1 KORINTIËRS 15:22-26
1 KORINTIËRS 15:22-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Almal van ons sterf omdat ons almal aan Adam, die eerste mens, verbonde is. Net so sal almal wat aan Christus, die ander mens, verbonde is, weer lewendig gemaak word. Maar daar is ’n bepaalde volgorde hieraan verbonde: Christus was die eerste Een; daarna, wanneer Christus terugkom, sal al sy mense opgewek word. Vervolgens sal die einde kom wanneer Jesus die koningsheerskappy aan God die Vader sal teruggee nadat Hy elke vyandige mag wat daar kan wees, onderwerp het. Want Christus moet aan bewind bly totdat Hy alle vyande finaal verslaan en aan Hom onderdanig gemaak het. Die laaste van hierdie vyande wat vernietig moet word, is die dood.
1 KORINTIËRS 15:22-26 Bybel vir almal (ABA)
Ons is almal die nageslag van Adam, daarom sterf ons almal. Maar ons behoort ook aan Christus, en daarom sal God ons ook almal weer laat lewe. Elkeen kry 'n beurt. Christus is die Eerste, God het vir Christus weer laat lewe. Later, wanneer Christus weer kom, sal die mense wat aan Hom behoort, ook weer begin lewe. Daarna sal die einde kom. Die einde is wanneer Christus alles waaroor Hy regeer, vir God die Vader gee, en wanneer Christus almal en alles sal oorwin wat oor die wêreld wil regeer. Want Christus moet regeer. Hy sal regeer totdat God Hom laat wen het teen al sy vyande. Die laaste vyand wat oorbly, is die dood. Maar Christus sal die dood ook oorwin.
1 KORINTIËRS 15:22-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.
1 KORINTIËRS 15:22-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. Maar daar is 'n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het. Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.
1 KORINTIËRS 15:22-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want soos almal deur Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen volgens 'n bepaalde orde: as eersteling Christus, daarna, met sy koms, hulle wat aan Christus behoort. Dan kom die einde, wanneer Hy die koningsheerskappy aan God, die Vader, sal oorgee, wanneer Hy alle heerskappy en gesag en mag vernietig het. Want Christus moet as koning regeer totdat “Hy al die vyande onder sy voete gestel het”. Die laaste vyand wat vernietig moet word, is die dood.
1 KORINTIËRS 15:22-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want soos almal in Adam sterwe, so sal almal ook in Christus lewend gemaak word. Maar elkeen in sy eie orde: Christus die eersteling; daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Dan kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God, die Vader, oorgegee het; wanneer hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig sal word, is die dood.
1 KORINTIËRS 15:22-26 Die Boodskap (DB)
Omdat ons mense soos Adam is, het die dood deel van ons elkeen se bestaan geword, net soos dit deel van sy bestaan was. Net so, deur Christus se mense te wees sal elkeen lewendig gemaak word soos Hy. Elkeen sal sy beurt kry. Christus het eerste opgestaan en so die pad vir ons ander oopgemaak. Wanneer Christus weer kom, sal al die mense wat aan Hom behoort ook opstaan. Dan sal die einde daar wees. Christus sal daarvoor sorg dat nie ’n enkele vyand van God oorbly nie. Hy sal met die laaste een klaarspeel. Dan sal Hy alle oë finaal op God, sy Vader, rig sodat hulle Hom as die groot Koning kan dien. Christus moet egter nog as Koning heers tot tyd en wyl Hy elke vyand van God op sy plek gesit het. Nie een vyand sal wegkom nie; ook die dood se mag sal heeltemal gebreek word.