MARKUS 5:1-20

MARKUS 5:1-20 AFR83

Daarna het hulle oorkant die see in die land van die Geraseners aangekom. Net toe Jesus uit die skuit klim, het daar van die grafte af 'n man met 'n onrein gees Hom tegemoet gekom. Die man het tussen die grafte gebly. Niemand kon hom selfs met 'n ketting vasbind nie, want hulle het hom al dikwels met voet- en handboeie vasgemaak, maar dan ruk hy die handboeie uitmekaar en skop die voetboeie stukkend. Niemand kon hom baasraak nie. Hy was dag en nag aan die skreeu tussen die grafte en in die berge, en dan kap hy homself met klippe. Hy het Jesus al van ver af gesien en nader gehardloop. Hy het voor Hom neergeval en hard geskreeu: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U: In Gods Naam, moet my nie pynig nie!” want Jesus het vir hom gesê: “Onrein gees, gaan uit die man uit!” Hy het hom toe gevra: “Wat is jou naam?” “My naam is Legio,” antwoord hy Hom, “want ons is baie.” Die man het Hom toe ernstig gesoebat om hulle nie uit die landstreek uit weg te stuur nie. Daar naby teen die berg het 'n groot trop varke geloop. Die onrein geeste het Hom toe gesmeek: “Stuur ons na die varke toe, sodat ons in hulle kan invaar!” Hy het hulle dit toegelaat, en hulle het uitgegaan en in die varke ingevaar. Die hele trop van omtrent twee duisend het op loop gesit teen die hang af, die see in, en hulle het versuip. Hulle wagters het weggehardloop en dit in die dorp en op die plase gaan vertel. Die mense het kom kyk wat daar gebeur het. Toe hulle by Jesus kom en die besetene in wie die baie bose geeste was, daar sien sit met sy klere aan en by sy volle verstand, het hulle groot geskrik. Dié wat alles gesien het, het vir hulle vertel wat met die besetene gebeur het, en ook van die varke. Hulle het toe by Jesus daarop aangedring om uit hulle gebied uit weg te gaan. Toe Jesus in die skuit klim, het die man wat van die duiwel besete was, by Hom daarop aangedring om saam met Hom te gaan. Jesus het hom dit egter nie toegelaat nie maar vir hom gesê: “Gaan na jou huis, na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het en dat Hy jou jammer gekry het.” Hy het toe gegaan en deur die hele Dekapolis begin bekend maak wat Jesus alles vir hom gedoen het. Almal was verbaas daaroor.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid