JOHANNES 6:1-15

JOHANNES 6:1-15 AFR83

Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea toe gegaan, wat ook die See van Tiberias genoem word. 'n Groot klomp mense het agter Hom aan gekom omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het. Jesus het toe teen die berg opgegaan en met sy dissipels daar gaan sit. Die paasfees van die Jode was naby. Toe Jesus rondkyk en sien dat 'n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?” Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen. Filippus antwoord Hom toe: “Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle 'n stukkie brood te laat kry nie.” 'n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom: “Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.” Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê. Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.” Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het. Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid