Lukas 2:41-52

Lukas 2:41-52 DB

Elke jaar het Jesus se ouers Jerusalem toe gegaan om die paasfees te vier. Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle oudergewoonte weer soontoe gegaan. Toe die fees verby was, het hulle teruggekeer na Nasaret. Jesus het egter in die tempel agtergebly, maar sy ouers het dit nie agtergekom nie. Hulle het gedink dat Hy by ander familielede en vriende was wat ook op pad terug was. Eers nadat hulle ’n dag lank op die pad was, het Jesus se pa en ma na Hom begin soek. Maar hulle kon Hom nêrens tussen hulle familie en vriende kry nie. Uiteindelik moes hulle toe terugdraai Jerusalem toe om Hom daar te gaan soek. Na ’n lang soektog van drie dae het Josef en Maria vir Jesus in die tempel opgespoor. Hy het daar tussen die skrifkenners gesit. Hy het aandagtig na hulle geluister en allerhande vrae aan hulle gevra. Almal van hulle was verstom oor sy groot insig in die Bybel. Toe Maria en Josef vir Jesus daar sien, was hulle baie omgekrap. Maria het dadelik vir Hom gesê: “Hoe kon jy so iets aan ons doen? Ons is al dood van bekommernis oor jou. Dae lank soek ons oral na jou!” Maar Jesus het geantwoord: “Waarom het u na My gesoek? U weet mos dat Ek in die huis van my Vader moet wees.” Josef en Maria het egter nie mooi verstaan wat Jesus vir hulle sê nie. Daarna het Jesus saam met sy pa en ma na Nasaret toe teruggegaan. Sy ma het alles wat gebeur het in haar binneste weggebêre en gereeld daaraan teruggedink. Jesus het vinnig grootgeword. Almal het gesien dat Hy groot insig in God se Woord het. God was vol vreugde oor Hom. Die mense ook.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 2:41-52

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid