1 KORINTIËRS 3:1-9

1 KORINTIËRS 3:1-9 Die Boodskap (DB)

My vriende, ek kon nie met julle praat soos met mense wat die geestelike dinge van God verstaan en so leef nie. Ek moes sowaar met julle praat soos met mense wat glad nie bekommerd is oor wat God wil hê nie. Julle het net aan julleself gedink. Julle was net soos mense wat so pas Christene geword het en nog nie mooi weet wat Jesus van julle verwag nie. Geestelik was julle soos pap babatjies. Soos ’n pap babatjie net melk kan inkry, het julle net kans gesien vir die heel eenvoudigste geestelike boodskappe. Enigiets meer ingewikkeld was vir julle te veel. En nog steeds gaan dit so met julle, want julle stel net belang in julleself en julle menslike behoeftes. Kyk net na julle. Julle baklei soos kat en hond en gun mekaar niks nie. Bewys dit nie juis dat julle net aan julleself dink nie? Tree julle nie op soos mense wat eerder hulle eie belange as God se belange kies nie? Is dit nie presies wat julle prakties bewys as die een sê: “Ek dink Paulus is die beste dominee,” en die ander een weer: “Nee, ek dink Apollos is beter” nie? Wie is Apollos nou miskien dat hy so besonders is? Of Paulus, dat die gemeente so oor hulle moet stry? Hulle is maar net werkers van God wat julle gehelp het om Jesus te leer ken. Die Here het vir elkeen sy spesiale werk gegee. Dit is maar al wat hulle doen. Ek het die saad van die evangelie in julle hart geplant en Apollos het dit nat gehou, maar dit was God wat gesorg het dat daardie saad groei. Wie dink julle is nou eintlik die belangrikste van hierdie drie? Natuurlik God wat daardie saad lewe gee en dit laat groei. Die een wat die saad plant en die een wat dit nat hou, werk saam soos in een span. Daar is nie ’n verskil in die belangrikheid van wat hulle doen nie. Buitendien is God - en nie ons nie - die Een wat sal sorg dat elkeen van hulle die dank sal kry wat hulle verdien. Ek en Apollos is maar net mense wat die voorreg het om God te help. En julle is die mense wat God vir ons gegee het om te help.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid