NUMERI 35:9-34

NUMERI 35:9-34 AFR83

Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle deur die Jordaan na Kanaän toe trek, moet julle stede aanwys wat asielstede vir julle kan wees waarheen 'n persoon kan vlug wat onopsetlik die dood van 'n ander veroorsaak het. Dit moet vir julle plekke wees waar julle veilig is teen die wraak van 'n bloedverwant van die oorledene, sodat iemand wat 'n ander se dood veroorsaak het, nie hoef te sterf voordat hy sy saak voor die bevoegde vergadering gelê het nie. Die ses stede wat julle gee, sal vir julle asielstede wees. Julle moet drie asielstede oos van die Jordaan en drie in Kanaän beskikbaar stel. Die ses stede moet plekke van asiel wees vir Israeliete sowel as vir vreemdelinge en ander uitlanders tussen julle, sodat elkeen wat onopsetlik die dood van 'n ander veroorsaak het, daarheen kan vlug. “As iemand 'n ander met 'n stuk yster slaan, sodat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word. As iemand in sy hand 'n klip het wat groot genoeg is om 'n mens mee dood te maak, en hy slaan 'n ander daarmee dat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word. As iemand in sy hand 'n stuk hout het wat groot genoeg is om 'n mens mee dood te maak, en hy slaan 'n ander dat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word. 'n Bloedverwant van die oorledene moet die dood wreek en die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry. As iemand 'n ander uit haat stamp of hom doelbewus met iets gooi, sodat hy sterf of hom uit vyandskap met die vuis slaan, sodat hy sterf, moet so iemand doodgemaak word; hy is 'n moordenaar. 'n Bloedverwant van die oorledene moet die dood wreek en die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry. “Maar as iemand sonder opset en sonder vyandskap 'n ander stamp of hom per ongeluk raakgooi of as iemand sonder dat hy kyk 'n klip gooi wat die dood kan veroorsaak, en dit 'n ander tref, sodat hy sterf, en hy wat gegooi het, het dit nie uit vyandskap of met verkeerde bedoelings gedoen nie, moet die bevoegde vergadering volgens hierdie bepalings uitspraak lewer tussen hom wat die dood veroorsaak het en die bloedverwant wat die dood wil wreek. Die vergadering moet die beskuldigde bevry uit die mag van die bloedverwant en hom terugstuur na die asielstad toe waarheen hy gevlug het. Dáár moet hy bly totdat die hoëpriester, die man wat met gewyde olie gesalf is, gesterf het. Maar as die een wat die dood veroorsaak het, hom waag buite die gebied van die asielstad waarheen hy gevlug het, en die bloedverwant wat die dood wil wreek, loop hom raak, mag die bloedverwant hom doodmaak sonder om skuldig te wees aan moord. Die man wat die dood veroorsaak het, moet in die asielstad bly tot die dood van die hoëpriester, en eers ná die dood van die hoëpriester kan hy na sy eie grond toe teruggaan. “Dit is 'n vaste voorskrif vir julle en vir julle nageslag, waar julle ook al mag woon. Enigeen wat die dood van 'n ander veroorsaak, mag slegs as moordenaar doodgemaak word op grond van die getuienis van meer as een persoon. Een getuie is nie genoeg om iemand met die dood te straf nie. Julle mag nie loskoopgeld aanneem vir die lewe van 'n moordenaar wat die dood skuldig is nie. Hy moet beslis doodgemaak word. Julle mag ook nie loskoopgeld aanneem vir iemand wat na sy asielstad toe gevlug het en voor die dood van die hoëpriester na sy grond toe teruggekeer het nie. Julle mag die land waarin julle woon, nie onrein maak nie, want bloedvergieting verontreinig die land en daar kan alleen deur die dood van hom wat die bloed vergiet het, versoening gedoen word vir die land waarin die bloed vergiet is. Julle moenie die land waarin julle bly en waar Ek teenwoordig is, onrein maak nie, want Ek, die Here, is teenwoordig by die Israeliete.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid