Matteus 22:1-14

Matteus 22:1-14 ABA

Jesus het weer vir die mense gelykenisse vertel. Hy het gesê: “Waar God wat in die hemel is, Koning is, is dit soos wanneer 'n koning 'n fees-ete gehou het vir sy seun wat getrou het. Hy het mense na die troue genooi, en hy het sy slawe gestuur om die mense te gaan roep om te kom. Maar die mense wou nie kom nie. Die koning het ander slawe gestuur en vir hulle gesê: ‘Sê vir die mense wat ek genooi het: Alles is nou gereed vir my fees-ete. Ek het beeste en vet kalwers laat slag, en alles is gereed. Kom na die fees-ete.’ Maar die mense wat genooi was, wou nie kom nie, hulle het weggegaan. Een man het na sy stuk grond gegaan, en 'n ander man na sy besigheid. Ander mense het sy slawe gegryp, hulle het slegte dinge gedoen aan sy slawe en hulle het die slawe doodgemaak. Die koning het toe kwaad geword, en hy het sy soldate gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad te verbrand. Die koning sê toe vir sy slawe: ‘Alles is gereed vir die fees-ete, maar die mense wat ek genooi het, was nie die regte mense om na die fees te kom nie. Gaan nou na die plekke waar die hoofpaaie uit die stad uitgaan en nooi almal wat julle sien om te kom na die fees-ete.’ Die slawe het toe uitgegaan op die paaie en hulle het almal bymekaargemaak wat hulle gesien het, slegte mense en goeie mense. Die saal vir die fees-ete het vol geword van die mense wat kom eet het. Toe die koning in die saal ingaan om die mense te groet, sien hy daar is iemand wat nie fees-klere aan het nie. Die koning het vir hom gesê: ‘My vriend, hoe het jy hier ingekom? Jy dra nie die regte klere vir 'n fees nie.’ Maar die man kon nie sê hoekom hy nie die regte klere aangetrek het nie. Toe sê die koning vir sy slawe: ‘Bind sy hande en voete vas en gooi hom in die donker plek. Daar sal die mense huil en hard op hulle tande byt van die pyn.’ Want God nooi baie mense, maar Hy kies net 'n paar mense.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid