Markus 11:15-19

Markus 11:15-19 DB

In Jerusalem is Jesus dadelik tempel toe. Langs die tempelgebou was daar ’n groot plein. Daar was ’n muur om sodat dit as deel van die tempel beskou is. Daar was ’n hele bedrywigheid soos die mense diere gekoop en verkoop het wat nodig was vir die offers in die tempel. Daar en dan het Jesus al die besigheidsmense begin uitjaag. Daar was ook mense wat geld geruil het. Daar kon jy jou geld omruil vir die regte geld wat vir die tempelbelasting nodig was. Jesus het al hulle tafels omgekeer en die stoele van die duiweverkopers omgestamp. As iemand nog iets deur die plein wou dra om te gaan verkoop, het Jesus hom voorgekeer en uitgejaag. Jesus verduidelik toe vir hulle wat aangaan: “Staan daar nie in die Skrif nie: ‘Die bedoeling is dat al die mense in die wye wêreld My moet kom aanbid hier waar Ek woon’? Julle het dit egter die bymekaarkomplek van diewe en skelms gemaak.” Die Joodse godsdienstige leiers het daarvan gehoor. Hulle het toe planne begin beraam om Jesus uit die weg te ruim. Hulle was bang dat Jesus te gewild sou begin word, want hulle het geweet dat die mense baie beïndruk was met wat Jesus alles vir hulle vertel het. Toe dit begin donker word, is Jesus-hulle weer uit Jerusalem uit weg.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid