Matteus 26:14-25

Matteus 26:14-25 ABA

Een van die twaalf dissipels se naam was Judas Iskariot. Hy het na die priesterleiers toe gegaan en gevra: “Wat sal julle vir my gee as ek julle help om Jesus te vang?” Die priesterleiers het toe vir Judas 30 silwer geldstukke betaal. Van toe af het hy 'n plan probeer maak en hy het gewag vir die regte tyd om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, het Jesus se dissipels na Hom toe gekom en vir Hom gevra: “Waar wil U hê moet ons gaan gereedmaak sodat U die Paas-ete kan eet?” Jesus het gesê hulle moet in Jerusalem na 'n man toe gaan en vir hom sê: “Ons Meneer sê: ‘My tyd is naby. Ek en my dissipels wil die Paas-ete in jou huis eet.’ ” Die dissipels het gedoen wat Jesus vir hulle gesê het en hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete. Toe dit aand geword het, het Jesus saam met die twaalf dissipels by die tafel gesit en hulle was besig om te eet. Toe sê Jesus: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Een van julle sal My verraai.” Die dissipels was baie geskok en hartseer. Elke dissipel begin toe om vir Jesus te vra: “Here, is dit ek?” Jesus het vir hulle gesê: “Die een wat sy brood saam met My in die sous druk, daardie een sal My verraai. Ek, die Seun van die mens, sal sterf soos die profete oor My geskryf het. Maar daardie man wat My verraai, sal baie swaar kry. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Judas, die een wat vir Jesus verraai het, vra toe vir Jesus: “Meneer, is dit ek?” Jesus sê toe vir hom: “Jy sê dit self.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Matteus 26:14-25

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid