Genesis 41:1-32

Genesis 41:1-32 DB

Twee lang jare het verbygegaan, maar niks het gebeur nie. En toe, een aand, het die farao ’n droom gehad. Hy het gedroom hy staan langs die Nyl. Skielik kom daar sewe koeie uit die water. Hulle was mooi en rond van die vet, en het van die groen gras aan die oewer begin vreet. Na ’n ruk het sewe ander koeie uit die water gekom. Hulle was maer en lelik, en het tussen die ander koeie op die Nyloewer gewei. En die lelike, maer koeie het die sewe vet koeie opgevreet. Toe het die farao wakker geskrik. Hy het weer aan die slaap geraak en nog ’n droom gehad. Sewe mooi, vol koringare het aan een stingel opgeskiet. ’n Entjie verder het sewe ander koringare opgeskiet. Hulle was dun en is deur die warm oostewind verskroei. En die sewe dun are het die sewe vol are opgeëet. Toe het die farao weer wakker geword en besef dit was net ’n droom. Die volgende oggend was die farao baie onrustig. Hy het al Egipte se geleerde en wyse manne bymekaargeroep en vir hulle van sy drome vertel. Niemand kon egter sy drome verklaar nie. Toe het die hoofskinker van Josef onthou. “Ek wil u vandag van iemand vertel,” het hy gesê. “Op ’n keer was die koning vir my en die hoofbakker kwaad en het ons albei in die tronk gestop. “Een aand het ek en die hoofbakker elkeen ’n droom gehad. Twee aparte drome met twee aparte betekenisse. Saam met ons in die tronk was daar ’n jong Hebreër. Hy het die hoof van die tronkbewaarders met allerlei takies gehelp. Toe ons hom van die drome vertel, het hy dit sommerso uitgelê. Elkeen se droom het hy vir hom uitgelê. En presies soos hy gesê het, het dit toe gebeur. Ek het weer my ou pos teruggekry, maar die bakker is opgehang.” Die farao het onmiddellik mense gestuur om Josef te gaan haal. Hulle het hom haastig uit die donker tronk geruk, sy hare geskeer, nuwe klere vir hom aangetrek en hom na die farao toe gevat. Die farao het kortaf vir Josef gesê: “Ek het twee drome gehad, maar niemand kan my sê wat dit beteken nie. En toe hoor ek by die hoofskinker dat jy drome kan uitlê die oomblik wat jy dit hoor.” “Eintlik is dit nie ek nie, Meneer,” het Josef gesê, “maar God wat u drome kan uitlê.” Die farao het toe dadelik sy drome aan Josef vertel: “In my droom het ek net hier anderkant op die Nyloewer gestaan. Skielik klim daar sewe koeie, mooi en vet, uit die Nyl en begin van die gras op die oewer te vreet. Net agter hulle kom daar toe sewe ander koeie uit. Maer, uitgeteer en net vel en been. Nog nooit het ek sulke misvormde koeie in Egipte gesien nie. En daar vreet hierdie sewe maer koeie die sewe mooi koeie op. ’n Snaakse ding gebeur toe. Nadat die sewe koeie die ander opgevreet het, was hulle nog net so maer en uitgeteer soos vroeër. Toe het ek wakker geword. “In my ander droom het ek sewe mooi, vol koringare gesien wat aan een stingel opskiet. Agter hulle het sewe ander koringare opgeskiet. Dor, dun en deur die warm oostewind verdroog. En daar vreet die dun are toe die vol are op. Ek het albei drome vir die towenaars vertel, maar hulle kon dit nie uitlê nie.” Josef het toe vir die farao gesê: “Albei drome het dieselfde betekenis. Deur die drome wou God u vertel wat Hy in Egipte gaan doen. “Die sewe vet koeie dui op sewe jaar. So ook die sewe vol are. Albei beteken dieselfde ding. Die sewe maer en uitgeteerde koeie sowel as die sewe dor en droë are vertel van sewe jaar van hongersnood. “Dis net soos ek vir die koning sê: dit is wat God vir die farao deur hierdie drome wil vertel. “Daar is ook nog iets anders. Die sewe jaar wat binnekort begin, is jare van groot oorvloed vir die hele Egipte. Daarna volg sewe slegte jare. Oral sal daar hongersnood wees en die mense sal die goeie jare gou vergeet. Dag vir dag sal die land deur hongersnood verwoes word en van die goeie jare sal niks oorbly nie, so verskriklik sal hierdie hongersnood wees. “U het twee keer dieselfde ding gedroom omdat God u wil verseker dat alles wel so gaan gebeur. En boonop sal dit alles gou gebeur.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid