1 KONINGS 18:1-40

1 KONINGS 18:1-40 Bybel vir almal (ABA)

Dit het 'n lang tyd nie gereën nie. Die Here het ná drie jaar vir Elia gesê: “Jy moet gaan sodat koning Agab jou kan sien. Ek wil dit laat reën in die land.” Elia het gegaan sodat Agab hom kon sien. Daar was hongersnood in die land Samaria. Agab het vir Obadja, die hoof van die paleis, geroep. Obadja het die Here altyd gedien. Toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het, het Obadja 100 profete weggesteek in twee grotte, 50 profete in elke grot, en hy het vir hulle kos en water gegee. Agab het vir Obadja gesê: “Jy moet gaan na al die fonteine en al die valleie, miskien kry jy gras sodat die perde en die muile kan aanhou lewe. As julle dit nie doen nie, dan sal ons party van die diere moet doodmaak.” Agab en Obadja het die land tussen hulle verdeel. Agab het alleen op een pad gegaan en Obadja het alleen op 'n ander pad gegaan. Obadja kry toe vir Elia op die pad, en hy het gesien wie dit is. Hy het gebuig en met sy gesig teen die grond gaan lê en gevra: “Meneer Elia, is dit jy?” Elia het vir hom gesê: “Ja, dit is ek. Gaan sê vir jou meneer ek is hier.” Toe sê Obadja: “Watter sonde het ek gedoen? Hoekom wil jy hê Agab moet my doodmaak? So seker soos jou God die Here lewe, my meneer het mense na elke volk en land gestuur om jou te soek. Wanneer die mense gesê het jy is nie daar nie, dan moes hulle belowe en sê die Here is die getuie dat hulle jou nie kan kry nie. En nou sê jy: ‘Gaan sê vir jou meneer dat Elia hier is.’ As ek nou weggaan van jou, en die Gees van die Here neem jou weg na 'n ander plek en ek weet nie waar jy is nie, wat sal dan met my gebeur? As ek vir Agab gaan vertel jy is hier, en hy kry jou nie hier nie, dan sal hy my doodmaak. Jy moet weet ek dien die Here vandat ek jonk was. Het jy gehoor wat ek gedoen het? Toe Isebel die profete van die Here begin doodmaak het, het ek 50 profete in een grot en 50 profete in 'n ander grot weggesteek en ek het vir hulle kos en water gegee. En nou sê jy ek moet vir my meneer gaan sê dat Elia hier is. Wil jy hê hy moet my doodmaak?” Elia het vir Obadja gesê: “So seker soos die Here lewe, die Here wat oor alles regeer, die God vir wie ek werk, jy moenie bekommerd wees nie, Agab sal my vandag sien.” Obadja het dit vir Agab gaan vertel, en Agab het gekom om vir Elia te ontmoet. Toe hy vir Elia sien, sê hy: “Is dit jy, jy wat die dood in die land Israel bring?” Elia het vir Agab gesê: “Dit is nie ék wat die dood in die land Israel bring nie. Jý en jóú familie het dit gedoen toe julle opgehou het om gehoorsaam te wees aan die wette van die Here en toe julle die Baäls begin dien het. Maar nou, stuur boodskappers en sê al die leiers van Israel moet bymekaarkom op Karmel-berg, en ook die 450 profete van Baäl en die 400 profete van Asjera wat kos kry by Isebel.” Agab het boodskappers gestuur na al die Israeliete toe en hy het die profete laat bymekaarkom op Karmel-berg. Elia het naby al die mense van Israel kom staan en gevra: “Hoe lank wil julle wag voordat julle besluit vir wie julle wil dien? As die Here God is, dan moet julle Hóm dien. Of, as Baäl God is, dan moet julle hóm dien.” Die mense het hom nie geantwoord nie, hulle het stilgebly. Toe sê Elia vir die mense: “Ek het alleen oorgebly van al die profete van die Here, maar daar is 450 profete van Baäl. Gee vir ons twee bulle. Die profete van Baäl moet vir hulle een bul kies. Hulle moet dit in stukke sny en op die hout op die altaar neersit, maar hulle moenie dan vuur op die altaar begin maak nie. Ek sal dieselfde doen met die ander bul. Ek sal dit op die hout sit en ek sal nie vuur op die altaar maak nie. Dan moet die profete van Baäl tot hulle god bid, en ek sal tot die Here bid. Die god wat met vuur antwoord en wat die hout op die altaar laat brand, Hý is God.” Al die mense het geantwoord: “Dit is goed.” Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies vir julle een bul en maak hom eerste gereed, want julle is baie. Julle moet tot julle god bid, maar julle moenie vuur op die altaar maak nie.” Die profete van Baäl het die bul geneem wat Elia vir hulle gegee het. Hulle het dit gereedgemaak en hulle het tot Baäl gebid. Hulle het van die oggend tot die middag aangehou bid en gesê: “Baäl, help ons.” Maar niks het gebeur nie, niemand het geantwoord nie. Die profete van Baäl het nie geweet wat om te doen by die altaar wat hulle gemaak het nie. Toe dit middag word, het Elia hulle gespot en gesê: “Julle moet harder skree, want Baäl is 'n god. Miskien is hy besig om te dink, of miskien is hy in die toilet, of miskien het hy gaan stap. Miskien slaap hy en iemand moet hom gaan wakker maak.” Die profete het hard geskree en hulle het gedoen wat hulle altyd gedoen het wanneer hulle ge-offer het: Hulle het hulleself stukkend gesny met swaarde en spiese totdat hulle rooi van die bloed was. Die middag het verbygegaan. Hulle het aangehou bid tot laat die middag. Dit was die tyd wanneer die priesters altyd die koring-offer gebring het. Maar daar het niks gebeur nie, niemand het geantwoord nie, Baäl het nie gehoor nie. Toe het Elia vir al die mense gesê: “Kom nader na my toe.” Hulle het nader gekom. Elia het die altaar van die Here wat stukkend was, weer reggemaak. Hy het twaalf klippe geneem, een vir elke stam, die nageslag van die seuns van Jakob. Jakob was die man vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.” Elia het die klippe in die altaar van die Here ingebou. Rondom die altaar het Elia 'n sloot gegrawe. Die sloot was so diep dat dit twee sea saad kon hou. Daarna het hy die hout reggesit en die bul in stukke gesny en bo-op die hout gesit. Toe sê Elia: “Julle moet vier kruike vol water maak en dit oor die brand-offer en die hout uitgooi.” Elia het gesê hulle moet dit weer doen, en toe ook 'n derde maal. Die water het oor die altaar geloop en dit het ook die sloot volgemaak. Laat die middag, toe dit tyd was om die koring-offer te bring, het die profeet Elia by die altaar gaan staan en hy het gesê: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat almal vandag sien dat U die God in die land Israel is. Laat almal ook sien dat ek u dienaar is, en dat dit U is wat vir my gesê het ek moet al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my, sodat hierdie mense kan weet dat U, die Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte verander.” Daar het toe vuur van die Here afgekom. Dit het die brand-offer en die hout en die klippe en die grond alles verbrand. Daar was nie meer water in die sloot nie, die sloot het droog geword. Toe die mense dit sien, het hulle almal gebuig, hulle gesigte was teen die grond. Hulle het gesê: “Die Here, Hy is God! Die Here, Hy is God!” Elia het vir hulle gesê: “Vang die profete van Baäl, julle moenie dat een van hulle wegkom nie!” Hulle het die profete gevang, en Elia het die profete laat bring na die Kison-rivier. Daar het hy hulle doodgemaak.

1 KONINGS 18:1-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN geruime tyd daarna het die woord van die HERE in die derde jaar tot Elía gekom en gesê: Gaan heen, vertoon jou aan Agab, dan wil Ek reën gee op die aarde. En Elía het gegaan om hom aan Agab te vertoon. En die hongersnood was swaar in Samaría. Toe laat Agab Obádja, wat oor die paleis was, roep. En Obádja het die HERE baie gevrees. Want toe Isébel die profete van die HERE uitgeroei het, het Obádja honderd profete geneem en hulle vyftig by vyftig man in 'n spelonk weggesteek en hulle met brood en water onderhou. En Agab het vir Obádja gesê: Trek deur die land na al die waterfonteine en na al die spruite; miskien sal ons gras kry, sodat ons die perde en muile in die lewe kan hou en van die vee nie hoef uit te roei nie. En hulle het die land onder mekaar verdeel om dit deur te trek: Agab het afsonderlik met een pad getrek, en Obádja het afsonderlik met 'n ander pad getrek. Terwyl Obádja op pad was, kom Elía hom meteens tegemoet; en toe hy hom herken, val hy op sy aangesig en vra: Is dit u, my heer Elía? En hy sê: Dit is ek; gaan sê aan jou heer: Elía is daar. Maar hy vra: Wat het ek gesondig, dat u u dienaar oorgee in die hand van Agab om my om die lewe te bring? So waar as die HERE u God leef, daar is geen nasie of koninkryk waar my heer nie heen gestuur het om u te soek nie; en as hulle sê: Hy is nie hier nie — dan laat hy die koninkryk en die nasie sweer dat hulle u nie kon vind nie. En nou beveel u: Gaan sê aan jou heer: Elía is daar! As ek nou van u af weggaan en die Gees van die HERE u wegneem — ek weet nie waarheen nie — en ek kom om Agab berig te bring en hy vind u nie, dan sal hy my doodmaak; en u dienaar vrees die HERE van sy jeug af. Is dit nie aan my heer meegedeel wat ek gedoen het toe Isébel die profete van die HERE gedood het nie: dat ek van die profete van die HERE honderd man, vyftig by vyftig, in 'n spelonk weggesteek en hulle met brood en water onderhou het? En nou beveel u: Gaan sê aan jou heer: Elía is daar! dat hy my kan doodmaak! Maar Elía sê: So waar as die HERE van die leërskare leef, voor wie se aangesig ek staan, ek sal my verseker vandag aan hom vertoon! En Obádja het Agab tegemoetgegaan en hom dit meegedeel; en Agab het Elía tegemoetgegaan. En net toe Agab Elía sien, vra Agab vir hom: Is dit jy, jou beroerder van Israel? Toe sê hy: Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die HERE verlaat het en agter die Baäls aan geloop het. Stuur dan nou, laat die hele Israel by my bymekaarkom op die berg Karmel, ook die vierhonderd-en-vyftig profete van Baäl en die vierhonderd profete van Asjéra wat aan die tafel van Isébel eet. En Agab het gestuur onder al die kinders van Israel en die profete op die berg Karmel bymekaar laat kom. En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie. Toe sê Elía vir die volk: Ek het alleen oorgebly as profeet van die HERE, terwyl die profete van Baäl vierhonderd-en-vyftig is. Maar laat hulle vir ons twee bulle gee; dan kan hulle vir hul een bul uitkies en dit in stukke verdeel en op die hout sit, maar sonder om vuur te maak; en ék sal die ander bul gereedmaak en op die hout sit, maar ek sal geen vuur maak nie. Roep julle dan die naam van julle god aan, en ék sal die Naam van die HERE aanroep; en die God wat met vuur antwoord, Hy sal God wees. En die hele volk het geantwoord en gesê: Die woord is goed. Verder het Elía aan die profete van Baäl gesê: Kies vir julle een bul uit en maak dit eerste gereed, want julle is die meeste; en roep die naam van julle god aan, maar julle mag geen vuur maak nie. En hulle het die bul wat hy hulle gegee het, geneem en dit gereedgemaak en die naam van Baäl van die môre tot die middag aangeroep en gesê: O Baäl, gee ons antwoord! Maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie. En hulle het rondgespring by die altaar wat hulle gemaak het. En toe dit middag was, het Elía met hulle gespot en gesê: Roep hard; hy is mos 'n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word. En hulle het hard geroep en hulleself volgens hul gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het. En toe die middag verby was, het hulle begin raas tot op die tyd dat die spysoffer gebring word; maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie, en geen opmerksaamheid nie. Toe sê Elía vir die hele volk: Kom nader na my. En die hele volk het nader gekom na hom; en hy het die altaar van die HERE herstel wat afgebreek was. Daarop neem Elía twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se kinders — tot wie die woord van die HERE gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees — en hy bou met die klippe 'n altaar in die Naam van die HERE. Daarna het hy 'n sloot gemaak rondom die altaar, 'n ruimte vir omtrent twee mate saad, en die hout gerangskik en die bul in stukke verdeel en bo-op die hout gelê. Toe sê hy: Maak vier kruike vol water en giet dit op die brandoffer en op die hout. En hy sê: Doen dit vir die tweede maal. En hulle het dit vir die tweede maal gedoen. En hy sê: Doen dit vir die derde maal. En hulle het dit vir die derde maal gedoen, sodat die water rondom die altaar geloop het; en ook die sloot het hy vol water gemaak. En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elía nader gekom en gesê: HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat Ú hulle hart tot U laat terugkeer. Daarop het die vuur van die HERE neergeval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek. En toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê: Die HERE, Hy is God, die HERE, Hy is God! Maar Elía sê vir hulle: Gryp die profete van Baäl! Laat niemand van hulle vryraak nie! En hulle het hul gegryp; en Elía het hulle afgebring na die spruit Kison en hulle daar geslag.

1 KONINGS 18:1-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

Na 'n lang tyd, dit was omtrent drie jaar, het die woord van die Here tot Elia gekom en gesê: “Gaan na Agab toe. Moenie langer vir hom wegkruip nie. Ek wil dit weer in die land laat reën.” Elia het na Agab toe gegaan. Die swaar hongersnood het nog voortgeduur in Samaria. Agab het vir Obadja, die paleisopsigter, na hom toe laat kom. Obadja het die Here pligsgetrou gedien. Toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het, het Obadja honderd geneem en hulle vyftig-vyftig in grotte weggesteek en hulle van kos en water voorsien. Agab het vir Obadja gesê: “Kom ons trek deur die land, na elke fontein en spruit toe. Dalk kry ons gras om die perde en muile aan die lewe te hou. Dan hoef ons nie van hulle dood te maak nie.” Hulle het die land tussen hulle verdeel. Agab het alleen in een rigting gegaan, en Obadja alleen in 'n ander rigting. Terwyl Obadja onderweg was, kom Elia hom meteens tegemoet. Obadja het hom herken en voor hom op sy knieë geval en gesê: “Maar u is mos Elia!” Elia sê toe vir hom: “Ja, dit is ek! Gaan sê vir die koning: Elia is hier.” Maar Obadja sê: “Watter sonde het ek gedoen dat u my aan Agab uitlewer om my dood te maak? So seker as die Here u God leef, daar is geen nasie of koninkryk waar die koning u nie probeer opspoor het nie. As hulle sê: ‘Elia is nie hier nie,’ het die koning die koninkryk of die nasie met 'n eed laat bevestig dat hulle u nie kon kry nie. Nou sê u sommer: ‘Gaan sê vir die koning Elia is hier!’ As ek nou van u af sou weggaan, en die Gees van die Here neem u weg, sonder dat ek weet waarheen, en ek gaan vertel vir Agab ek het u gesien, maar hy kan u nie kry nie, dan maak hy my beslis dood. En dit terwyl ek die Here van my jeug af dien. Het hulle u nie vertel wat ek gedoen het toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het nie, dat ek honderd profete van die Here vyftig-vyftig in grotte weggesteek het en hulle van kos en water voorsien het? Nou stuur u my sommer om vir koning Agab te gaan sê Elia is hier. Hy sal my mos doodmaak.” Maar Elia sê vir Obadja: “So seker as die Here leef, die Almagtige in wie se diens ek staan, ek sal sorg dat Agab my vandag nog te sien kry.” Toe gaan Obadja na Agab toe en vertel hom, en Agab het na Elia toe gekom. Net toe Agab hom sien, sê Agab vir hom: “Is dit jy, jy wat die dood oor Israel bring?” Hy antwoord: “Dis nie ek wat die dood oor Israel bring nie, maar jy en jou familie. Julle het die gebooie van die Here verontagsaam en die Baäls gedien. Roep vir my die hele Israel bymekaar op Karmelberg. Die vier honderd en vyftig profete van Baäl en die vier honderd van Asjera wat van Isebel se tafel af eet, moet ook daar wees.” Toe stuur Agab die boodskap aan al die Israeliete; hy het ook die profete op Karmelberg laat bymekaarkom. Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.” Die volk het hom nie 'n woord geantwoord nie. Toe sê Elia vir die volk: “Ek alleen het oorgebly as profeet van die Here, maar daar is vier honderd en vyftig profete van Baäl. Bring nou vir ons twee bulle. Hulle kan vir hulle een bul kies en hom opsny en op die hout uitlê. Maar hulle moet dit nie aan die brand steek nie. Ek sal dieselfde doen met die ander bul. Ek sal hom op die hout uitlê, maar dit ook nie aan die brand steek nie. Dan moet julle tot julle god bid, en ek sal tot die Here bid. Hy wat met vuur antwoord, is God.” Die hele volk het geantwoord: “Dis goed so.” Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies 'n bul en maak julle hom eerste gereed, want julle is die meeste. Bid dan tot julle god. Maar julle mag nie die vuur aansteek nie.” Hulle neem toe die bul wat hy hulle laat kies het en maak hom gereed. Hulle bid toe tot Baäl en roep van die môre af tot die middag toe: “Baäl, antwoord ons!” Daar was nie 'n geluid van hom af nie. Niemand het geantwoord nie, hoe hulle ook al vir Baäl gedans het by die altaar wat hulle gemaak het. Teen die middag het Elia hulle begin spot: “Roep harder! Hy is mos 'n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!” Toe roep hulle nog harder; en soos altyd kerf hulle hulle stukkend met swaarde en spiese dat die bloed oor hulle loop. Tot die namiddag het hulle aangehou te kere gaan, en teen laatmiddag, die tyd vir die aandoffer, was daar nog geen geluid nie. Niemand het geantwoord nie, daar was geen reaksie nie. Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom staan hier by my,” en hulle het almal by hom gaan staan. Toe het hy die stukkende altaar van die Here weer reggemaak. Hy het twaalf klippe gevat, net soveel as die stamme van die nageslag van Jakob vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.” Met die klippe het hy die altaar van die Here reggemaak en 'n behoorlike sloot daar rondom gegrawe. Toe sit hy die hout reg, sny die bul stukkend en lê dit uit op die hout. Toe beveel hy: “Maak vier kruike vol water en gooi dit uit op die brandoffer en op die hout.” Daarna sê hy: “Doen dit weer,” en hulle het dit nog 'n keer gedoen. Toe sê hy: “Doen dit 'n derde keer,” en hulle het weer so gemaak. Toe stroom die water oor die hele altaar, en selfs die sloot rondom het vol geword. Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.” Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek. Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!” Hierop sê Elia vir hulle: “Gryp die profete van Baäl! Nie een van hulle mag wegkom nie.” Toe die volk hulle gegryp het, het Elia die profete laat afbring na Kisonspruit toe en daar het hy hulle doodgemaak.

1 KONINGS 18:1-40 Die Boodskap (DB)

Eers in die derde jaar van die droogte het die Here vir Elia gesê: “Gaan na Agab toe en sê vir hom dat Ek dit weer sal laat reën.” Elia is na Agab in Samaria toe, waar die hongersnood op sy ergste was. Agab het intussen sy paleishoof, Obadja, ontbied. Obadja was lief vir die Here. (Toe Isebel op ’n keer die Here se profete wreed vervolg het, het Obadja 100 van hulle versteek. Hy het hulle in twee groepe van 50 elk in spelonke weggesteek en elke dag vir hulle kos en water gestuur.) Agab het vir Obadja gesê hulle moet deur die hele land reis en by elke fontein en spruit vir ’n groenigheidjie gaan soek. As hulle genoeg kon kry, was dit nie nodig om al die perde en muile dood te maak nie. Hulle het toe die land in twee verdeel. Agab het in die een deel en Obadja in die ander deel gaan soek. Terwyl Obadja nog so ry, sien hy skielik ’n man in die verte. Toe hy naby kom, het hy die man herken, voor hom op sy knieë neergeval en gesê: “Meneer Elia, is dit werklik u?” “Ja, dit is ek,” het Elia gesê. “Gaan sê vir Agab ek is terug.” “Wat het ek gedoen om dit te verdien?” het Obadja gesê. “Agab sal my in die tronk stop en my doodmaak as ek dit vir hom sê. Die Here weet dat ek die waarheid praat. Agab soek oral na u. Daar is nie ’n land of volk waar hy nie gesoek het nie. Elke koning moes sweer dat hy u nie êrens wegsteek nie. En nou sê u ek moet vir die koning gaan sê u is hier. Sê nou ek gaan, en net as ek my rug draai, neem die Gees van die Here u weg na wie weet waar! Wat dan? As ek vir Agab sê u wag hier, maar as hy kom, is u weg, maak hy my op die plek dood. Nee, meneer Elia, ek doen dit nie. Ek het ook die Here lief en dien Hom van my kleintyd af, maar dit doen ek nie. Miskien weet u dit nie, maar toe Isebel destyds die Here se profete vermoor het, het ek 100 van hulle in twee groepe van 50 elk in ’n spelonk weggesteek. Elke dag het ek vir hulle brood en water laat kry. En nou kom vra u my nog om vir die koning te gaan sê u is hier. Hy maak my met sy eie hande dood! Nee, Meneer!” “Ek belowe jou in die Naam van die magtige Here wat ek dien dat ek net hier vir Agab sal wag,” het Elia gesê. Obadja is daar weg en het vir Agab gaan sê waar Elia is. Agab is onmiddellik na Elia toe. Toe Agab hom sien, het hy vir Elia gesê: “Ja, jou onrusstoker. Al wat jy in Israel doen, is om moeilikheid te maak.” “Dit is nie ek wat al die ellende in Israel veroorsaak het nie, U Majesteit, maar u en u pa,” het Elia gesê. “Dit is u wat die Here verlaat en Baäl aanbid het. Gebruik nou u gesag en laat die hele Israel saam met my op die berg Karmel bymekaarkom. Bring ook die 450 profete van Baäl saam, asook die 400 profete van Asjera vir wie Isebel kos en klere gee.” Agab het toe die hele Israel en al die Baälprofete beveel om saam op Karmel bymekaar te kom. Toe almal daar bymekaar was, het Elia vir hulle gesê: “Wanneer gaan julle besluit vir wie julle wil dien? As die Here die ware God is, volg Hom. Maar as julle Baäl as julle god wil dien, doen dit dan. Maak net vandag ’n keuse.” Die volk het doodstil gesit en nie ’n woord gesê nie. “Ek is die enigste profeet van die Here wat vandag hier is terwyl hier 450 Baälprofete teenwoordig is,” het Elia gesê. “Bring nou vir ons twee bulle. Laat die Baälprofete vir hulle ’n bul uitsoek, dit in stukke sny en op die hout sit. Moet net nie dat hulle die vuur aansteek nie. Ek sal die ander bul vat, dit slag en op die hout sit. Ek sal dit ook nie self aansteek nie. Laat die Baälprofete dan vir Baäl vra om die vuur aan te steek en ek sal die Here vra. Wie die vuur aansteek, is die enigste ware God.” Die volk het hierdie voorstel van Elia aanvaar. Elia het toe vir die Baälprofete gesê: “Julle is die meeste; daarom moet julle eerste begin. Kies vir julle ’n bul, slag dit en sit dit op die hout. Moet dit nie self aansteek nie, maar vra julle god om dit te doen.” Die Baälprofete het ’n bul gekies, dit geslag en op die hout neergesit. Toe het hulle tot Baäl begin bid. Hulle het van die oggend tot die middag gebid. Hulle het aanmekaar gesê: “Baäl, antwoord ons,” maar net mooi niks het gebeur nie. Uit radeloosheid het die Baälprofete om die altaar begin dans wat hulle gemaak het. Teen die middag se kant het Elia met die profete van Baäl begin spot. “Roep ’n bietjie harder,” het hy gesê. “Probeer weer, want hy is dalk in gedagte of besig. Of miskien is hy weg, of iewers op reis. Wie weet, dalk slaap julle god net, dan moet julle hom wakker maak.” Die Baälprofete het nog harder begin bid. Toe dit nie werk nie, het die profete hulleself met skerp swaarde en messe begin stukkend sny sodat hulle vol bloed was, soos hulle gewoonte was. Hulle het dit gedoen om hulle god se aandag te probeer trek. Laat daardie middag het die profete met alles wat hulle gehad het, begin skree en smeek. Niks het egter gebeur nie. Hulle het aangehou skree en raas totdat dit tyd was vir die aandoffer in Jerusalem. Toe het Elia vir hulle gesê: “Kom, staan nader.” Almal het om Elia gaan staan. Hy het die altaar van die Here, wat die Baälprofete beskadig het, eers gou herstel. Hy het twaalf groterige klippe gevat en dit opmekaargestapel. Die twaalf klippe moes die mense aan die twaalf stamme herinner, asook aan Jakob, wie se naam na Israel verander is. Met die stene het Elia die altaar van die Here herbou. Hy het ook ’n diep watersloot om die altaar gegrawe. Hy het toe die hout netjies op die altaar reggesit, die bul geslag en die stukke op die hout neergesit. Toe sê Elia: “Vat nou vier groot kruike en maak dit vol water. Gooi dan alles oor die bul en die hout uit.” Hulle het so gemaak. Nadat hulle al die water oor die bul en die hout uitgegooi het, het Elia gesê hulle moet dit weer doen. Hulle het weer water gaan haal en dit oor alles omgekeer. Elia was nog nie tevrede nie en hulle moes nog ’n keer water gaan haal. Naderhand het die water van die altaar af gestroom. Die sloot om die altaar was later vol water. Teen die tyd dat die aandoffer gebring moes word, het Elia by die altaar gaan staan en gebid. “Here,” het hy gesê, “U is die God van Abraham, Isak en Jakob. Laat almal vandag besef dat U die God van Israel is en dat ek aan U behoort en dat ek al hierdie dinge doen omdat U gesê het ek moet. Antwoord my vandag, Here, op so ’n manier dat hierdie volk sal besef U is die ware God en dat hulle na U moet terugkeer.” Skielik het die Here ’n vuur uit die hemel gestuur. Dit was so kragtig dat dit die bul, die hout en die stene heeltemal verwoes het. Dit het ook die aarde verskroei en selfs die water in die sloot in ’n oogwink laat opdroog. Toe die mense dit sien, het hulle op die grond neergeval en hard uitgeroep: “Die Here is die enigste ware God! Die Here is die enigste ware God!” Toe sê Elia vir die mense: “Gryp die Baälprofete. Moenie dat een wegkom nie.” Elia het hulle toe na die Kisonrivier geneem en gesorg dat hulle almal doodgemaak word.

1 KONINGS 18:1-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Na ’n lang tyd, tydens die derde jaar van droogte, sê die HERE vir Elia: “Gaan na koning Agab toe en sê vir hom Ek sal dit binnekort laat reën.” Elia het na Agab toe gegaan. Intussen het die hongersnood in Samaria toegeneem. Agab het vir Obadja die paleisopsigter laat kom. Obadja was ’n toegewyde volgeling van die HERE. Toe Isebel die profete van die HERE doodgemaak het, het Obadja 100 van hulle in grotte versteek, 50 in elke grot. Daar het hy hulle van kos en water voorsien. Agab het vir Obadja gesê: “Ons moet deur die hele land gaan en na elke fontein en spruit gaan kyk of ons nie êrens weiding vir minstens sommige van my perde en muile kan kry nie. Dan sal dit nie nodig wees om hulle dood te maak nie.” Hulle het toe die land tussen hulle twee verdeel. Agab het in een rigting gegaan en Obadja in ’n ander rigting. Obadja was nog op pad en dáár kom Elia hom tegemoet! Obadja het hom dadelik herken en voor hom neergebuig. “Is dit dan nie my heer Elia nie?” vra hy. “Ja, ek is Elia,” antwoord hy. “Gaan sê vir die koning ek is hier.” “Maar, Meneer,” maak Obadja beswaar. “Watter kwaad het ek dan gedoen dat u my na Agab, na my dood toe stuur? So seker as die HERE u God leef, die koning het by elke nasie en koninkryk op aarde na u laat soek. Elke keer as hy hoor ‘Elia is nie hier nie,’ het Agab die koning van daardie volk met ’n eed laat bevestig dat dit inderdaad so is. En nou sê u vir my: ‘Gaan sê vir die koning Elia is hier!’ Dit kan wees dat as ek van u weggaan die Gees van die HERE u dalk kan wegvoer na wie weet waar. As ek dan vir Agab vertel ek het u gesien, maar hy kry u nie, sal hy my doodmaak. En dit ten spyte daarvan dat ek my lewe lank ’n getroue volgeling van die HERE is! Het niemand vir u vertel van die keer toe Isebel die profete van die HERE doodgemaak het nie? Ek het toe 100 van hulle in twee groepe van 50 in elkeen van twee grotte weggesteek en hulle van kos en water voorsien. En nou sê u vir my: ‘Gaan en sê vir die koning Elia is hier!’ Hy sal my mos doodmaak!” Maar Elia antwoord hom: “So seker as die HERE, die Almagtige, leef, in wie se diens ek staan, Agab sal my sekerlik vandag nog sien.” Obadja het toe gegaan en vir Agab vertel dat Elia gekom het. Agab het toe vir Elia gaan ontmoet. “Is dit jy, jou moeilikheidmaker in Israel?” vra Agab toe hy hom sien. “Ek het geen moeilikheid vir Israel gemaak nie,” antwoord Elia. “Jy en jou familie is die moeilikheidmakers, want julle het nie die gebooie van die HERE gehoorsaam nie en eerder die Baäls aanbid. Maar laat die volk van Israel op Karmelberg bymekaarkom. Ook die 450 profete van Baäl en die 400 profete van Asjera wat Isebel onderhou, moet daar wees.” Agab het toe die hele volk en die profete op Karmelberg bymekaar laat kom. Elia het voor hulle gaan staan en gesê: “Hoe lank gaan julle nog weier om kant te kies? As die HERE God is, volg Hom! Maar as dit Baäl is, volg hóm!” Die volk het egter niks geantwoord nie. Toe sê Elia vir die volk: “Ek is die enigste profeet van die HERE wat nog oor is, terwyl daar 450 profete van Baäl is. Bring nou twee bulle. Die profete van Baäl kan een kies, hom in stukke opsny en bo-op die hout op die altaar neersit. Hulle moet dit egter nie aan die brand steek nie. Ek sal die ander bul opsny en bo-op die hout op die altaar neersit. Ek sal dit ook nie aan die brand steek nie. Dan moet julle julle god aanroep en ek sal die HERE aanroep. Die een wat met vuur antwoord, is die ware God!” Die hele volk het met hierdie reëling saamgestem. Elia sê toe vir die profete van Baäl: “Kies julle nou ’n bul en kry dit gereed, want daar is baie van julle. Roep dan julle god aan, maar moenie die vuur aan die brand steek nie.” Hulle het een van die bulle gekies en gereed gekry. Toe roep hulle Baäl aan. Hulle het die hele oggend geroep: “O Baäl, antwoord ons!” Daar was egter geen reaksie nie en niemand het geantwoord nie. Hulle het selfs al om die altaar wat hulle gemaak het, gedans. Teen die middag het Elia hulle begin spot. “Julle moet nog harder roep,” spot hy. “Hy is mos ’n god! Dalk is hy ingedagte, of dalk het hy ’n draaitjie gaan loop. Miskien is hy weg op reis, of slaap hy en moet wakker gemaak word!” Hulle het toe al harder geroep en – soos hulle gebruik was – hulleself met messe en swaarde stukkend gesny totdat die bloed geloop het. Hulle het die hele namiddag so aangehou totdat die tyd vir die aandoffer aangebreek het. Maar steeds was daar geen geluid nie, geen antwoord nie, niemand wat gereageer het nie. Toe roep Elia die volk: “Kom nader!” Hulle het almal rondom hom kom staan terwyl hy die altaar van die HERE wat afgebreek was, herstel het. Hy het twaalf klippe gevat, een vir elke stam van die nageslag van Jakob vir wie die HERE gesê het: “Jou naam sal Israel wees.” Hy het die klippe gebruik om die vervalle altaar van die HERE reg te maak. Daarna grawe hy ’n sloot rondom die altaar. Dit was groot genoeg om ongeveer vyftien liter te hou. Hy het hout op die altaar gesit, die bul in stukke gesny en dit op die hout neergelê. Toe beveel hy: “Vat vier groot waterkruike, maak hulle vol water en gooi dit uit oor die offer en die hout.” Nadat hulle dit gedoen het, sê hy: “Doen dit weer!” Hulle maak toe so, maar hy sê: “Doen dit ’n derde keer!” Hulle het weer gemaak soos hy gesê het. Die water het oor die altaar gestroom en selfs die sloot rondom vol water gemaak. Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia na die altaar toe gegaan en gebid: “HERE, God van Abraham, Isak en Israel, wys tog vandag dat U God is in Israel en dat ek u dienaar is wat alles op u bevel gedoen het. HERE, antwoord my! Antwoord my sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is en dat dit U is wat hulle weer na U toe laat omdraai.” Onmiddellik het daar vuur van die HERE gekom en die offer verbrand, asook die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgedroog! Toe die volk dit sien, val hulle op die grond en roep uit: “Die HERE is God! Die HERE is God!” Elia beveel hulle toe: “Gryp die profete van Baäl. Moenie dat ’n enkele een van hulle wegkom nie!” Die volk het hulle gegryp en Elia het hulle na die Kisonspruit laat afneem. Hy het hulle daar doodgemaak.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid