YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 1

1
Die tyd van sy optrede
1Die woorde van Jeremia. Hy was 'n seun van Gilkija en 'n priester uit Anatot in Benjamin.
2Die woord van die Here het tot hom gekom tydens die regering van koning Josia van Juda, seun van Amon. Dit was in die dertiende regeringsjaar van Josia. 3Daarna het die woord van die Here tot Jeremia gekom tydens die regering van koning Jojakim van Juda, seun van Josia, en telkens tot die einde van die elfde regeringsjaar van koning Sedekia van Juda, seun van Josia. In die vyfde maand van daardie jaar is die inwoners van Jerusalem in ballingskap weggevoer.
Jeremia word tot profeet geroep
4Die woord van die Here het tot my gekom:
5Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.
6“Ag, Here my God,” het ek geantwoord,
“ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk.”
7Toe sê die Here vir my:
Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie.
Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur,
en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê.
8Moenie vir hulle bang wees nie,
want Ek is by jou, Ek sal jou red.
Dit is wat die Here gesê het.
9Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak
en vir my gesê:
Ek het nou my woorde in jou mond gelê.
10Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig.
11Die woord van die Here het tot my gekom: Wat sien jy, Jeremia?
Ek het geantwoord: “Ek sien 'n amandeltak.”
12Die Here het geantwoord: Jy het reg gesien. Ek staan gereed om te doen wat Ek gesê het.
13Die woord van die Here het 'n tweede keer tot my gekom: Wat sien jy?
Ek het geantwoord: “Ek sien 'n kokende pot in die noorde en dit kantel oor hiernatoe.”
14Toe sê die Here vir my:
Van die noorde af gaan Ek 'n ramp stuur
oor almal wat in hierdie land woon.
15Ek gaan alle volke, alle koninkryke van die noorde af roep,
sê die Here.
Hulle konings sal elkeen sy troon kom oprig
voor die poorte van Jerusalem,
by die mure rondom die stad en by al die stede van Juda.
16Ek sal die mense van Juda straf vir al hulle sondes:
hulle het My verlaat, vir ander gode offers gebring
en voor hulle eie handewerk
in verering gebuig.
17Maak klaar, staan op, sê vir hulle alles wat Ek jou beveel. Moenie vir hulle skrik nie, want dan verpletter Ek jou voor hulle oë.
18Ek maak jou vandag 'n vestingstad, 'n ysterpilaar,
'n bronsmuur sodat jy staande kan bly teen die hele land, teen die koningshuis van Juda en al sy amptenare,
teen sy priesters en teen die bevolking.
19Hulle sal teen jou veg maar hulle sal jou nie oorweldig nie,
want Ek is by jou, sê die Here, Ek sal jou red.

Currently Selected:

JEREMIA 1: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy