Lukas 20:9-19

Lukas 20:9-19 ABA

Toe begin Jesus vir die mense hierdie gelykenis vertel. Hy het gesê: “'n Man het 'n klomp wingerdstokke op sy grond geplant. Daarna het hy gesê ander mense mag die wingerd huur. Toe het hy 'n lang tyd weggegaan. Toe dit tyd was om die druiwe te pluk, het hy 'n slaaf na die mense toe gestuur sodat hulle vir die eienaar die druiwe kan gee wat hy moet kry. Maar die mense het die slaaf geslaan en hom weggejaag. Hulle het vir hom niks gegee nie. Die eienaar van die wingerd het nog 'n slaaf na hulle toe gestuur. Die mense het hom ook geslaan en hulle het slegte dinge gedoen aan hom. Hulle het hom weggejaag en vir hom niks gegee nie. Die eienaar van die wingerd het toe 'n derde slaaf gestuur. Maar die mense het hierdie slaaf ook seergemaak en hom weggejaag. Toe het die eienaar van die wingerd gesê: ‘Wat moet ek nou doen? Ek is baie lief vir my seun, ek sal hóm na hulle toe stuur. Hulle sal miskien my seun respekteer.’ Toe die mense die eienaar se seun sien, het hulle vir mekaar gesê: ‘Hierdie seun sal eendag al die eienaar se goed kry. Kom ons maak hom dood, dan vat ons alles vir onsself.’ Hulle het die eienaar se seun uit die wingerd gejaag en hulle het hom doodgemaak. Wat dink julle, wat sal die eienaar van die wingerd met die mense doen? Hy sal kom en hy sal daardie mense doodmaak. Hy sal die wingerd vir ander mense gee.” Toe sê die mense: “Nee, dit sal nooit gebeur nie! Hierdie wingerd sal nooit aan ander mense behoort nie!” Jesus het ernstig na hulle gekyk en gesê: “Wat beteken hierdie woorde in die Psalms: “ Die klip wat die bouers nie wou gebruik nie, daardie klip het die belangrikste klip in die hele gebou geword. Elkeen wat oor daardie klip val, sal sy bene breek en sterf. En as daardie klip op iemand val, dan sal die klip so iemand doodval?” Die skrifgeleerdes en die priesterleiers het toe dadelik probeer om Jesus te laat vang en toe te sluit. Hulle het geweet Hy het die gelykenis vertel om te wys hulle is soos daardie mense. Maar hulle was bang vir die mense, daarom het hulle nie vir Jesus gevang nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 20:9-19

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid