1 KONINGS 12:21-24
1 KONINGS 12:21-24 Bybel vir almal (ABA)
Rehabeam het na Jerusalem gekom en hy het al die manne van die Juda-stam en die Benjamin-stam bymekaargeroep. Hulle was 180 000 soldate wat hy spesiaal gekies het. Rehabeam seun van Salomo wou oorlog maak teen die mense van Israel, hy wou probeer om die land terug te kry. Maar God het vir Semaja, 'n man van God, gesê: “Jy moet praat met Rehabeam seun van Salomo, koning van Juda, en met die hele Juda-stam en die Benjamin-stam en die ander mense. Jy moet vir hulle sê: Die Here sê: Julle moenie gaan oorlog maak teen julle broers, die mense van Israel, nie. Julle moet teruggaan, elkeen na sy huis, want dit is Ek wat alles laat gebeur het.” Hulle het geluister na die boodskap van die Here en hulle het teruggegaan soos Hy gesê het.
1 KONINGS 12:21-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe Rehábeam in Jerusalem kom, het hy die hele huis van Juda en die stam van Benjamin, honderd-en-tagtigduisend strydbare jong manskappe, vergader om oorlog te voer teen die huis van Israel, om die koningskap vir Rehábeam, die seun van Salomo, terug te win. Maar die woord van God het tot Semája, die man van God, gekom en gesê: Spreek met Rehábeam, die seun van Salomo, die koning van Juda, en met die hele huis van Juda en Benjamin en die orige deel van die volk en sê: So spreek die HERE: Julle mag nie optrek en teen julle broers, die kinders van Israel, oorlog voer nie; julle moet omdraai, elkeen na sy huis; want van My het hierdie saak gekom. Hulle het toe geluister na die woord van die HERE en weer teruggetrek volgens die woord van die HERE.
1 KONINGS 12:21-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dadelik nadat Rehabeam in Jerusalem terug was, het hy honderd en tagtig duisend uitgesoekte manne uit die stamme Juda en Benjamin opgeroep om teen Israel te veg en die koningskap vir hom terug te wen. Maar die woord van God het tot Semaja, die man van God, gekom en gesê: “Sê vir koning Rehabeam van Juda, seun van Salomo, en vir die hele Juda en Benjamin, en vir die res van die volk: So sê die Here: Moenie optrek en teen die Israeliete, julle broers, veg nie. Gaan terug elkeen na sy huis toe, want wat gebeur het, kom van My af!” Hulle het geluister na die woorde van die Here en teruggegaan huis toe soos Hy beveel het.
1 KONINGS 12:21-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Rehabeam in Jerusalem aankom, roep hy die hele huis van Juda en die stam van Benjamin byeen – honderd-en-tagtigduisend uitgesoektes wat kan oorlog maak – om teen die huis van Israel te veg en die koningskap vir Rehabeam, seun van Salomo, terug te kry. Maar die woord van God het tot Semaja, die man van God, gekom: “Sê vir Rehabeam, seun van Salomo, die koning van Juda, en vir die hele huis van Juda en Benjamin, asook die res van die volk, ‘So sê die HERE: “Julle mag nie optrek nie, en julle mag nie teen julle broers, die Israeliete, veg nie. Keer terug, elkeen na sy huis, want wat gebeur het, is deur my toedoen. ” ’ ” Hulle het die woord van die HERE gehoorsaam en teruggegaan volgens die woord van die HERE.
1 KONINGS 12:21-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Rehábeam in Jerusalem aangekom het, het hy die hele huis van Juda, met die stam van Benjamin, honderd en tagtig duisend uitverkore manne, wat krygsmanne was, bymekaar laat kom om te veg teen die huis van Israel, om die koningskap terug te bring na Rehábeam, die seun van Salomo. Maar die woord van God het tot Semája, die man van God, gekom en gesê: Spreek met Rehabeam, die seun van Salomo, die koning van Juda, en met die hele huis van Juda en Benjamin en met die oorblyfsel van die volk, en sê: So sê die HERE: Julle mag nie optrek en nie teen julle broers, die kinders van Israel, veg nie; keer terug, elkeen na sy huis; want hierdie ding is van my. Hulle het dan na die woord van die HERE geluister en teruggegaan om weg te gaan, volgens die woord van die HERE.
1 KONINGS 12:21-24 Die Boodskap (DB)
Rehabeam was woedend. Hy wou sy verlore koninkryk met alle geweld herwin. Terug in Jerusalem het hy 180 000 jong soldate uit die stamme Juda en Benjamin opgeroep. Maar die Here het vir die profeet Semaja gesê: “Gaan na Rehabeam, die seun van Salomo en die koning van Juda, en na die twee stamme Juda en Benjamin toe en sê vir hulle: ‘Moenie teen julle broers in die noorde gaan veg nie. Gaan liewer terug, want alles het volgens my wil gebeur.’” Al die manskappe het net daar omgedraai en teruggegaan huis toe.
1 KONINGS 12:21-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Rehabeam in Jerusalem terugkom, het hy die leër van Juda en Benjamin opgeroep. Daar was 180 000 uitgesoekte soldate wat teen die leër van Israel kon optrek om die koningskap vir hom terug te wen. Maar God het vir Semaja, die man van God, beveel: “Gaan sê vir Rehabeam, die koning van Juda, seun van Salomo, en vir die hele Juda en Benjamin en die res van die volk: ‘Dis wat die HERE sê: Moenie teen jou bloedverwante, die Israeliete, gaan veg nie. Gaan terug huis toe, want wat gebeur het, kom van My af.’” Hulle het die boodskap van die HERE gehoorsaam en terug huis toe gegaan soos die HERE beveel het.