GENESIS 41:1-32

GENESIS 41:1-32 NLV

Twee jaar later het die farao gedroom hy staan langs die Nylrivier. Hy sien hoe sewe mooi vet koeie uit die water kom en in die gras begin wei. Toe kom daar sewe ander koeie uit die water uit, maar hulle was lelik en baie maer. Hulle het by die vet koeie gaan staan. Die maer, lelike koeie vreet toe die sewe mooi vettes op! Toe het die farao wakker geskrik. Hy het weer aan die slaap geraak en nog ’n keer gedroom. Hierdie keer sien hy sewe mooi vol are aan een stingel. Daarna kom daar nog sewe are uit wat verskroei is deur die oostewind. Die maer are sluk toe die sewe vet are in! Die farao het toe weer wakker geskrik en besef dit was ’n droom. Die volgende oggend het die farao hom bekommer oor wat die drome sou beteken. Hy roep toe al die waarsêers en wyse manne van Egipte en vertel hulle van sy drome. Maar niemand kon die drome uitlê nie. Toe sê die hoof van die skinkers vir die farao: “Vandag word ek herinner aan die oortreding wat ek begaan het. ’n Tyd gelede was u baie kwaad vir my en vir die hoof van die bakkers. U het ons toe in die tronk, in die huis van die hoof van die farao se lyfwag laat opsluit. Een nag het ek en die bakker elkeen ’n droom gehad, elkeen met sy eie betekenis. Ons het die drome vertel vir ’n Hebreeuse jong man wat in diens was van die hoof van Farao se lyfwag. Hy het dit vir ons uitgelê. Alles het net so gebeur soos hy gesê het: Ek is in my pos as hoofskinker herstel, en die hoof van die bakkers is opgehang.” Die farao het Josef dadelik laat roep. Hulle het hom haastig uit die tronk gehaal, hom geskeer en ander klere laat aantrek. Toe het hy voor die farao verskyn. “Ek het laas nag ’n droom gehad,” vertel die farao, “maar niemand kon dit vir my verklaar nie. Ek hoor jy kan drome uitlê.” “Nee, ek kan nie!” antwoord Josef. “Maar God kan die verklaring gee.” Die farao vertel toe wat hy gedroom het: “Ek het op die wal van die Nylrivier gestaan. Skielik kom daar sewe mooi vet koeie uit die water uit en begin tussen die riete wei. Maar toe kom daar ook sewe ander koeie uit die water uit. Hulle was baie maer en lelik – so lelik soos ek nog nooit in Egipte gesien het nie! Hierdie maer en lelike koeie het toe sowaar die sewe mooi vettes opgevreet! Nadat hulle die ander ingesluk het, kon ’n mens dit nie sien nie, want hulle het nog net so sleg gelyk soos vantevore. Toe skrik ek wakker. “Daarna het ek nog ’n droom gehad. Hierdie keer was daar sewe are aan een stingel. Hulle was almal mooi en vol. Maar toe spruit daar nog sewe are uit. Hulle was droog en verskrompeld deur die oostewind. Die verskrompelde are sluk toe die sewe mooi are in. Ek het dit vir my waarsêers vertel, maar nie een van hulle kon my sê wat dit beteken nie.” “Albei die drome beteken dieselfde ding,” sê Josef vir die farao. “God het vir u vertel wat Hy van plan is om te doen. Die sewe vet koeie is sewe jaar en die sewe vol are dui ook op sewe jaar. Dit is een en dieselfde droom. Die sewe maer en lelike koeie en die sewe droë en verskrompelde are dui op sewe jaar van hongersnood. Dit is wat ek bedoel het toe ek gesê het God maak aan die farao bekend wat Hy gaan doen. Die volgende sewe jaar sal ’n tyd van groot voorspoed in Egipte wees. Daarna sal daar egter sewe jaar van hongersnood aanbreek. Dit sal só erg wees dat mense die voorspoed sal vergeet. Die hongersnood sal ’n groot ramp oor die land bring. Die hongersnood sal so erg wees dat die jare van voorspoed nie onthou sal word nie. Die feit dat die droom herhaal is, beteken dat die saak by God vasstaan en dat Hy dit spoedig sal doen.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid