Markus 9:2-8

Markus 9:2-8 DB

Ses dae het verbygegaan. Jesus vat toe vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom teen ’n hoë berg uit. Niemand anders was saam met hulle nie. Skielik, voor die oë van die drie mans, het Jesus heeltemal anders begin lyk. Sy klere het geskitter en geblink soos g’n mens dit ooit kan laat skitter of blink nie. Plotseling verskyn die ou Godsmanne, Elia en Moses, ook daar voor hulle en begin met Jesus praat. Petrus haak toe af en sê: “Here, dit is so lekker om hier te wees. Laat ons sommer drie huisies hier bou, een vir U en een elk vir Moses en Elia.” Petrus het eintlik net gebabbel, want hy was heeltemal verbouereerd. Hy het nie geweet wat om te sê nie, want hy was bang. Die skaduwee van ’n groot wolk val toe op hulle. Iemand praat toe uit die wolk: “Dit is die Seun wat Ek liefhet. Luister na Hom.” Met die knip van ’n oog was alles en almal weg. Hulle het rondgekyk, maar nog net vir Jesus by hulle sien staan.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid