MATTEUS 27:45-55

MATTEUS 27:45-55 AFR83

Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? Party van dié wat daar gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Hy roep vir Elia.” Een van hulle hardloop toe gou, vat 'n spons en maak dit vol suur wyn en hou dit op 'n stok vir Hom om te drink. Maar die ander sê: “Wag, laat ons kyk of Elia hom kom red.” Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het. Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.” Daar was ook baie vroue wat op 'n afstand gestaan en kyk het. Dit is hulle wat vir Jesus van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid