Matteus 28:1-15

Matteus 28:1-15 ABA

Die Sabbatdag was verby. Toe dit die Sondag-oggend begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk. Skielik was daar 'n groot aardbewing, want 'n engel van die Here het afgekom uit die hemel. Hy het na die graf gegaan, die klip weggerol en op die klip gaan sit. Hy het geblink soos weerlig en sy klere was so wit soos sneeu. Die soldate wat die graf opgepas het, het groot geskrik. Hulle het gebewe en hulle het geword soos mense wat dood is. Die engel sê toe vir die vroue: “Julle moenie bang wees nie. Ek weet julle soek vir Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy lewe weer. Hy het gesê dit sal gebeur. Kom kyk, hier is die plek waar Hy gelê het. Gaan gou en sê vir sy dissipels Hy lewe weer. Dit is wat sal gebeur: Jesus gaan voor julle na Galilea, en julle moet ook gaan. Julle sal Hom daar sien. Dit is wat ek vir julle moes kom sê.” Die vroue het gou weggegaan van die graf. Hulle was bang en baie bly en hulle het gehardloop om dit vir die dissipels te vertel. Skielik het Jesus daar voor hulle gestaan en Hy het vir hulle gesê: “Ek groet julle!” Die vroue kom toe na Jesus toe. Hulle het aan sy voete geraak en Hom aanbid. Jesus het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my vriende dat hulle na Galilea moet gaan. Hulle sal My daar sien.” Die vroue het gegaan om te doen wat Jesus gesê het. Party van die soldate wat die graf opgepas het, het toe ook na Jerusalem gegaan. Hulle het vir die priesterleiers gaan vertel wat alles by die graf gebeur het. Die priesterleiers en die familieleiers het toe bymekaargekom en hulle het planne gemaak. Hulle het baie geld vir die soldate gegee en vir hulle gesê: “Julle moet vir die mense sê: ‘Jesus se dissipels het in die nag sy liggaam kom steel terwyl ons geslaap het.’ As die goewerneur dit hoor, dan sal ons vir hom sê julle is onskuldig. Julle moenie bekommerd wees nie.” Die soldate het toe die geld gevat en hulle het gedoen wat die Joodse leiers vir hulle gesê het. Die Jode vertel tot vandag toe nog hierdie storie wat die soldate oral vertel het.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Matteus 28:1-15

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid