GENESIS 11

11
Die toring van Babel
1Die hele wêreld het net een taal gepraat. 2Toe die mense ooswaarts getrek het, het hulle uitgekom by 'n vlakte in Sinar en daar gaan woon. 3Hulle het op 'n keer vir mekaar gesê: “Kom ons maak stene en ons brand hulle hard.”
Hulle het toe stene in plaas van klip gebruik en asfalt in plaas van klei.
4Toe sê hulle: “Kom ons bou vir ons 'n stad met 'n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en ons maak so vir ons 'n naam. Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie.”
5Die Here het afgekom om te kyk na die stad en die toring wat die mense vir hulle gebou het, 6en toe sê Hy: “Hier is hulle een volk en almal het een taal. Hulle het nog maar net begin om iets te doen. Hierna sal niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik wees nie. 7Kom laat Ons afgaan en verwarring bring in hulle taal, sodat die een nie die ander verstaan nie.”
8Die Here het hulle toe van daar af verstrooi oor die hele aarde, en hulle het opgehou met die bou van die stad. 9Daarom het hulle die stad Babel genoem, want daar het die Here in die taal van die aarde verwarring gebring, en van daar af het Hy die mense oor die hele aarde verstrooi.
Die nageslag van Sem
(Vgl. Gen. 10:22-29)
10Hier volg die familieregister van Sem. Toe Sem 100 was, het hy die vader geword van Arpaksad, twee jaar na die oorstroming. 11Sem het na die geboorte van Arpaksad nog 500 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 12Toe Arpaksad 35 was, het hy die vader geword van Selag. 13Arpaksad het na die geboorte van Selag nog 403 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 14Toe Selag 30 was, het hy die vader geword van Heber. 15Selag het na die geboorte van Heber nog 403 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 16Toe Heber 34 was, het hy die vader geword van Peleg. 17Heber het na die geboorte van Peleg nog 430 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 18Toe Peleg 30 was, het hy die vader geword van Reü. 19Peleg het na die geboorte van Reü nog 209 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 20Toe Reü 32 was, het hy die vader geword van Serug. 21Reü het na die geboorte van Serug nog 207 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 22Toe Serug 30 was, het hy die vader geword van Nahor. 23Serug het na die geboorte van Nahor nog 200 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 24Toe Nahor 29 was, het hy die vader geword van Tera. 25Nahor het na die geboorte van Tera nog 119 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 26Toe Tera 70 was, het hy die vader geword van Abram, Nahor en Haran.
27Hier volg die familiegeskiedenis van Tera. Tera het die vader geword van Abram, Nahor en Haran, en Haran het die vader geword van Lot. 28Haran het in Ur van die Galdeërs, sy geboorteland, gesterf toe sy vader Tera nog geleef het. 29Abram het getrou en Nahor ook: Abram se vrou se naam was Sarai en dié van Nahor se vrou was Milka, 'n dogter van Haran wat nie net die vader van Milka was nie, maar ook van Jiska. 30Sarai was onvrugbaar; sy het nie kinders gehad nie.
31Tera het sy seun Abram geneem en ook sy kleinseun Lot seun van Haran, en sy skoondogter Sarai die vrou van sy seun Abram, en saam met hulle uit Ur van die Galdeërs weggetrek om na Kanaän toe te gaan. Maar hulle het net tot by Haran getrek en in dié stad gaan woon. 32Tera was twee honderd en vyf jaar oud toe hy in Haran gesterf het.

Tans Gekies:

GENESIS 11: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid