Levitikus 10:1-7

Levitikus 10:1-7 ABA

Aäron se seuns Nadab en Abihu het hulle wierook-panne geneem. Elkeen het sy wierook-pan vol vuurkole gemaak en hy het wierook bo-op gesit, en toe het hulle dit na die altaar gebring. Maar die Here het nie gesê hulle moet daardie vuur gebruik nie. Daar het toe vuur van die altaar gekom en dit het die twee seuns van Aäron verbrand. Hulle het daar voor die Here gesterf. Moses het vir Aäron gesê: “Dit is wat die woorde van die Here beteken het toe hy gesê het: “Die mense wat vir My offers bring, moet weet dat Ek 'n heilige God is, die hele volk moet sien dat Ek die Koning is.” Aäron het stilgebly. Misael en Elsafan was die seuns van Aäron se broer Ussiël. Moses het hulle geroep en hy het vir hulle gesê: “Kom hier, dra julle neefs weg voor die tempel-tent, neem hulle uit na buite die kamp.” Misael en Elsafan het gekom en hulle het vir Nadab en Abihu uit die kamp gedra, soos Moses gesê het. Nadab en Abihu het nog hulle rokke aangehad. Daarna het Moses vir Aäron en sy ander seuns Eleasar en Itamar gesê: “Julle moenie julle hare deurmekaar laat bly en julle moenie julle klere skeur om te wys dat julle rou nie, want as julle dit doen, dan sal julle sterf, en die Here sal kwaad wees vir al die Israeliete. Die ander priesters en al die Israeliete mag huil omdat die Here vir Nadab en Abihu laat verbrand het. Julle mag ook nie weggaan van die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn nie, want die salf-olie van die Here is op julle.” Aäron en sy seuns het gedoen soos Moses gesê het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid