Matteus 27:45-55

Matteus 27:45-55 DB

Skielik word alles oor daardie hele gebied donker. Tussen twaalfuur en drie-uur was dit donker. Teen drie-uur skreeu Jesus hard: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” oftewel: “My God, my God, waarom het U My alleen gelaat?” Van die omstanders het Hom gehoor en gesê: “Hy roep Elia!” Een van hulle gaan haal ’n spons met suur wyn en gee dit vir Hom op ’n stok. “Wag so ’n bietjie,” sê ’n ander, “laat ons kyk of Elia hom nie dalk sal kom afhaal nie.” Al wat egter gebeur het, was dat Jesus hard geskreeu het en toe dood is. Net toe het die gordyn wat die vertrekke in die tempel verdeel het, middeldeur geskeur van bo na onder. Die aarde het gebewe en rotse het verkrummel. Grafte het oopgegaan en baie gelowige mense wat reeds begrawe was, het uit die grafte gekom. Hulle is Jerusalem in. Daar het baie mense hulle gesien. Die offisier en die ander soldate wat daar by die kruis diens gedoen het, het hierdie aardbewing en al die ander dinge wat gebeur het, staan en bekyk. Dit het hulle baie bang gemaak. “Hy was sowaar die Seun van God,” het hulle gestamel. Heelwat vroue het op ’n afstand gestaan en kyk. Hulle het Hom van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid