1 KRONIEKE 28

28
Dawid se laaste opdrag oor die bou van die tempel
1Dawid het al die gesagsdraers van Israel laat bymekaarkom in Jerusalem: dié wat gesag gehad het oor die stamme, oor die afdelings in diens van die koning, oor duisend, oor honderd, oor al die koninklike besittings en vee, en verder sy seuns saam met die hoofbeamptes, die helde en al die manne van betekenis.
2Toe het koning Dawid opgestaan en gesê: “My broers, my volk, luister na my! Ek was van gedagte om 'n gebou op te rig as staanplek vir die verbondsark van die Here en as rusplek vir die voete van ons God. Ek het reeds voorbereidings vir die bouwerk getref, 3maar God het vir my gesê: ‘Jy sal nie vir my Naam 'n huis bou nie, want jy is 'n man van baie oorloë en jy het baie bloed vergiet.’
4“Die Here die God van Israel het my bo my hele familie verkies om my lewe lank koning oor Israel te wees. Hy het Juda gekies as leidende stam, uit die huis van Juda my familie, en Hy het onder my vader se seuns aan my die voorkeur gegee om oor die hele Israel te regeer. 5Uit al my seuns, want die Here het my baie seuns gegee, het Hy my seun Salomo gekies om te sit op die troon van waar die Here self oor Israel regeer. 6Hy het vir my gesê: ‘Jou seun Salomo sal vir My die tempel met sy voorhowe bou, want Ek het hom vir My as seun gekies, en Ek sal vir hom 'n vader wees. 7As hy volhou om my gebooie en bepalings na te kom soos nou, sal Ek sy koningskap sy lewe lank bevestig.’
8“Daarom gebied ek, Dawid, julle nou in teenwoordigheid van die hele Israel, die gemeente van die Here, en ten aanhore van ons God: Onderhou en ondersoek al die gebooie van die Here julle God, dat julle die goeie land kan bly besit en dit as 'n blywende erfenis aan julle kinders na julle kan nalaat. 9En jy, Salomo, my seun, jy moet die God van jou vader ken en Hom dien met jou hele hart en met 'n gewillige gemoed, want die Here ondersoek alle harte en ken die bedoeling van elke gedagte. As jy na Hom vra, sal Hy Hom deur jou laat vind, maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verwerp. 10Besef nou dat die Here jou gekies het om 'n gebou as heiligdom op te rig. Pak nou die werk aan en doen dit!”
11Dawid het sy seun Salomo voorsien van 'n model van die voorportaal met die geboue wat daarby behoort: die voorraadkamers, soldervertrekke, binnevertrekke en die vertrek waarin die versoendeksel sou kom. 12Dit was 'n model van alles wat hy hom voorgestel het: van die voorhowe van die huis van die Here en van al die kamers rondom vir die tempelskatte en die wydingsgeskenke, 13vir die afdelings priesters en Leviete, vir al die werk verbonde aan die diens in die huis van die Here en vir al die gereedskap wat nodig was vir dié diens. 14Dawid het Salomo ook ingelig oor die presiese hoeveelheid goud wat nodig sou wees vir al die gereedskap vir elke soort diens, die presiese hoeveelheid vir al die silwergereedskap, oor al die gereedskap vir elke besondere werk, 15oor die presiese hoeveelheid vir die goue kandelaars met hulle goue lampe, die hoeveelheid wat nodig sou wees vir elke kandelaar met sy lampe, oor die silwerkandelaars, die presiese hoeveelheid vir 'n kandelaar met sy lampe al na gelang die funksie van die kandelaar, 16oor die hoeveelheid goud vir elkeen van die tafels met die offerbrood, die silwer vir die silwertafels, 17oor die vurke, komme en kanne van suiwer goud, oor die hoeveelheid vir elke goue beker en elke silwerbeker, 18oor die hoeveelheid gesuiwerde goud vir die wierookaltaar en oor die vorm van die rytuig, die gerubs van goud wat hulle vlerke moes uitsprei om die verbondsark van die Here te bedek. 19Dit alles, die hele uitvoering van die werk, het Dawid deur 'n openbaring van God te wete gekom en hy het dit op skrif gestel.
20Dawid het vir sy seun Salomo gesê: “Wees sterk, staan vas, begin die werk! Moenie bang wees nie en moenie besorg wees nie, want God die Here, my God, is by jou. Hy sal jou nie aan jouself oorlaat of jou verlaat nie, sodat jy al die werk vir die diens in sy huis kan afhandel. 21Die afdelings priesters en Leviete is gereed vir die volledige tempeldiens, en daar is vakmanne tot jou beskikking wat bedrewe is in al die soorte werk vir elke diens, terwyl die amptenare en die hele volk op jou bevele wag.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid