Levitikus 10:1-7

Levitikus 10:1-7 DB

Aäron se twee seuns, Nadab en Abihu, het elkeen ’n houer gevat waarin vuur rondgedra word en warm kole daarin gesit. Hulle het geurige wierook wat fyngemaal was, oor die kole gestrooi en dit toe vir die Here geoffer. Dit was egter ’n offer wat in die vuur verbrand word wat nie volgens die aanwysings was wat die Here vir hulle voorgeskryf het nie. Daar het toe ’n vuur van die Here self af gekom en hulle daar voor die Here doodgebrand. Moses sê toe vir Aäron: “Dit is wat die Here bedoel het toe Hy gesê het: Hulle wat vir My offer, moet onthou hoe geweldig groot Ek is. Die hele volk moet My met groot respek behandel.” Aäron het nie daarop geantwoord nie. Moses het toe vir Misael en Elisafan, die twee seuns van Aäron se oom Ussiël, laat kom. Hy het vir hulle gesê: “Gaan haal julle neefs se lyke daar by die tent en vat dit weg na ’n plek buite die kamp.” Hulle het toe gegaan en die mans se lyke wat nog in hulle spesiale klere vir hulle dienswerk was, uit die kamp uit weggevat soos Moses gevra het hulle moet doen. Moses het toe vir Aäron en sy twee seuns Eleasar en Itamar gesê: “Julle moenie treur en julle hare los laat hang en julle klere skeur nie. Julle is aan die Here se diens toegewy en Hy kan julle ook laat doodgaan as julle so maak. Hy kan selfs in woede uitbars oor almal in die kamp. Al die ander Israeliete moet egter treur oor die vuur wat die Here laat losbreek het. Julle mag ook nie weggaan van die ingang van die tent van ontmoeting af nie, want julle sal miskien doodgaan. Julle is tog die Here se dienaars wat vir Hom afgesonder is.” Hulle het toe gemaak soos Moses gesê het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid