LUKAS 20:9-19

LUKAS 20:9-19 AFR53

TOE begin Hy aan die volk hierdie gelykenis te vertel: 'n Sekere man het 'n wingerd geplant en dit aan landbouers verhuur en vir 'n geruime tyd op reis gegaan. En op die regte tyd het hy 'n dienskneg na die landbouers gestuur, dat hulle hom van die vrug van die wingerd sou gee. Maar die landbouers het hom geslaan en met leë hande weggestuur. En hy het weer 'n ander dienskneg gestuur, en hulle het hom ook geslaan en skandelik behandel en met leë hande weggestuur. En hy het weer 'n derde gestuur, en hulle het ook hierdie een gewond en uitgedryf. Toe sê die eienaar van die wingerd: Wat sal ek doen? Ek sal my geliefde seun stuur; miskien sal hulle ontsag hê as hulle hom sien. Maar toe die landbouers hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer en gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak, sodat die erfdeel ons s'n kan wees. En hulle het hom uit die wingerd gewerp en hom doodgemaak. Wat sal die eienaar van die wingerd dan aan hulle doen? Hy sal kom en daardie landbouers ombring en die wingerd aan ander gee. En toe hulle dit hoor, sê hulle: Nee, stellig nie! Maar Hy het hulle aangekyk en gesê: Wat beteken dan hierdie Skrifwoord: die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword? Elkeen wat op dié steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel. TOE probeer die owerpriesters en die skrifgeleerdes in daardie selfde uur om die hande aan Hom te slaan, maar hulle het die volk gevrees; want hulle het geweet dat Hy hierdie gelykenis met die oog op hulle self uitgespreek het.

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 20:9-19

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid