Matteus 27:45-55

Matteus 27:45-55 ABA

Omtrent twaalfuur die middag het dit donker geword in die hele land en dit was donker tot drie-uur. Omtrent drie-uur het Jesus baie hard geroep: “Eli, Eli, lema sabagtani?” Dit beteken “ My God, my God, hoekom het U My gelos?” Party van die mense wat daar gestaan het, het dit gehoor en hulle het gesê: “Hierdie man roep vir Elia!” Een van hulle het dadelik gehardloop en 'n spons geneem en hy het dit vol suur wyn gemaak. Hy het dit op 'n dik riet gesit en vir Jesus probeer gee sodat Hy dit kon drink. Maar die ander mense het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia kom om hom te red.” Jesus het weer hard geskree en Hy het gesterf. Die gordyn in die tempel het van bo tot onder geskeur. Dit was toe twee stukke. God het die aarde laat bewe en Hy het die rotse laat oopskeur. God het ook die grafte laat oopgaan en Hy het baie gelowiges wat gesterf het, weer laat lewe, en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Nadat Jesus weer begin lewe het, het hulle in Jerusalem, die gewyde stad, ingegaan, en baie mense het hulle gesien. Die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus opgepas het, het die aardbewing gesien en alles wat gebeur het. Hulle was toe baie bang en hulle het gesê: “Hierdie man was regtig die Seun van God!” Daar was baie vroue wat 'n bietjie verder gestaan en kyk het. Hulle het van Galilea saam met Jesus gekom om vir Hom te sorg.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid