag daar deurgebring. Toe het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?” Hy antwoord toe: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.” Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.” Skielik was daar 'n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar 'n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. Na die aardbewing was daar 'n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar 'n fluistering in die windstilte. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy 'n stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier, Elia?” Hy het geantwoord: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.” Maar die Here sê vir hom: “Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe, en as jy daar aangekom het, moet jy vir Gasael salf tot koning van Aram. Jy moet ook vir Jehu seun van Nimsi salf tot koning van Israel, en vir Elisa seun van Safat uit Abel-Megola moet jy salf tot profeet om jou op te volg. Dan sal dit só wees: wie Gasael se swaard vryspring, Jehu sal hom doodmaak; wie Jehu se swaard vryspring, Elisa sal hom doodmaak. Maar Ek sal in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie.”

1 KONINGS 19:1-18 Die Boodskap (DB)

Agab het vir sy vrou Isebel vertel wat Elia gedoen het en hoe hy al die Baälprofete doodgemaak het. Isebel was woedend. Sy het toe vir Elia ’n boodskap gestuur: “As ek jou nie binne 24 uur doodmaak soos jy die Baälprofete doodgemaak het nie, moet die gode my maar laat sterf.” Elia het baie bang geword. Hy het besluit om dadelik daar pad te gee. Hy het sy helper saamgevat en hulle is in die rigting van Berseba in Juda. Daar het hy sy helper gelos en ’n dag lank alleen verder die woestyn in gestap. Moeg en uitgeput het hy naderhand onder ’n boom gaan sit. Hy wou nie meer leef nie en het gebid: “Here, die lewe maak net nie meer sin nie. Laat my tog maar doodgaan, want ek verdien dit nie om langer te leef nie.” Elia was so moeg dat hy net daar aan die slaap geraak het. Skielik het ’n engel aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Sit regop en eet eers iets.” Verdwaas het hy rondgekyk en naby hom ’n stuk brood en ’n kruik vol water gesien. Hy het geëet en gedrink. Daarna het hy weer gaan lê en aan die slaap geraak. Die engel het hom weer wakker gemaak. “Staan op en eet, want jy moet nog ’n ver ent stap. As jy nie nou eet nie, gaan die pad te lank word.” Elia het alles geëet en gedrink en dit het hom krag gegee om 40 dae lank na Horeb, die berg van die Here, te stap. By Horeb het Elia die eerste nag in ’n spelonk gebly. Diep in die nag het die Here met hom gepraat: “Elia, wat presies maak jy hier?” Elia het geantwoord: “Here, U is die enigste ware God. My lewe lank dien ek met groot ywer net vir U. Israel het egter die rug vir U gedraai. Hulle het die altare vernietig waar U aanbid word en al u profete vermoor. Ek is die enigste een wat oorgebly het. Maar nou wil hulle my ook doodmaak. Dis hoekom ek besluit het om te vlug.” “Gaan buitentoe,” het die Here gesê, “en gaan staan op die berg voor die Here.” Toe het ’n geweldige sterk wind gewaai wat die berge geskeur en al die rotse uitmekaargebreek het. Die Here was egter nie in die wind nie. Na die wind was daar skielik ’n groot aardbewing, maar die Here was ook nie in die aardbewing nie. Net na die aardbewing was daar ’n verskriklike vuur, maar die Here was ook nie in die vuur nie. Na die vuur was daar ’n groot stilte en iets soos ’n stem wat fluister. Toe Elia dit hoor, het hy sy kleed om sy gesig gedraai en in die ingang van die spelonk gaan staan. ’n Stem het hom gevra: “Elia, wat maak jy hier?” Hy het geantwoord: “Here, U ken my. My hele lewe lank dien ek met groot ywer nog net vir U. Israel het egter die rug vir U gedraai. Hulle het die altare waar U aanbid word, vernietig en al u profete vermoor. Nog net ek het oorgebly en nou soek hulle my lewe ook. Dit is waarom ek besluit het om te vlug.” “Gaan terug,” het die Here vir Elia gesê. “Op pad moet jy deur die woestyn tot by Damaskus gaan en daar moet jy vir Gasael as die nuwe koning van Aram aanwys. Verder moet jy na Jehu, die seun van Nimsi, gaan soek en hom met olie salf as teken dat hy die nuwe koning van Israel sal wees. Dan moet jy na Elisa seun van Safat uit Abel-Megola toe gaan. Hy is jou opvolger en jy moet hom ook salf as teken dat hy by jou gaan oorneem. “Hierdie drie persone sal die ontroue Israel straf. Wie van Gasael ontsnap, sal deur Jehu doodgemaak word. En wie Jehu ontglip, sal met Elisa te doen kry. Sewe duisend gelowiges sal egter oorbly. Dit is hulle wat nie die knie voor Baäl gebuig en nie sy beeld gesoen het nie.”

1 KONINGS 19:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Agab het vir Isebel alles vertel wat Elia gedoen het, en dat hy die profete van Baäl doodgemaak het. Toe stuur Isebel vir Elia ’n boodskap: “Mag die gode my met die dood straf as ek nie teen môre hierdie tyd jou lewe neem soos jy met die profete gemaak het nie.” Elia het baie bang geword en vir sy lewe gevlug. Hy het na Berseba, ’n dorp in Juda, gegaan en sy dienaar daar agtergelaat. Hy self het die woestyn ’n dagreis ver binnegegaan. Hy het toe onder ’n besembos gaan sit en gewens dat hy liewer maar moet sterf. “Ek het nou genoeg gehad, HERE,” het hy gesê. “Neem nou maar my lewe, want ek is niks beter as my voorouers nie.” Hy het gaan lê en onder die besembos aan die slaap geraak. Maar ’n engel het hom wakker geskud en vir hom gesê: “Staan op en eet!” Hy kyk op en dáár sien hy by sy kop ’n roosterkoek wat op warm klippe gebak is en ’n kruik vol water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Die engel het weer gekom, aan hom geskud en gesê: “Staan op en eet weer, anders sal die pad vir jou te lank wees.” Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink. Die kos het hom genoeg krag gegee sodat hy 40 dae en 40 nagte lank tot by Horeb, die berg van God, kon loop. Daar het hy by ’n grot ingegaan en die nag daar deurgebring. HERE Maar die HERE het met hom gepraat: “Wat maak jy hier, Elia?” Elia antwoord: “Ek het U met toewyding gedien, HERE God Almagtig. Maar die Israeliete het die verbond met U verbreek, u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak.” “Kom buitekant toe en gaan staan voor My by die berg,” sê die HERE vir hom. Terwyl Elia daar staan, het die HERE by hom verbygegaan en ’n geweldige rukwind het die berg uitmekaargeruk en die rotse gebreek voor die HERE. Tog was die HERE nie in die wind nie. Na die wind was daar ’n aardbewing, maar die HERE was nie in die aardbewing nie. Na die aardbewing was daar ’n vuur, maar die HERE was nie in die vuur nie. Na die vuur was daar die geluid van ’n sagte gesuis. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak. Hy het by die ingang van die grot gaan staan. ’n Stem het gesê: “Wat maak jy hier, Elia?” Hy het weer geantwoord: “Ek het U met toewyding gedien, HERE God Almagtig. Maar die Israeliete het die verbond met U verbreek, u altare afgebreek en al u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak.” Toe sê die HERE vir hom: “Draai net hier om en gaan na die woestyn van Damaskus. Wanneer jy daar aankom, moet jy Gasael salf tot koning van Aram. Dan moet jy Jehu seun van Nimsi salf tot koning oor Israel. Jy moet ook Elisa seun van Safat uit Abel-Megola salf om jou as my profeet op te volg. Dan sal sake só verloop: Die een wat Gasael se swaard ontvlug, sal Jehu doodmaak; en die een wat Jehu se swaard ontvlug, sal Elisa doodmaak. Nogtans sal Ek die 7 000 in Israel laat oorbly wat nie voor Baäl gebuig en hom vereer het nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid