JOHANNES 11:1-45

JOHANNES 11:1-45 AFR83

'n Man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die dorp waar Maria en haar suster Marta gewoon het. Maria was die vrou wat met reukolie die Here gesalf en sy voete met haar hare afgedroog het. Dit was haar broer Lasarus wat siek was. Die susters het iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, hy vir wie U lief is, is siek.” Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.” Jesus het vir Marta en haar suster en Lasarus liefgehad. Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. Eers daarna het Hy vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan terug na Judea toe.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen?” Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf uur in 'n dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat hy nie die lig het nie.” Hierna het Hy vir hulle gesê: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.” Jesus het van Lasarus se dood gepraat, maar hulle het gedink Hy praat van die gewone slaap. Toe sê Jesus vir hulle reguit: “Lasarus is dood, en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.” Tomas, wat ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.” Toe Jesus daar kom, het Hy gevind dat Lasarus al vier dae in die graf was. Betanië was naby Jerusalem, omtrent drie kilometer; en baie van die Jode het na Marta en Maria toe gekom om hulle oor hulle broer te troos. Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaan; maar Maria het in die huis bly sit. Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.” Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.” Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.” Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” “Ja, Here,” sê sy vir Hom, “ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” Nadat sy dit gesê het, het sy haar suster Maria gaan roep en saggies vir haar gesê: “Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou.” Toe sy dit hoor, het sy gou opgestaan en na Hom toe gegaan. Jesus het nog nie in die dorp aangekom nie, maar was nog op die plek waar Marta Hom ontmoet het. Toe die Jode wat by Maria in die huis was en haar vertroos het, sien dat sy vinnig opstaan en uitgaan, het hulle agter haar aangegaan omdat hulle gedink het sy gaan na die graf toe om daar te huil. Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete gekniel en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.” Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?” Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.” Jesus het gehuil. Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!” Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?” Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was 'n rotsgraf, en daar was 'n klip voor die ingang gerol. Jesus sê toe: “Rol die klip weg.” Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?” Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.” Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met 'n harde stem: “Lasarus, kom uit!” Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met 'n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.” Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid