YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 66

66
Die mag van die Here sal geopenbaar word
1So sê die Here:
Die hemel is my troon
en die aarde die rusplek vir my voete.
Hoe moet die huis dan wees
wat julle vir My bou,
die plek waar Ek kan woon?
2Ek het alles gemaak
en so het alles ontstaan,
sê die Here.
Ek slaan ag op die mens in nood,
op dié een wat berou het oor sy sonde,
wat ontsag het vir my woord.
3Die mense offer bulle
maar hulle maak ook mense dood as offers,
hulle offer lammers
maar hulle breek ook honde se nekke as offers,
hulle bring graanoffers maar ook offers van varkbloed,
hulle offer wierook maar hulle prys ook afgode;
hulle het besluit om hulle eie kop te volg,
hulle is lief vir hulle afskuwelike afgodsoffers.
4Daarom besluit Ek dat hulle gestraf moet word
en bring Ek verskrikking oor hulle.
Toe Ek geroep het, het niemand geantwoord nie,
toe Ek gepraat het, het niemand geluister nie;
hulle het gedoen wat verkeerd is in my oë,
hulle het gekies vir wat My nie aanstaan nie.
5Hoor die woord van die Here,
julle wat ontsag het vir sy woord:
Julle broers deur wie julle gehaat word,
deur wie julle verstoot word ter wille van my Naam, sê:
“Laat die Here sy mag bewys,
dat ons kan sien waarom julle so bly is!”
Maar hulle sal ontnugter word:
6hoor die rumoer daar in die stad,
hoor daar in die tempel,
hoor hoe die Here sy vyande straf
oor hulle dade.
7Bring 'n vrou 'n kind in die wêreld
voordat sy geboortepyne het?
Kry sy 'n kind voordat die pyne haar oorval?
8Wie het al so iets gehoor?
Wie het dit al gesien?
Word 'n land op een dag gebore,
of word 'n nasie in een oomblik in die wêreld gebring?
Maar Sion het skaars geboortepyne gekry
of sy het haar kinders in die wêreld gebring.
9Sou Ek die moederskoot laat oopgaan
en nie 'n geboorte laat plaasvind nie?
vra die Here.
Of sou Ek wat geboortes laat plaasvind,
die moederskoot toesluit?
vra jou God.
10Wees bly saam met Jerusalem
en juig saam met haar,
almal wat haar liefhet.
Wees vrolik saam met haar,
almal wat oor haar getreur het.
11Julle sal aan haar drink
totdat julle genoeg het,
totdat julle veilig voel;
julle sal drink van die oorvloed wat sy het,
en dit geniet.
12So sê die Here:
Ek laat vrede na haar toe aankom soos 'n rivier,
Ek laat die rykdom van die nasies na haar toe stroom.
Julle sal aan haar drink,
aan haar bors gedra word
en op haar skoot getroetel word.
13Soos 'n moeder haar kind laat veilig voel,
so laat Ek julle veilig voel.
Julle sal veilig voel in Jerusalem.
14Julle sal dit beleef en julle sal bly wees;
julle sal nuwe lewe kry soos groen gras wat uitspruit.
So sal die mag van die Here geopenbaar word aan sy dienaars,
en sal Hy sy vyande straf.
15Die Here kom in vuur,
sy strydwaens is soos 'n stormwind.
Hy kom sy toorn koel,
Hy kom die straf voltrek met vuur.
16Die Here kom om al wat leef, te straf
met vuur en swaard,
Hy sal baie laat sterf.
17Die mense wat hulleself wy en reinig
om in 'n optog
na die tuine toe te gaan,
wat varkvleis eet en afskuwelike afgodsoffers en muise,
sal almal uitgeroei word,
sê die Here.
18Ek weet wat hulle doen en dink;
die tyd kom dat Ek al die nasies en al die taalgroepe
bymekaar gaan maak.
Hulle sal kom en hulle sal sien hoe magtig Ek is.
19Ek sal 'n teken onder hulle oprig
en Ek sal van dié van hulle wat die oordeel oorleef het,
uitstuur na ander nasies toe,
na Tarsis, na Pul, na Lud met sy bedrewe boogskutters,
na Tubal, na Griekeland,
en na die ver eilande toe
wat nie van my roem gehoor het nie
en nie my mag ervaar het nie.
So sal dié wat Ek gestuur het,
onder die nasies verkondig
hoe magtig Ek is.
20Hulle sal al julle volksgenote uit al die nasies
as 'n geskenk vir die Here saambring op perde, op waens,
op drastoele, op muile en op kamele.
Hulle sal hulle bring na my heilige berg toe,
na Jerusalem toe, sê die Here.
Hulle sal hulle bring soos die Israeliete die graanoffers
in rein skottels na die huis van die Here toe bring.
21Ek sal van hulle as priesters en Leviete aanstel,
sê die Here.
22Soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek gaan maak,
in my diens sal staan,
sê die Here,
so sal julle nageslag en julle roem in my diens staan.
23Elke nuwemaansfees en elke sabbat sal al wat leef, voor My in aanbidding kom buig,
sê die Here.
24Wanneer hulle uit die stad uitgaan,
sal hulle die lyke sien
van die mense wat hulle teen My verset het.
Die wurms wat aan hulle vreet, sal nie vrek nie,
en die vuur waarin hulle brand, sal nie geblus word nie;
hulle sal iets afgrysliks wees vir al wat leef.

Currently Selected:

JESAJA 66: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy